Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eenheid vir Gestremdhede 'daar om ons te help'
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 16/11/2022
​Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes:

Suid-Afrika gedenk jaarliks van 3 November tot 3 Desember Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes. Hierdie bewusmakingsmaand skep vir mense met gestremdhede die geleentheid om ander bewus te maak van die hindernisse wat hulle daagliks ondervind en hoe die samelewing kan help om die lewe vir hulle te vergemaklik. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede vier ook vanjaar 15 jaar van ondersteuning en inklusiwiteit. Om dit te herdenk, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking met studente en personeel gesels wat deur die eenheid ondersteun is. Lees meer hieronder: 


Anzel Pansegrouw, 'n mediese student in haar derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), is 'n ywerige kampvegter vir die belange van studente met gestremdhede op Tygerbergkampus. Sy streef haar doelwitte aktief na in verskeie inisiatiewe en hoedanighede.

Benut beskikbare hulpbronne

As voorsitter van die Studenteraad (SR) se portefeulje vir spesiale behoeftes, het sy vanjaar sy aan sy met die Eenheid vir Gestremdhede saamgewerk. “Dit is my ervaring dat die Eenheid graag meer wil weet van studente se ervarings, wat baie belangrik is," sê Anzel, wat outisme het. “Ons hoef regtig nie op ons eie te probeer regkom nie. Die Eenheid vir Gestremdhede het hulpbronne. Hulle is daar om ons te help. Ons het hierdie hele kantoor om ons te ondersteun. Ons vergeet dít dikwels."

Ook die SR was haar hele ampstermyn deur besonder ondersteunend, sê sy. “My span in die SR vanjaar was absoluut ongelooflik. Mense het moeite gedoen om gestremdhede by hulle voorspraakwerk in te sluit. Alles het daarom gedraai oor hoe ons meer inklusief kan wees."

Oop gesprek goed, maar nog baie om te doen

Anzel voeg by: “Ek het ook die afgelope jaar opgemerk dat mense nou baie gemakliker is daarmee om oor hulle gestremdhede te praat. Mense is openhartiger en wil 'n meer verwelkomende omgewing op kampus help skep.

“Ek het 'n dosent wat openlik oor sy gestremdheid praat. En nadat hy sy ervarings met die klas bespreek het, het almal steeds gedink hy is 'n superkoel dosent."

Anzel, wat self nou makliker oor haar outisme praat, verwelkom hierdie verandering. “Dit was voorheen baie vreemd. Selfs in 'n hospitaal is daar baie dokters met outisme, maar niemand praat daaroor nie."

Skep 'n positiewe nalatenskap

Sy is vasberade om verandering te help teweegbring waar sy ook al kan. “My lewensmissie is om te sorg dat die nalatenskap wat ek agterlaat, die heel beste is wat ek kan gee," sê sy. “Dit gaan nie noodwendig daaroor om iets reg te maak nie, maar om seker te maak dat waar ek was daar iets goeds agterbly."

Daarom voel sy aangetrokke tot palliatiewe sorg en beplan sy om nadat sy gegradueer het in 'n staatshospitaal te werk. “Dit is 'n uitdagende gebied, maar ek dink dit is die regte een vir my, want jy kan mense ondersteun wanneer dinge moeilik gaan," sê sy.

Die ander moontlikheid is psigiatrie, waarin sy om dieselfde rede belang stel: “Ek wil graag toegankliker sorg skep, veral wat verslawing en geestesgesondheid betref. 'n Mens verdien nie om onmenswaardig behandel te word net omdat jy foute gemaak het of 'n verlede het nie. En tog voel dit soms of dít die pasiënte is vir wie niemand omgee nie; die pasiënte naby wie niemand wil kom nie. Dís waar ek wil werk. Ek geniet dit om daar te wees vir hulle."​