Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Netwerke kan betekenisvolle verandering meebring
Outeur: Leslie van Rooi
Gepubliseer: 08/08/2022

Wat is werklik die krag van netwerke? Dit is die kwessie wat dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, onlangs in ʼn artikel vir Daily Maverick van naderby bekyk het.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Leslie van Rooi*

Ná 'n gedwonge uitstel, bevind ek my uiteindelik in Fontainebleau in Frankryk. Die dorp is veral bekend vir sy wêreldberoemde sakeskool, INSEAD. En dit is waar ek my bevind – een van 76 studente afkomstig uit meer as 25 lande regoor die wêreld, almal ingeskryf vir die Gevorderde Bestuursprogram oftewel AMP.

AMP-kursusse, wat by die meeste vooraanstaande sakeskole regoor die wêreld aangebied word, bring denkleiers uit verskeie sektore bymekaar. Hierdie kursusse is gesog onder studente én instellings weens hul kerngeheim – om die sogenaamde C-suite uitvoerende beamptes in 'n kursus byeen te bring wat ontwerp is om hul loopbane te versterk en te lanseer, om netwerke te bou en om 'n snelveranderende wêreld beter te verstaan.

Ná 'n lang maar verrykende eerste week, stap ek ná aandete huis toe saam met 'n nuutgevonde vriend uit Griekeland wat onlangs vier jaar in 'n streekskantoor van 'n multinasionale maatskappy in Nigerië deurgebring het. Ons deel stories uniek aan die vasteland van Afrika en dink na oor die kursus, en veral oor die tema van netwerke wat vroeër in die week in die klas bespreek is. Ons deel openlik iets van ons eie ervarings by INSEAD, ons gedagtes oor die onderwerpliteratuur en ons eie strategieë en denke wat ons in ons rolle gebruik.

Ons gesels oor ons relatiewe verrassing oor die aard van die voorbeelde en modelle wat in die klas gebruik word om netwerkvorming te verstaan en te oefen. Vir ons voel sommige van die voorbeelde geforseer en geleen uit 'n tydperk wat baie anders as ons s'n is. Terwyl ons so nabetragting hou op pad terug na die kampus, dink ek aan die rolprent, Wolf of Wall Street, om my interpretasie van ons leerervaring gekoppel aan die tema van netwerkvorming te deel. Die rolprent beeld die harde, wrede werklikhede van die dikwels lasterlike, koue en winsjagtende ongeag-wat karaktereienskap van sakeleierskap uit. Hierdie netwerke vervul meestal net een rol: om nog meer geld te maak en dus persoonlike magsbasisse uit te brei.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek glo baie sterk in die mag van netwerkvorming en netwerke. Ek het dit in my eie lewe belewe. Verder is ek van 'n universiteit afkomstig waar netwerke onder studente dikwels tot beginbesighede lei wat onafhanklike denkers en grensverskuiwers in Suid-Afrika en elders word. Dit is waarskynlik een van die mededingende voordeel van hoër onderwys. En dit is veral die geval vir my instelling, Universiteit Stellenbosch.

Ek verstaan die goed en sleg van kragtige netwerke. Aan die een kant is hulle baie magtig, nodig en van groot waarde op 'n persoonlike en gemeenskapsvlak. Aan die ander kant is hulle uitsluitend, dikwels baie een-dimensioneel en soms só geslote dat hulle die nodige waarde van diversiteit – 'n waarde wat innovasie in werking stel – heeltemal uitsluit. Daarom moet netwerke aangewend en bestuur word. Hulle moenie oorskat word nie en hulle moet beslis nie onderskat word nie. 

Dit is ook duidelik dat AMP's inderdaad deelnemers kan help om magtige internasionale netwerke te skep en daaruit te put. Die netwerke wat gedurende en ná die voltooiing van hierdie programme getuig daarvan. Dit sal dus vir deelnemers vreemd wees om nie doelbewus die krag en geleenthede van uitgebreide persoonlike netwerke wat oor vastelande heen strek, te verken nie. In ons kursus is die tafel inderdaad gedek vir nuwe geleenthede vir individue én samelewings. Stel jou net die moontlikhede voor wat deur ons diversiteit as deelnemers aan hierdie kursus verteenwoordig word. Op 'n persoonlike vlak bewys 'n skerp styging in my LinkedIn-besoekers en volg-versoeke dit.

Ek het geleer dat die kragtigste netwerke betekenisvolle verandering in die lewe van die individue en die samelewing in geheel meebring. Hierdie netwerke is oop, buigbaar en deelnemend. Hulle laat speling toe vir 'n magsbasis om te ontvlam en verandering in die belang van die gemeenskap te bring deur geleenthede vir baie ander in alle sektors te skep en uit te brei. Dit is miskien in teenstelling met die gedagte en aard van netwerke in vervloë tye.

En miskien moet dit een van die hoofuitkyke en bygevoegde voordele van AMP's binne die konteks van sakeskole in Suid-Afrika en ander soortgelyke lande en ekonomieë wees. Dit is naamlik dat ons doelbewus anders begin oor netwerke en die inherente geleenthede wat dit vir ons en ons samelewings bied.

Sakeskole die wêreld oor is dit aan hul studente verskuldig om uiteenlopende wêrelde byeen te bring in onderrig, navorsing en skakeling – op én weg van die kampus af. Dit het 'n begrip van netwerke nodig wat die inherente moontlikhede en geleenthede verbonde aan diversiteit in al sy uitdagende vorms benut. Dit moet 'n waardegebaseerde begrip van netwerke wat ten goede is, bevorder. Dit kan gedoen word deur krities met die modelle van die verlede, die foute en die bygevoegde waarde daarvan om te gaan.

Op die ou einde verwag ons wêreld dat senior leiers veranderingsmakers sal wees – nie net tot hulle eie voordeel nie, maar ook tot voordeel van diegene wat ver van die gange van ons sakeskole af is. Dit vereis inderdaad dat ons in magtige, diverse, instaatstellende en dienende netwerke wat geleenthede vir sukses en veranderinge op verskeie vlakke skep, sal belê en dit sal uitbrei.

*Dr Leslie van Rooi is die Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die Universiteit Stellenbosch.