Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer bekroonde joernalis
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 05/12/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n eregraad aan die bekroonde joernalis, skrywer en aktivis, Zubeida Jaffer, by sy Desembergradeplegtigheid toegeken. Jaffer het die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, Maandag (5 Desember 2022) by 'n kontakgradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.  

Sy is vereer vir haar voortreflike bydrae tot die Suid-Afrikaanse mediabedryf, haar toegewydheid tot feitelike en akkurate verslaggewing as 'n instrument om in te lig en te bemagtig, en die oordrag van haar kennis om die koers vir 'n nuwe geslag joernaliste aan te dui.

Jaffer het in haar aanvaardingstoespraak die US bedank dat hulle die instelling se hoogste eerbetoon aan haar verleen het.

“Die eredoktorsgraad was 'n groot maar aangename verrassing."

Jaffer het ook hulde gebring aan daardie joernaliste en ander “wat ongelooflike pogings aangewend het om nie net vryheid in die land te bewerkstellig nie, maar om dit konstant op 'n platform te doen wat daartoe verbind is om Suid-Afrikaners in hulle diversiteit te verenig en nie die neiging om apart te wil wees, aanmoedig nie."

Jaffer het in haar boodskap aan die nuwe gegradueerdes gesê sy glo vas dat hulle nie die land agteruit sal laat gaan nie, maar dat hulle na kreatiewe oplossings vir ons uitdagings sal soek.

Meer oor Jaffer

Zubeida Jaffer het haar loopbaan in 1980 by die dagblad Cape Times begin en het later gedurende die weerstandsbeweging teen apartheid plaaslike gemeenskapskoerante soos Grassroots help ontwikkel.

Sy was die stigtersredakteur van Independent Newspapers se parlementêre buro, wat 14 koerante landwyd bedien het. Haar berigte het in koerante oor die hele Afrika sowel as in die buiteland, waaronder in Japan, Indië, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, verskyn.

Jaffer het 'n magistergraad aan Columbia-universiteit in New York behaal. Die webtuiste The Journalist is haar geesteskind as deel van haar strewe om die toekoms van vrye en akkurate verslaggewing te verseker. Hierdie grensverskuiwende platform bied inligting oor die kernkwessies waarvoor Suid-Afrikaanse verslaggewers te staan kom en gee joernalistiekstudente op dié manier 'n eg Suid-Afrikaanse blik op die beroep.

Sy is die eerste vrou in Afrika wat die Amerikaanse Nasionale Vereniging van Swart Joernaliste se gesogte prys vir 'n buitelandse verslaggewer gewen het. Haar werk het haar ook al etlike ander plaaslike en internasionale toekennings besorg. Dít sluit in Muslim Views se prestasietoekenning, die Universiteit van Missouri se erepenning vir voortreflike diens aan die joernalistiek, en die Allan Kirkland Soga-prys vir lewenslange prestasie.

Foto: Zubeida Jaffer by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els​