Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kenners versoek regering om voorkeur aan SA se leeskrisis te gee
Outeur: Corporate Communication and Marketing
Gepubliseer: 20/02/2023

Die meeste Suid-Afrikaanse leerlinge in skole wat nie skoolgeld vra nie, voltooi gr. 1 sonder dat hulle die alfabet onder die knie het, terwyl 82% van gr. 4-leerlinge oor die land heen nie met begrip kan lees nie.

Hierdie strak realiteit het die agtergrond gevorm van die byeenkoms in Februarie van die 2030 Leespaneel by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias) in Stellenbosch. Kenners het gewaarsku dat die toekoms maar droewig lyk sonder ʼn nasionale leesplan, ʼn begroting of akkurate verslagdoening.  

Die 2030 Leespaneel word gelei deur ʼn voormalige Adjunkpresident, Phumzile Mlambo-Ngcuka. Dit  is in 2022 tot stand gebring om vordering te meet met die doelwit wat in 2019 deur pres. Cyril Ramaphosa gestel is dat alle 10-jariges teen 2030 met begrip moet kan lees.    

Dr Mlambo-Ngcuka was die voorsitter van die onlangse konferensie van die Leespaneel in Stellenbosch. Die paneel bestaan uit 18 vooraanstaande Suid-Afrikaners en vergader jaarliks om vordering te bekyk en werkbare sistemiese aanbevelings aan die regering te doen. Die geleentheid is vanjaar deur meer as 100 verteenwoordigers van 60 organisasies uit die sakesektor, die burgerlike gemeenskap, die akademie en die onderwyssektor bygewoon.

ʼn Agtergrondverslag van prof Nic Spaull, ʼn onderwysekonoom van die Universiteit Stellenbosch (US) en die sekretaris van die Leespaneel, het nuwe navorsing ingesluit oor die leesuitkomste in die vroeë grade, asook belowende ingrypings, bestaande planne van die staat om lees in die vroeë grade te verbeter en aanbevelings vir die regering. Die verslag word gerugsteun deur agt adviserende verslae van kenners en fasiliteerders in die sektor.

Twee nuwe boeke waarvan Spaull die mede-redigeerder is, Early Grade Reading in South Africa en Early Grade Reading and Mathematics Interventions in South Africa, is by die konferensie bekend gestel. Die boeke maak deel uit van Oxford University Press se Open Access-publikasieprogram.   

Leeskrisis

Die paneel se bevindings toon ʼn gebrek aan belegging in leesontwikkeling, die algehele afwesigheid van ʼn nasionale leesplan in die openbare sfeer, geen begroting om lees in die moedertaal te bevorder nie, asook die afwesigheid van in-persoon opleiding vir die meer as 850 000 onderwysassistente wat as deel van die Presidensiële Jeugindiensnemingsinisiatief in diens geneem is.  

Dit is kommerwekkend dat die verslag toon dat ʼn dekade se vordering in leesuitkomste weens die ontwrigting van die Covid-19-pandemie verlore gegaan het.

Volgens die verslag kan 82% van gr. 4-leerlinge nie tans in enige taal met begrip lees nie, vergeleke met 78% voor die pandemie. Die nuwe raming is gegrond op navorsing wat in 2021 gedoen is deur prof Servaas van der Berg, ook van die US se Departement Ekonomie, wat die taal- en wiskundige vermoë van alle gr. 3- en gr. 6-leerlinge in die Wes-Kaap getoets het. Daar word geraam dat as Suid-Afrika op die huidige trajek bly, dit 86 jaar sal neem (tot die jaar 2108) voordat die doelwit bereik word dat alle kinders met begrip kan lees.    

Die bevindings toon dat die wiele reeds met die aanvang van die leesreis afval – ʼn grondige kennis van letters in gr. 1. Die proses om te leer lees begin wanneer kinders die klanke wat hulle in gesproke taal hoor, verbind met gedrukte woorde en letters in hul omgewing en wat op ʼn bladsy geskryf is.  

Volgens die verslag het sowat 60% van leerlinge nie die meeste letters van die alfabet teen die einde van gr. 1 onder die knie gekry nie. Dít volgens data van die Departement van Basiese Onderwys se Leesstudie in Vroeë Grade, wat die vordering van leerlinge van meer as 200 skole in Noordwes vir langer as sewe jaar gevolg het. 

Teen die einde van gr. 2 ken meer as 30% van die leerlinge steeds nie die letters van die alfabet nie. In die verslag word bevind dat hierdie leerlinge “voortdurend agter is en moet opvang, maar hulle vang nooit op nie".

“Dis duidelik dat ons sedert die verwoesting weens die pandemie geen vordering met die verbetering van leesuitkomste gemaak het nie," het Spaull gesê. “Maar ondanks hierdie katastrofe wat die huidige generasie betref, is daar geen ware plan om leerverliese in te haal nie. Daar is geen plan nie. Daar is geen begroting nie. Daar is geen dringendheid nie. Waar is die moed en leierskap om hierdie kwessie aan te pak? Ons verdoem 10-jariges tot ʼn baie donker toekoms."  

Gebrek aan belegging

Ander sprekers het saamgestem dat te min gedoen word om te verseker dat voorkeur aan geletterdheid verleen word.

Mlambo-Ngcuka het gemaan dat dieselfde foute in onderwys as met Suid-Afrika se energiekrisis gemaak word. “Ons is in hierdie situasie omdat ons nie genoeg in opwekking belê het nie en derhalwe nie genoeg energie het om oor te dra en te versprei nie. Lees in die grondslagfase (gr. R-3) is ʼn belegging in opwekking. As ons dit nie nou doen nie, sal ons nie genoeg hê om oor te dra en te versprei nie. Ons beurtkrag ons kinders."  

Die voormalige Adjunkpresident het voorts gesê sy is bekommerd omdat die beurtkragkrisis die leeskrisis oorskadu. “Ons bring hierdie kwessie vanjaar terug op die agenda. Ons sal dit deur die nodige optrede op die voorblaaie hou. Ons wil die pyn van beurtkrag in onderwys vermy.

“Wat lees betref, het ons reuse-beleggings nodig sodat ons die probleem soos ons dit vandag ervaar, die nek kan inslaan. Ons moet seker maak ons belê vir die lang termyn, want ons weet nou dat die situasie krities is." 

Volgens die verslag van die Leespaneel het net twee provinsies – Gauteng en die Wes-Kaap – provinsiewye, gefinansierde intervensies in werking gestel wat lees in die vroeë grade teiken. 

Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys het in vennootskap met Funda Wande, ʼn organisasie sonder winsbejag, ʼn “Lees vir begrip"-program vir 2023 tot 2025 in die provinsie se Afrikaanse en isiXhosa-skole van stapel gestuur. Dié projek oor drie jaar, met ʼn begroting van R111 miljoen, sal ʼn impak op leerlinge in gr. 1-3 hê. 

Die Gautengse Departement van Onderwys bied in vennootskap met WordWorks, ʼn organisasie sonder winsbejag, tussen 2022 en 2024 ʼn gr. R-leesprogram aan in alle skole wat hierdie graad aanbied. ʼn Konsortium van skenkers het 80% van die projek se begroting van R107 miljoen gefinansier en die Departement die oorblywende 20%. 

Die Hoof van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, Brent Walters, het gesê daar word te veel op matriekuitslae gefokus en dat grondslagfase-onderwys die fokus moet wees. “Jy bou ʼn huis van die fondamente af, nie van die dak nie." 

Jonathan Jansen, uitgelese professor in onderwys aan die US, het gesê verandering gaan nie van bo óf van onder kom nie, maar van “die middel" – provinsiale politici, belangegroepe uit die private sektor en plaaslike universiteite. “Die skadukant van verandering van die middel af, die kompromis, is dat jy nie sistemiese verandering gaan kry nie … maar op die heel minste en intussen sal jy drie of vier provinsies kry wat deelneem." 

Die Leespaneel moet ʼn “oortuigende argument op die stadsplein" aanvoer dat leesuitkomste voorkeur moet geniet, het Jansen die konferensie meegedeel. “As jy dinge wil verander, sal jy mense moet begin oortuig dat hierdie ʼn prioriteit is. Met elke generasie kinders wat deur ʼn siklus van 12 jaar beweeg, verloor ons groot – nie net in ekonomiese koste nie, maar ook wat menslike koste betref… Ons het dus ʼn Leespaneel met tande nodig."   

Aanbevelings 

Die Leespaneel het bevind dat feitlik geen vordering gemaak is met die aanbevelings wat in die Agtergrondverslag van die 2022 Leespaneel vervat was nie. In die 2023-verslag is vier aanbevelings van die vorige jaar behou en twee bygevoeg:

  • Meet dít wat saak maak deur ʼn universele gestandaardiseerde assessering van lees op laerskoolvlak in werking te stel;
  • Beweeg van slagspreuke na begrotings deur betekenisvolle fondse aan leeshulpbronne en -intervensies toe te wys;
  • Verskaf dringend ʼn minimum stel leeshulpbronne aan alle grondslagfase-klaskamers;
  • Onderneem ʼn universiteitsoudit van programme vir onderwysers voor hulle diens aanvaar; 
  • Publiseer ʼn nasionale leesplan en ʼn begroting vir die inwerkingstelling daarvan;
  • Verbeter die implementering van die Presidensiële Jeugindiensnemingsinisiatief.

Die volledige 2023-agtergrondverslag is hier beskikbaar: https://www.readingpanel.co.za/_files/ugd/b385b7_7476724ee8a74ba8be8320a3be46b5cc.pdf

 

Klik op hierdie skakel vir ʼn volledige opname van die Leespaneelprogram op 7 Februarie: https://youtu.be/xqSUU-Zpb50