Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Laaste voorbereidings vir eerste rondte IEB-ISC-eksamens
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/09/2022

Alles is so te sê gereed vir die eerste rondte eksamens vir die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Eksamineringsraad se Internasionale Sekondêre Sertifikaat (IEB-ISC) – 'n nuwe, bekostigbare dog uitnemende Afrikagerigte skoolverlatersertifikaat. Leerders sal die eerste eksamens aan die einde van 2022 skryf, wat beteken dat die eerste kohort IEB-ISC-skoolverlaters in 2023 by universiteite wêreldwyd sal aansoek doen. 

Die IEB het die gehalteversekering van die kwalifikasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) toevertrou. Die Universiteit se Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies was die afgelope tyd hard aan die werk om 35 eksterne moderators aan te stel om die eksamenvraestelle vir die 32 vakke van die kwalifikasie te evalueer. Dít is noodsaaklik om seker te maak dat die IEB-ISC-assesserings geldig, billik en betroubaar is. Die US het ook drie deskundige komitees tot stand gebring om oor onderskeidelik kurrikulum en assessering, standaardisering en gehalteversekeringsbestuur toesig te hou. Sodoende sal die US uiteindelik in staat wees om die gehalte van die kwalifikasie nie net te verifieer nie, maar dit ook te sertifiseer.  

UK Ecctis, wat die Verenigde Koninkryk (VK) in alle internasionale kwalfikasiesake verteenwoordig, het in 'n beoordeling in 2021 bevind dat die IEB-ISC vergelykbaar is met die VK se “AS-levels", Australië se Senior Sekondêre Onderwyssertifikaat, en Kenia se Sertifikaat van Sekondêre Onderwys. Boonop het Universiteite Suid-Afrika (USAf) verklaar dat kandidate wat die IEB-ISC met lof of op 'n gevorderde vlak slaag, en plek by 'n Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling aangebied word, aan die minimum vereistes vir toelating tot 'n graadprogram sal voldoen.

Die sertifikaat word tans in skole in Namibië, Eswatini en Mosambiek aangebied, met die moontlikheid van verdere uitbreiding na ander lande.