Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel Afrika-gesentreerde infeksiesiektes-program bekend in samewerking met MSF
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 25/10/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US), in samewerking met die internasionale humanitêre organisasie, Médecins sans Frontières (MSF), het aan die begin van 2022  ʼn diplomaprogram in infeksiesiektes bekend gestel. Hierdie program is enig in sy soort en is toegespits op die behoeftes van die gesondheidsorg konteks in Afrika.

“Wêreldwyd is daar baie kursusse in tropiese geneeskunde, maar ons program fokus meer op infeksiesiektes. Ons probeer ook praktiese waarde toe te voeg van ʼn Afrika-gesondheidsorgperspektief," sê dr Jantjie Taljaard, hoof van die Afdeling Infeksiesiektes aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Hy is ook die programleier van die nuwe Nagraadse Diploma in Infeksiesiektes. “In die program bestudeer ons die siektes in detail, maar ons het ook oorkoepelende temas – soos antimikrobiese rentmeesterskap, die voorkoming- en beheer van infeksies, en die 'Eengesondheid-beginsel' wat op ʼn holistiese wyse benader – insluitende diere, mense en die omgewing."

Die diplomakursus is ontwikkel danksy ʼn vennootskap met MSF en word ondersteun deur ʼn vyf jaar lange memorandumsooreenkoms. “Ons wou nog altyd so ʼn diplomakursus ontwikkel, dus het ons die geleentheid aangegryp toe MSF ons genader het vir hulp om hulle dokters in Afrika se vaardighede te help slyp," sê Taljaard. Die helfte van die deelnemers aan die kursus is geaffilieer met, en word geborg deur MSF.

Die twee​ jaar lange kursus word op ʼn hibridiese wyse aangebied, en sluit twee weke se kontaksessies aan die begin van die eerste jaar in, asook een week in die tweede jaar. Die res van die kursus is aanlyn selfstudie, wat met interaktiewe webinare gekomplimenteer word.

Die kursus bestaan uit vyf modules wat alle infeksiesiektes dek wat in Afrika voorkom, en neem die beperkte hulpbronne op die Afrika-kontinent in ag. “Ons kyk veral na die behoeftes van diegene wat in meer landelike omgewings met beperkte hulpbronne werk," verduidelik Taljaard. “Ons slaan nie net ag op die nuutste kliniese ondersoeke met maklike toegang tot laboratoriums nie – ons begin met wat moontlik is in die landelike omgewing, en dui aan wanneer dit nodig is om die pasiënt verder te verwys. In situasies waar ʼn verwysing nie moontlik is nie, probeer ons empiriese keuses bied met betrekking tot pasiënt versorging."

Dit is belangrik dat die inhoud van toepassing is tot die omgewings waar MSF werk. “Hulle dra by tot siektes soos Ebola of cholera waar hulle meer praktiese ervaring ten opsigte van die bestuur van uitbrekings het," sê Taljaard. “Hulle het ook aansienlik bygedra tot die ontwikkeling van die module oor MIV/TB."

Die modules word aangebied deur ʼn kern groep US-personeel met kenners van ander instellings wat sekere onderwerpe aanbied. Die teoretiese inhoud word met gevallestudies in ʼn sindromiese wyse aangebied. Die afdeling word ondersteun deur die universiteit se hibridiese leer-span, wat baie bygedra het tot die ontwikkeling van interaktiewe kursusinhoud, die opleiding van fasiliteerders en die kursus se bemarking.

Die eerste inname van 17 studente sluit deelnemers van nege Afrika-lande in: Nigerië, Mosambiek, Kameroen, die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK), Suid-Soedan, Zambië, Ghana, Kenia en Suid-Afrika.

“Ons leer ook baie van hierdie wonderlike dokters van oor Afrika," sê Taljaard. “Mens het moontlik ʼn dokter van die DRK wat baie gevalle van ʼn sekere siekte gesien het wat met die groep kan deel hoe hulle die diagnose en behandeling in hulle omgewing hanteer het. Ons leer baie oor hoe hulle die uitdagende omgewings baasraak, insluitende in oorlogsgebiede en vlugtelingkampe. Daar is baie goeie interaksie tussen deelnemers van verskillende lande."

“Dit hou natuurlik alles verband met die bestuur van epidemies en pandemies in die toekoms. Ons probeer om dit heeltemal te voorkom, of om te voorkom dat dit verder versprei."

Doen aansoek aanlyn by www.maties.com of stuur ʼn e-pos aan lejandra@sun.ac.za vir meer inligting.​