Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MGD voltooi fokusgroep-verbintenisse ter voorbereiding van beoogde inlywing by die US
Outeur: Michelle Linnert-Jansen
Gepubliseer: 20/10/2022

​Die 58-jarige nie-regeringsorganisasie (NRO) Matie Gemeenskapsdiens, sluit tans 'n aantal fokusgroep-verbintenisse met verskeie belanghebbendes af in aanloop tot sy beoogde inlywing by die Universiteit Stellenbosch (US) tydens MGD se Algemene Jaarvergadering (AJV) op Donderdag, 20 Oktober.

Belanghebbendes sal gevra word om tydens die AJV ten gunste van 'n voorstel te stem dat die NRO by die US se Afdeling vir Sosiale Impak (ASI) geïntegreer word. Sodra dít gebeur, sal MGD as 'n NRO ontbind word.

Me Renee Hector-Kannemeyer, hoof van die NRO en adjunkdirekteur van die ASI, en me Michelle Pietersen, Senior Programbestuurder by MGD, het die afgelope paar weke met studenteleiers en gemeenskapsvennote vergader om hulle in te lig oor hoe so 'n stap op hul huidige verhouding en betrokkenheid by die werk van MGD sal impakteer.

Gesprekke is gevoer met studenteleiers van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, gebaseer by die US se Tygerberg-kampus, asook met gemeenskapsvennote soos die e'Bosch Heritage Project, SCAN en die verteenwoordigers van die Medebestuursforum. Ander gesprekke is gevoer met die leierskap van die Departement Maatskaplike Werk, insluitend studente wat hul praktiese opleiding saam met MGD en vennoot-NRO's doen as deel van hul kursusvereistes, asook met studenteleierskap binne koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's), en sosiale impak-komitees van fakulteite en studenteverenigings.

Die AJV-stemming is die kulminasie van 'n twee jaar lange proses wat op 23 Junie 2020 afgeskop het toe mnr Rudy Oosterwyk aangestel is om saam met MGD te werk om die NRO se strategiese posisie en volhoubaarheid te ondersoek, deur 'n gesprek met belanghebbendes te fasiliteer. Sy bevindinge, is in 'n bestuursadviesbrief saamgestel. Dit het kortliks aangedui dat antwoorde op 'n “voorbereidende vraelys", wat aangebied is by die forum vir gesamentlike belanghebbendes – waaroor hy toesig gehou het – "daarop gedui het dat MGD se deurlopende rol vierkantig aan die werk van US gekoppel is".

In Julie 2021 is dr Jerome Slamat, voormalige Uitvoerende Bestuurder in die Rektorskantoor aan die US, gekontrakteer om die integrasie van MGD in DSI te fasiliteer. Die afdeling was op daardie tydstip besig om 'n selfevalueringsproses te ondergaan en om 'n nuwe strategiese plan vir maatskaplike impak op te stel.

Hierdie oefeninge het aan die lig gebring dat die US hul “herverbeelding van MI" sou moes onderneem terwyl dit terselfdertyd besig was met die integrasie van MGD in 'n herverbeelde strategie en struktuur. Dít is gevolg deur verskeie werksessies met belanghebbendes.

“MGD se historiese visie is om die universiteit se voetspoor in omliggende gemeenskappe uit te brei deur studentevrywilligers. Hierdie werk bly 'n kritieke element van die Universiteit Stellenbosch se institusionele plan deur sy Sosiale Impakstrategie. MGD-personeel vervul al amper ses dekades lank hierdie mandaat. Die universiteit maak staat op MGD om die implementering van hierdie program te verseker en ook om ondersteuning aan akademiese departemente te voorsien met direkte gemeenskapsbetrokkenheid. MGD help ook studente om toepaslike en doelgerigte reaksies op die behoeftes van die gemeenskap te ontwikkel," verduidelik Hector-Kannemeyer. Die Maatskaplikewerkdepartement, spesifiek, steun op die werk van MGD op hierdie wyse.

"Die integrasiemodel bied 'n geleentheid vir die hertoewysing van fondse om die doelwitte wat in die universiteit se Sosiale Impakstrategie uiteengesit word, te bereik. Betrokke Burgerskap (oftewel 'Engaged Citizenship') sal een van die sentrale fokuspunte van die herverbeelde DSI word."

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US, het die stap geprys, met verwysing na die uitgebreide hersiening en deelnemende proses van belanghebbendes wat uitgeloop het op die besluit om MGD met die ASI te integreer.

Koopman verduidelik die rede vir die voorstel: “Ek was in 1978 in Kimberley in matriek toe ek die eerste keer van MGD gehoor het, so dit is 'n gekoesterde entiteit."

MGD was 'n deurslaggewende voertuig waardeur die universiteit na 'n sosiale impakbenadering kon groei, omdat dit ingeburger is in die werk wat die NRO reeds doen, "veral in hul fokus op geformaliseerde studentevrywilligerswerk".

“Die universiteit se maatskaplike verantwoordelikheid het deur verskillende fases gegaan. Daar was 'n tyd jare gelede toe dit bloot Gemeenskapsdiens genoem is; toe het dit later Gemeenskapsaksie geword, en toe ek sewe jaar gelede begin het, het ons dit Sosiale Impak herdoop. Die idee was dat ons, met die woord 'sosiaal', na alle domeine van die samelewing sou verwys - van ons plaaslike tot ons kontinentale en globale gemeenskap, en selfs kosmiese verantwoordelikheid as 'n universiteit.

“En toe het ons die woord 'impak' gebruik om te sê ons wil 'n transformerende impak op die samelewing maak en die samelewing sal ook 'n transformerende impak op ons maak. Die rol van die ASI is eintlik om die Sosiale Impakmandaat van die ganse universiteit te bevorder. In ander woorde, die afdeling alleen kan nie die impak bewerkstellig nie, maar moet die maatskaplike impakwerk van alle US-omgewings bevorder, fasiliteer of versterk, adviseer, inspireer en lei. Tesame met die ASI, is MGD 'n deurslaggewende entiteit vir hierdie funksie."

Volgens Koopman word die US se sosiale impak onderlê deur 'n filosofie van betrokke en verantwoordelike burgerskap.

“Nadat MGD by die ASI geïntegreer is, sal dit voortgaan om dieselfde werk te doen, maar dan as deel van die Sosiale Impakwerk van die universiteit."

Hector-Kannemeyer verduidelik dat die gefasiliteerde betrokkenheidsessies met belanghebbendes, wat die fokusgroepe voorafgegaan het, ook aan die lig gebring het dat die behoud van 'n onafhanklike NRO operasionele dubbelsinnigheid skep, asook die potensiaal om die programwerk van MGD met betrekking tot die institusionele plan van die Universiteit, te misbelyn.

“Daar is dus geen strategiese waarde of operasionele rasionaal om 'n NRO te behou wat in wese die werk van die universiteit doen nie – soos verwoord in die strategiese plan van die Universiteit, en uiteengesit in die MGD-grondwet."

Vir Koopman is die voorgestelde integrasie 'n opwindende ontwikkeling en wys dit hoeveel groei daar oor die afgelope vyf dekades was. Hy glo dat die dekades-oue verhoudings met belanghebbendes sal deur die skuif versterk word.

“Belanghebbendes sal nou deel uitmaak van die breër ASI en sy vennootskappe; wat 'n deurslaggewende deel van ons werk is. Wanneer MGD dus by die DSI geïntegreer word, moet die vennootskappe wat ons koester, versterk word."

Prof Ronelle Carolissen, voorsitter van die MGD-beheerliggaam, sê dat hul direksie die integrasie ten volle ondersteun.

“Die universiteit kan nie as 'n eiland in die gemeenskap bestaan nie, veral 'n gemeenskap waar daar soveel psigo-sosiale uitdagings en geleenthede is vir mense om voordeel te trek uit onderwys – die kernbesigheid van die universiteit.

“Dit maak sin dat die universiteit buite sy grense uitbrei na die gemeenskappe, aangesien dit 'n belangrike deel van die Sosiale Impakstrategie is. Een van die redes vir die integrasie is om befondsing te stroomlyn in terme van die dienste wat gelewer word, wat beide die studente én die omliggende gemeenskappe bevoordeel."

Carolissen sê dat die MGD-beheerliggaam van die begin af by die proses betrokke was.

“Die sleutelrolspelers was DSI, MGD en ons direksie. 'n Reeks gesprekke met verskeie belanghebbendes is aan die gang – nie om die integrasie goed te keur nie, maar eerder om die redes vir die integrasie te bespreek en hóé MGD na DSI sal oorgaan.

“Daar is geen sin daarin om 'n NRO in stand te hou wat in wese met, en vir, die universiteit werk, terwyl kantoorruimte, bestuursprotokols, sowel as programme gedeel word nie. In wese is die werk van MGD by die universiteit geïntegreer, en ons hoop om dit te formaliseer."

Koopman voeg by dat hierdie intensiewe konsultasieproses hom met die volle vertroue laat dat verskeie insette oorweeg is.

“Verskeie rolspelers was by hierdie proses betrokke en dit was nie 'n skielike besluit nie. Daar was wye konsultasie intern, én met eksterne rolspelers. Ek is tevrede dat die proses op 'n gevarieerde, inklusiewe, raadgewende en verantwoordelike manier verloop het."

Oor die jare het Koopman se interaksies met MGD hom blootgestel aan verskeie studente wat as vrywilligers werk of wat praktiese werk in gemeenskappe doen.

"Dit is wederkerige leer, wanneer jy die impak van die studente op daardie gemeenskappe kan sien, en die lesse wat die studente by die gemeenskappe geleer het."

Dié verhoudings, sê Koopman, sal deur die integrasie versterk word. “Ons moet ons daartoe verbind om dit te versterk, want dit is 'n deurslaggewende deel van die leer- en onderrigwerk van die US, aangesien een van ons graduandi-kenmerke Betrokke Burgerskap is. Hierdie program help US-studente om daardie spesifieke eienskap te bekom, en ons koester dit en ons gemeenskap se hulp om daardie eienskap te koester."

Dr Leslie van Rooi, Direkteur van Sosiale Impak, sê die US is “bevoorreg om deel te wees van die kennis-infrastruktuur van die groter Stellenbosch".

“Die integrasie van MGD binne die DSI-struktuur van die US sal ons in staat stel om op die historiese werk van MGD voort te bou. Selfs meer nog, dat ons met die hernuwing van die Maatskaplike Impakafdeling die geleentheid sal kry om aansienlik meer direk te belê in die moontlikhede wat binne groter Stellenbosch bestaan," sê hy.

“Die potensiaal vir wederkerige leer en die uitruil van kennis binne die onderskeie belanghebbende gemeenskappe, plaaslik en nasionaal, sal binne die geïntegreerde struktuur floreer. DSI is gereed om homself ook te verfris deur die integrasie van MGD in sy strukture. Dit sal nuwe energie en moontlikhede bring nie net na die genoemde kantoor nie, maar inderdaad ook vir ons universiteit as geheel. As sodanig sien ons uit na die AJV en die ondersteuning van ons belanghebbendes."​​​​