Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW navorser-dokter gekies vir gesogte globale leierskap-program
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 01/12/2022

Dr Elouise Kroon was een van slegs 21 “Jong Dokter-leiers" ter wêreld wat gekies is om deel te neem aan vanjaar se leierskapontwikkelingsprogram van die InterAcademy Partnership (IAP), wat onlangs in Berlyn, Duitsland, plaasgevind het.

Die IAP Young Physicians Leaders (YPL) -program is gemik op opkomende leiers (onder 40-jarige ouderdom) in die veld van geneeskunde of openbare gesondheid, en wie belowende leiers in hulle gekose loopbane is.

Kroon, ʼn navorser-mediese beampte by die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, was een van slegs twee Suid-Afrikaners wat gekies is om aan hierdie gesogte program deel te neem.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring wat nie net ʼn mens se leierskapvaardighede versterk het nie, maar ook geleentheid gebied het om bande te bou met inspirerende klinici van reg oor die wêreld wat globale gesondheidsprobleme wil aanspreek," sê Kroon. “Die globale gesondheidslandskap is vinnig besig om te verander, en as ʼn ontwikkelende land het Suid-Afrika die intellektuele hulpbronne om die uitdagings van die ontwikkelende wêreld te oorkom en om vennootskappe te sluit en oplossings te vind vir ons unieke omgewing."

Ingesluit in die 2022 IAP YPL was ʼn leierskapontwikkelingsprogram wat gefokus het op die analise van leierskap-modelle wat daarop gerig is om ʼn individuele aksieplan vir persoonlike leierskap te ontwikkeling; besoeke aan verskeie navorsingslaboratoriums in Berlyn; en deelname aan die Wêreldgesondheidsberaad (World Health Summit).

Al die YPL-deelnemers is die geleentheid gebied om ʼn aanbieding te doen by 'n Wêreldgesondheidsberaad-sessie, genaamd 'Doeltreffende leiers vir doeltreffende gesondheidstelsels'. Kroon, wie by ʼn navorsingsprojek betrokke is om genetiese variasies te identifiseer wat mense met MIV moontlik kan beskerm teen tuberkulose-infeksie, het ʼn aanbieding gedoen oor die onderwerp 'Digitale Gesondheid: ʼn YPL-perspektief'.

“In my aanbieding het ek voorspraak gemaak vir die bestuur van data wat goed gedefinieerd is, veral met betrekking tot kwesbare bevolkingsgroepe. En ek het ook die belangrikheid van voorspraak vir die insameling van verteenwoordigende data uitgelig," sê Kroon. Sy verduidelik: “Ons weet byvoorbeeld dat Afrika-voorgeslagte geneties divers is. Weens sekere bevolkingsgroepe se blootstelling aan spesifieke omgewings en patogene, kan bevolking-spesifieke siekte risiko alleele verband hou met spesifieke siekte fenotipes. Daarom kan ons nie modelle wat op Europese genomiese data gebaseer is net 'kopieer en plak' op Afrika-bevolkings nie. In Suid-Afrika is hierdie behoefte geïdentifiseer en word daar baie vooruitgang daarmee gemaak, en meer navorsing word gedoen wat bevolkingsgroepe insluit wat histories nie goed verteenwoordig is nie."

Haar keuring vir die YPL-program was nie die eerste keer dat Kroon uitgesonder is vir haar prestasie nie. In 2019 het sy die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se Kliniese Navorser MD PhD-beurs in Kliniese/Gesondheidsnavorsing ontvang, asook die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe-vennootskap (European and Developing Countries Clinical Trials Partnership – EDTP) se Loopbaanontwikkelingsbeurs. Sy het ook onlangs haar PhD, met die titel 'Neutrophils as effector cells in resistance to Mycobacterium tuberculosis in HIV-infected persons', voltooi.