Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Film geïnspireer deur die US gekies om vir internasionale toekenning mee te ding
Outeur: Lynne Moses
Gepubliseer: 16/10/2013

ʼn Film wat geïnspireer is deur ʼn projek wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) aangepak is om die vergete geskiedenis van die EOAN-operagroep vas te lê, is gekies as die enigste dokumentêr van die vasteland van Afrika om vir ʼn internasionale toekenning by vanjaar se Internasionale Dokumentêre Filmfees (IDFA) in Amsterdam mee te ding.

IDFA is "een van die wêreld se voorste feeste vir dokumentêre films" en is "toegewy tot die vertoning en bevordering van baanbreker- kreatiewe dokumentêre films".

An Inconsolable Memory, vervaardig deur filmmaker Aryan Kaganof, sal saam met ʼn aantal ander internasionale dokumentêre meeding vir die VPRO IDFA Toekenning vir die beste dokumentêr van speelprentlengte. Dit sal ook die eerste keer wees dat die dokumentêr internasionaal vertoon word.

"Ek is baie bly om die geleentheid te kry om hierdie dokumentêr aan ʼn internasionale gehoor te vertoon," sê Kaganof.

Die filmmaker is ook gekies, tesame met twee ander filmmakers van Afrika, om aan die World Documentary Exchange (WDE) deel te neem. Die WDE is ʼn bemarkingsprogram wat "ten doel het om filmmakers te ondersteun in hul soeke na verspreidingskanale vir hul film asook om hulle kennis van die dokumentêrmark te verbreed". Met hierdie geleentheid sal die filmmaker onder meer die kans kry om verkoopsagente en televisiekopers van die Europese markte te ontmoet.

Die EOAN-groep, wat in 1933 gestig is, het as ʼn kulturele organisasie vir sogenaamde kleurlinge van Distrik Ses gedien. Die organisasie het opera-, drama- en balletproduksies aangebied en het veral tussen die 1950's en 1970's bekend geword vir die operaproduksies wat dit in Suid-Afrika en oorsee aangebied het. Vandag is die groep in die Joseph Stone-teater in Athlone gebaseer.

"Die EOAN-groep was Suid-Afrika se eerste grondvlak-operageselskap. Dit het ʼn voorste rol in die ontwikkeling en uitvoering van opera in Suid-Afrika en in Kaapstad in die besonder gespeel. Die boek oor hulle geskiedenis, Eoan – Our Story, is die eerste om die groep se geskiedenis te vertel, en hierdie film vul nie net die geskrewe geskiedenis aan nie, maar bied ook ʼn unieke perspektief op die stories wat vir die boek versamel is," sê dr Hilde Roos en Wayne Muller, mede-redakteurs van die boek, wat in Januarie deur Fourthwall Books vrygestel is.

Die film se aanbieder was me Ruth Fourie, die weduwee van EOAN-bariton Lionel Fourie, en die produksiebestuurder was Roos, ʼn post-doktorale genoot van die Departement Musiek aan die US.

Die Universiteit is verbind tot die EOAN-groep via die Eoan Argief wat in die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) gehuisves word. 

Oor ʼn tydperk van vyf jaar is sowat 45 onderhoude met EOAN-lede en hul families gevoer en getranskribeer.

ʼn Komitee, wat uit lede van die US en EOAN bestaan het, was daarvoor verantwoordelik om deur al die inligting te sif en leiding te bied om die eindproduk te realiseer. Die lede was Roos, Muller, redakteur van die Universiteit se personeelkoerant Kampusnusnuus, Fourie, Santie De Jongh, ʼn argivaris by die DOMUS, prof Stephanus Muller, ʼn professor in die Departement Musiek aan die US en die hoof van DOMUS, prof Christine Lucia, ʼn vooraanstaande musiekkenner en buitengewone professor in musiek aan die US, mnr Ronnie Samaai, die broer van die EOAN-tenoor Gerald Samaai, en EOAN-bas Phillip Swales.

"Die EOAN-projek is die eerste van sy soort in Suid-Afrikaanse musiekstudie: die metodologie van mondelinge geskiedenis, die gemeenskapsgesentreerde besluitneming wat die boek onderlê, die samewerkende navorsing en die kreatiewe besinning oor daardie proses deur middel van dokumentêre film," sê Stephanus Muller.

Volgens Kaganof het hy toegelaat dat die verfilmde materiaal hom in die finale skeppingsproses lei.

"Die materiaal wat tydens die verfilming van onderhoude met die ouer lede van die EOAN-groep versamel is, was wat uiteindelik die dokumentêr gerig het. Ek wou die storie van die EOAN-groep vertel deur middel van die herinneringe van die lede wat hulle op kamera met ons gedeel het. Maar soos ons weet is herinneringe nie altyd samehangend nie, dit is dikwels dubbelsinnig, partykeer inkonsekwent en teenstrydig. Ek het probeer om daardie gevoel vas te vang deur die verskillende soorte filmmateriaal wat ek gebruik het (soos byvoorbeeld selfoonbeeldmateriaal)," verduidelik Kaganof.

Plaaslik is Kaganof se film baie goed ontvang; die Sunday Independent het dit "ʼn pragtige gedig aan die verlede" genoem en die Financial Mail het dit as ʼn "minnebrief van die hede aan die verlede" beskryf.

Foto-onderskrif: Hier is die komiteelede by die eerste privaat vertoning van filmmaker Aryan Kaganof se dokumentêr, An Inconsolable Memory​. Van links is mnr Phillip Swales, prof Stephanus Muller, prof Christine Lucia, me Santie de Jongh, mnr Ronnie Samaai, dr Hilde Roos, me Ruth Fourie en mnr Kaganof. (Hennie Rudmann, SSFD)