Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Elmi Muller neem FGGW se stuur oor
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 25/01/2022

In Januarie het die chirurgiese pionier, prof Elmi Muller, die leisels oorgeneem van prof Jimmy Volmink as Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Die aanstelling as die nuwe Dekaan is nog ʼn mylpaal in ʼn loopbaan wat reeds deur talle indrukwekkende prestasies gekenmerk word.

Maar vir Muller, ʼn A1-gegradeerde navorser en voormalige hoof van beide die Afdeling Algemene Chirurgie en die Oorplantingseenheid in die Groote Schuur-hospitaal aan die Universiteit van Kaapstad (UK), was geneeskunde g'n natuurlike loopbaankeuse nie.

“Toe ek medies begin studeer het (aan die Universiteit van Pretoria), het ek aanvanklik gevoel die kursus bied min ruimte vir beredenering en denke. Ek het ook wiskunde en wetenskap gemis, wat my gunstelingvakke op skool was," sê Muller, wat in Vereeniging gematrikuleer het.

“Ek het tale geniet en was nogal kreatief. Ek het gevoel medies druk my in ʼn boksie en ek het dit glad nie geniet om al daardie feite te leer nie."

Maar sy het volhard. “My liefde vir mense en die feit dat ek met mense wou werk, het my na die kursus aangetrek. Vandag dink ek dit was ʼn goeie keuse, al het ek met tye gesukkel. Geneeskunde het talle moontlikhede. ʼn Wêreld van opsies gaan oop sodra jy die kursus voltooi."

Muller het beslis die meeste van daardie moontlikhede gemaak. Nadat sy haar MBChB in 1995 voltooi het, het sy by etlike hospitale in Engeland gewerk terwyl haar man, prof Stephanus Muller, met sy doktorsgraad in musiekwetenskap aan die Oxford-universiteit besig was. “Dit was in daardie tyd dat ek begin besef het ʼn chirurgiese spesialiteit is bes moontlik die beste opsie vir my."

Tussen 1998 en 2000 het sy ʼn basiese chirurgiese opleiding in die Verenigde Koninkryk (VK) ondergaan en ná haar terugkeer na Suid-Afrika is sy verder as ʼn algemene chirurg by die UK opgelei. “Ek geniet die korttermyn- positiewe terugvoer van chirurgie en om met my hande te werk," sê Muller. “Ek het vinnig uitgevind ek is nie uitgeknip om ʼn algemene praktisyn te word nie. Ek is ʼn baie ongeduldige mens en haat dit om vir resultate te wag. Ek wou ook iets meer kreatief doen: chirurgie is uit daardie oogpunt aantreklik."

Ná haar chirurgie-eksamens in 2004 het Muller haar na oorplantingchirurgie gewend. “Ek het dit baie geniet omdat dit ʼn interessante veld is en baie spanwerk verg," verduidelik sy.

“Oorplanting is veelkantig: daar is die chirurgie, wat skoon en gedetailleerd en lekker is om te doen; dan is daar ook veelvuldige politieke kwessies. En ek het aan talle daarvan gewerk, soos om openbare bewustheid te skep, etiese orgaantoekenningsbeleide te ontwikkel en handel in organe te voorkom.

“Ek het dit geniet om by al hierdie kwessies betrokke te raak. Dit is ook ʼn baie interessante veld danksy die oorvleueling met oorplantingsimmunologie, interne medisyne en aansteeklike siektes."

ʼn Moeilike tyd

Muller het die eerste nieroorplantings van een MIV-positiewe mens op ʼn ander in die wêreld gedoen. “Toe ek my loopbaan as oorplantingchirurg begin het, is MIV-positiewe pasiënte nie as geskikte dialise- of oorplantingskandidate beskou nie," vertel sy. “Tussen 2005 en 2007 het ek baie potensiële skenkers afgekeur omdat hulle MIV-positief was.

“In 2008 het ek talle MIV-positiewe pasiënte persoonlik ontmoet en het ek besluit om op die individuele behoeftes van hierdie pasiënte te reageer, pleks van op die meer globale vereistes van die gesondheidsorginstelling. Ek het besluit om niere van afgestorwe MIV-positiewe skenkers te gebruik en dit oor te plant in MIV-positiewe ontvangers wat vir dialise afgekeur is."

Sy het aanvanklik weerstand uit verskeie oorde gekry. “Een van my moeilikste tye as ʼn oorplantingchirurg was net nadat ek die eerste MIV-oorplantings gedoen het," onthou sy. “Daar was mense by Groote Schuur wat gemeen het dit was nie ʼn geskikte kliniese oplossing vir MIV-positiewe pasiënte nie en dit het my in ʼn uiters moeilike posisie geplaas.

“Al was sommige nefroloё baie ten gunste van die voortsetting van hierdie oorplantings, het almal nie saamgestem nie. Dit was vir my as ʼn redelike jong chirurg moeilik om te hanteer."

Vandag dien Muller in verskeie internasionale rade uit erkenning vir haar baanbrekerswerk. Sy is ʼn erelid van die European Surgical Association en ʼn lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Oorplantingstaakspan. Voorts is sy die inkomende President van The Transplantation Society, ʼn globale NRO, en praat sy dikwels op internasionale forums oor Afrika se uitdagings wat orgaanregulering en -oorplanting betref.

Sy het ook ʼn leierskapsrol in die Deklarasie van die Istanbul-groep: “Ek was die enigste klinikus-navorser op die kontinent van Afrika wat op ʼn institusionele vlak met kwessies van orgaanhandel, -regulering, -etiek en -opleiding gewerk het. Danksy my posisie as ʼn klinikus-akademikus van Afrika het ek ʼn sentrale rol gespeel in internasionale pogings om kwessies rondom internasionale orgaanregulering aan te pak."

Volgehoue sukses die oogmerk

Muller sien uit na haar nuwe rol: “Die uitdaging is nie om iets nuuts te begin of ʼn reuse-ommekeer te maak nie, maar eerder om na te dink oor maniere om volgehoue sukses by die FGGW te skep.

“ʼn Model van volgehoue sukses het ook verandering nodig, maar dit is soms minder ooglopend om raak te sien. ʼn Deel van die uitdaging van hierdie nuwe werk is derhalwe die skep van geleenthede vir verandering en groei. Ek moet natuurlik ook die samewerking van my kollegas kry."

Maar Muller aanvaar hierdie uitdaging met selfvertroue: “Ek sien uit daarna om verhoudings met nuwe mense te bou, nuwe vriende te maak en by nuwe projekte betrokke te raak. Ek gaan ook die wye verskeidenheid van probleme geniet wat nou deel van my daaglikse lewe gaan wees. Daar is so baie aspekte aan hierdie werk; soveel verskillende kante van die kubus wat die FGGW verteenwoordig.

“Ek raak opgewonde oor die geleenthede en nuwe idees," voeg sy by.

Korttermyn-doelwitte

Muller het verskeie korttermyn-uitdagings vir haarself gestel: “Ek wil graag na sommige van die voortgesette projekte kyk om vroue in die werkplek te help, onder meer die opsie vir ʼn kindersorgsentrum wat al jare lank by die Tygerberg-hospitaal beplan word.

“Ek wil ook graag ʼn leierskapsforum vir vroulike leiers in wetenskaplike velde organiseer. Dit is so ʼn belangrike kwessie. Ek het in Augustus die Universiteit van Pretoria se simposium vir Vroue in die Wetenskap gevolg en ons moet nadink hoe ons hierdie tipe werk kan uitbrei.

“As ʼn klinikus wat die probleme in spesialis-opleiding in Suid-Afrika verstaan, wil ek maniere ondersoek om kliniese assistente te help om hul magister in geneeskunde (MMed) meer effektief te voltooi.

“Daar is baie werk om te doen wat betref die balans tussen dienslewering en akademiese werk vir spesialiste. Ek sal graag meer hieroor wil nadink en wil besin hoe ons van hierdie prosesse vlotter kan laat verloop.

“Tegnologie en kunsmatige intelligensie is aan die voorpunt van soveel velde ter wêreld. Ons moet oorweeg hoe ons hierdie nuwe realiteit in ons voorgraadse opleiding kan inkorporeer.

“Laastens weet ek dat multidissiplinêre en multisentriese navorsing ʼn belangrike impak op pasiënte kan hê. Ek wil klinici aanmoedig om fassinerende, interessante en potensieel multisentriese projekte aan te pak."

Geen berou oor keuses

Hierdie uitdagings sal die meeste van haar tyd in beslag neem, maar hopelik sal Muller steeds haar passie vir musiek en die kunste nou en dan kan uitleef. Op skool het sy klavier en die orrel in die kerk gespeel en was sy betrokke by die skoolkoor en skoolkonserte.

Ook op universiteit was sy ʼn heeltydse orrelis by die Kloofsig NG Kerk om haar inkomste aan te vul. Sy het haar man, destyds ʼn musiekstudent, ontmoet terwyl sy in Pretoria gestudeer het: “Ek is danksy sy belangstellings dwarsdeur my lewe aan kuns, letterkunde en musiek blootgestel."

Vandag het sy geen berou oor haar loopbaankeuse nie. “Mense dink chirurgie is ʼn baie moeilike loopbaan vir vroue," sê sy. “Maar die waarheid is dat vroue op alle lewensterreine uitblink as hulle ʼn regverdige kans kry.

“Geslag is nie die enigste faktor wat bydra tot hoe ons doen wat ons doen nie; individue is talentvol, nuuskierig en toegerus met allerhande soorte karaktereienskappe en uiteenlopende persoonlikhede wat bydra tot hoe hulle werk en leef. Wat die verskil maak, is wié ons is en hoe ons mense en probleme benader."

 

LOOPBAANHOOGTEPUNTE

1995: MBChB, Universiteit van Pretoria

2001: Lid, Royal College of Surgeons, Edinburg, Verenigde Koninkryk

2004: Genoot, Kollege van Chirurge, SA

2007: MMed (chirurgie), UK

2007-2012: Spesialis, oorplantings- en algemene chirurgie, Groote Schuur-hospitaal, UK

2012-vandag: Hoof: Oorplantingseenheid, Groote Schuur-hospitaal, UK

2013: Genoot, American College of Surgeons

2016: Women in Transplantation-heldetoekenning, The Transplantation Society (TTS)

2016-2018: Medevoorsitter: Deklarasie van Istanbul-kuratorsgroep

2017-vandag: Hoof: Afdeling Algemene Chirurgie, Groote Schuur-hospitaal, UK

2018: PhD (chirurgie), UK

2018-2020: Adjunk-president, TTS

2018-vandag: Lid, Oorplantingstaakgroep, WGO

2018-vandag: Besoekende professor, Universiteit van Alabama, VSA

2019: Alan Pifer-navorsingstoekenning van UK

2019: Voorsitter: Oorplantingsfokusgroep, International Society for Nephrology

2019-vandag: Inkomende President, African Society of Organ Transplantation

2019-vandag: Besoekende professor, Universiteit van Arizona, VSA

2020-2022: Inkomende President, TTS (2022-2024-termyn)

2021: MBA, US

2021-vandag: Kennersgroep vir ondersoek en vervolging van mensehandel vir orgaanverwydering, Verenigde Nasies se Kantoor oor Dwelmmiddels en Misdaad

 

Photo credit: Damien Schumann