Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Arie Buijs van Utrecht gee lesings oor Afgeleide Finansiële Instrumente
Outeur: Marietjie Theron-Wepener
Gepubliseer: 03/03/2022

Die Departement Ondernemingsbestuur het die voorreg gehad om teen die einde van verlede jaar gasheer te speel vir prof Arie Buijs, 'n professor emeritus van die Universiteit van Utrecht in Nederland. Prof Buijs het twee lesings aangebied oor Afgeleide Finansiële Instrumente, een van die modules van die Honneursprogram in Finansiële Analise. Hy het onder meer klem gelê op die gebruik van opsiestrategieë om beleggers se blootstelling aan skommelende aandeelpryse en rentekoerse te verander.

Prof Buijs het ook 'n aanlyn-seminaar met die titel Dispute tussen lede van die publiek en finansiële instansies: Alternatiewe dispuutoplossing in Nederland. Daar is onder meer gekyk na interessante gevalle wat prof Buijs as 'n lid van Kifid (Klachteninstituut Financiële Dienstverlening) moes hanteer. Hierdie organisasie, wat deels dieselfde werk as die Suid-Afrikaanse Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) doen, help verbruikers en entrepreneurs om klagtes teen banke, versekeraars en ander finansiëlediensverskaffers in te dien.

Die Departement se verbintenis met prof Buijs en Utrecht se Skool vir Ekonomie strek oor baie jare. Verskeie kollegas is al uitgenooi om somer- of winterskole aan te bied by hierdie Nederlandse universiteit wat in 1636 gestig is. Oor die jare het verskeie personeellede van die Departement Ondernemingsbestuur as gasdosente by die invloedryke Nijenrode Bestuurskool, waar prof Biujs vir 39 jaar lank Statistiek en Kwantitatiewe Metodes doseer het, opgetree.

Hoewel prof Buijs baie passievol is oor finansiële en beleggingsbestuur, het hy ook verskeie uitruilgeleenthede gefasiliteer vir dosente van die Departement Ondernemingsbestuur en Nederlandse universiteite wat in entrepreneurskap, bemarking, en strategiebestuur spesialiseer. Prof Buijs is in 2014 deur koning Willem-Alexander tot ridder geslaan vir sy bydrae tot bestuursopleiding in Nederland.

  • Foto: V​.l.n.r. Me Lomari Theart (hoof: Beleggingsbestuur-fokusarea), prof Arie Buijs, en prof Christo Boshoff (voorsitter: Departement Ondernemingsbestuur)