Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USVroue: Ernestine Meyer-Adams – “Maak die wêreld 'n beter plek"
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 29/08/2022

Die Afdeling Sosiale Impak van die Universiteit Stellenbosch (US) staan onder leiding van Ernestine Meyer-Adams. Sy is passievol oor die US se waardes van uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid, en het een groot strewe – om te sorg dat die Afdeling die wêreld 'n beter plek help maak deur positiewe intervensies in die samelewing.

As deel van die US se Vrouemaandvieringe, vertel Ernestine ons meer van haar werk en die leierseienskappe wat dit vereis.

Vertel ons meer van jou rol by die Universiteit Stellenbosch.

As direkteur van die Afdeling Sosiale Impak, lei ek die Universiteitsgemeenskap om met die burgerlike samelewing, regering, bedryf en sakesektor saam te werk om positiewe sosiale impak teweeg te bring. Alles wat ek doen, draai om sosiale geregtigheid.

Boonop is ek 'n raadslid van die Suid-Afrikaanse Forum vir Gemeenskapskakeling in die Hoër Onderwys (SAHECEF) en medevoorsitter van die US se praktykgemeenskap vir diensleer.

Wat geniet jy die meeste van jou rol?

Ek beskou dit as 'n voorreg om betrokke te wees by die bou van ware wedersydse vennootskappe wat betekenisvolle sosiale impak meebring. Om vennootskappe te skep en te bou is nie maklik nie, maar wanneer dit werk, bring dit soveel voordele wat broodnodige hoop skep vir die gemeenskappe met wie ons werk.

Om ons gemeenskappe te ontwikkel, moet jy gesonde verhoudings met alle vennote bou, koester en in stand hou. Dít is hoe jy positiewe verandering en herstel skep.

Ek glo vas dat niks waardevol ooit maklik kom nie. Om andersins ongeïnteresseerde partye by wyer vennootskappe betrokke te kry is een van die bevredigendste elemente van my pos.

Wat is volgens jou die belangrikste leierseienskappe wat jou werk vereis?

'n Passie daarvoor om die regte ding te doen, en om nederig te bly. Ook noodsaaklik is om empaties in die belange van mense in álle gemeenskappe te belê, en om onwrikbaar verbind te wees tot die regstelling van vorige onreg ter wille van die samelewing. Dit is belangrik om aktief aan gemeenskap-universiteit-vennootskappe deel te neem om sáám doelwitte te bereik en gesamentlik kennis te skep sodat jy beleidsbesluite tot voordeel van toekomstige geslagte kan beïnvloed.

Leiersrolle is veeleisend. Wat hou jou gemotiveerd?

Wat my gemotiveerd help hou, is om meetbare resultate te bereik en te sien hoe ons werk positiewe verandering teweegbring. Om te weet dat jou werk die samelewing help ophef en dat die onreg van die verlede stelselmatig en doelbewus reggestel word, deels danksy jou bydrae, is op sigself ook lonend en motiverend.

Ons doelwit is om beter ingeligte gemeenskappe te skep wat grondige besluite kan neem én toegerus is om daardie besluite uit te voer.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie aspirantvroueleiers?

Leef jou passie uit en moenie jammer sê omdat jy sterk voel oor kwessies nie. Moenie bang wees om op te staan vir wat jý dink reg is nie. Jy is méér as goed genoeg nes jy is. Moenie terugstaan net omdat jy 'n vrou is nie. Wees sterk.

Jou toewyding en bereidheid om in alle vlakke van die samelewing terug te ploeg en onbaatsugtig te dien is ál wat jy nodig het om met mense te werk en hierdie wêreld 'n beter plek te maak. Kyk na vrouerolmodelle wat oor die jare met hulle oortuigings en vasberadenheid die samelewing verander het, en leer by hulle.

Alle leiers behoort te begin met 'n passie vir die werk wat hulle wil doen. Onthou ook dat eienskappe soos koestering en omgee altyd 'n plek in die samelewing sal hê, want dít is waar deernis, begrip én oplossings vir mense se unieke uitdagings vandaan kom.


 Fotograaf: Stefan Els