Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Harvard Professor gesels oor klaskamerdiskoers by Fakulteit Opvoedkunde
Outeur: E Els
Gepubliseer: 14/02/2023

​Prof Catherine Snow, die John en Elisabeth Hobbs-professor in kognisie en onderwys aan die Harvard Graduate School of Education het oor haar navorsing oor klaskamerdiskoers by die Fakulteit Opvoedkunde gesels​​ in Februarie 2023.

Prof Snow is 'n kenner van taal- en geletterdheidsontwikkeling by kinders en haar huidige navorsingsaktiwiteite sluit 'n studie in van hoe klaskamers jong kinders se ontwikkeling ondersteun en deelname aan 'n langdurige navorsingspraktyk-vennootskap (die Strategic Education Research Partnership, SERP). Dit is die ontwikkeling van kurrikulêre gereedskap om onderwysers te ondersteun in die bekendstelling van innoverende klaskamerpraktyke. Word Generation, 'n besprekingsgebaseerde akademiese taal- en geletterdheidsprogram wat deur SERP ontwikkel is, het laerskool-geletterdheidsuitkomste verbeter.

“Vyftien jaar se navorsing oor klaskamerdiskoers en pogings om die kwaliteit van klaskamerdiskoers te verbeter, het die gevolgtrekking bevestig dat onderwysergekonsentreerde vorme van onderrig aangevul moet word deur geleenthede vir studente om met mekaar te praat sowel as met die onderwyser. Bespreking in die klaskamer is baie skaars, maar tog baie kragtig. Hóé ons onderrig gee, is wat ons leerders leer" het prof Snow gesê. 

Die navorsing is op verskillende groepe studente getoets en die uitkoms het bevestig dat onderwys aangevul moet word deur geleenthede vir studente of leerders om met mekaar en met die onderwyser in die klas te praat oor wat geleer word. Sy het gesê dat sulke gesprekke baie belangrik is en dat dit leerders 'n kans gee om betrokke te raak, perspektief op 'n vak te kry, daaroor te redeneer en die akademiese taal te leer gebruik. Sy het bygevoeg dat onderwysdosente aan studente die besprekingstegnieke (soos byvoorbeeld om oop vrae te vra) sal moet demonstreer wat hulle in die klaskamer sal nodig kry.

Dr. Erna Lampen (Senior Lektor by Fakulteit Opvoedkunde) het met prof Snow se navorsing saamgestem en gesê "leer is sosiaal, studente en leerders moet in ons klaskamers praat." Prof Christa van der Walt (afgetrede Visedekaan: Navorsing van die Fakulteit Opvoedkunde) het genoem dat dit ook belangrik is dat studente in sulke gesprekke begelei moet word.

Prof Snow het na verskeie ander studies verwys wat getoon het dat bespreking in die klaskamer leer verbeter het. Een so 'n studie deur Ruhl, Hughes en Schloss in 1987 het getoon dat twee pouses van twee minute elk tydens 'n lesing van 45 minute vir studente om hul notas met hul medestudente te vergelyk, 'n 25% verbetering in korttermynbehoud van die nuwe materiaal gehad het en 'n 10% verbetering in langtermynbehoud. In 2007 het Crouch, Watkins, Fagen en Mazur gevind dat die gebruik van peiling of stemming in groot inleidende fisika-lesings gevolg deur portuuronderrig leer verbeter het.

Prof Snow het haar Ph.D. in ontwikkelingsielkunde aan die McGill Universiteit voltooi met 'n tesis oor die onderwerp van hoe volwasse spraak met kinders hul taalontwikkeling ondersteun. Sy het daarna vir etlike jare in die Linguistiek Departement van die Universiteit van Amsterdam gewerk voordat sy na Harvard verhuis het, waar haar belangstellings uitgebrei het om geletterdheidsontwikkeling in te sluit. Sy was voorsitter van die Nasionale Akademie vir Wetenskappe Komitee wat Preventing Reading Difficulties in Young Children (1998) opgelewer het en die RAND Reading Study Group wat Reading for Understanding: Toward an R&D program for reading comprehension (2000)​ vervaardig het, 'n volume wat die federale onderwysbefondsing beïnvloed het oor die volgende 20 jaar. Haar werk is gekenmerk deur 'n bereidwilligheid om ongewilde standpunte te verdedig oor kwessies wat relevant is vir taalleer en -onderrig, vroeë kinderonderwys en geletterdheidsonderrig. Baie van haar onlangse werk is uitgevoer in samewerking met opvoedkundige praktisyns en ander navorsers wat daarop gefokus is om die mees dringende probleme van praktyk in geletterdheidsopvoeding te verstaan, onder die vaandel van die SERP Instituut en die Boston Public Schools.