Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer kinders in Afrika suid van die Sahara sterf aan Covid-19 as elders
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 20/01/2022

Veel meer kinders wat met Covid-19 in hospitale in Afrika suid van die Sahara opgeneem is, sterf as kinders in hospitale in die VSA en Europa. Dít volgens ʼn nuwe multisentrum-studie onder leiding van ʼn epidemioloog in aansteeklike siektes verbonde aan die Universiteit van Pittsburgh in die VSA en die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika, wat gister (19 Januarie 2022) in JAMA Pediatrics gepubliseer is.

Van die kinders met Covid-19 wat tussen Maart en Desember 2020 in 25 hospitale opgeneem is, het babas jonger as ʼn jaar ʼn bykans vyf keer groter kans gehad om te sterf as adolessente van 15-19 jaar oud. Kinders van alle ouderdomme met onderliggende siektes, insluitende hoë bloeddruk, chroniese longsiektes, hematologiese kwale en kanker, het ook ʼn hoër sterfterisiko gehad. 

“Ofskoon ons studie gekyk het na data in vroeër stadiums van die pandemie, het die situasie nie veel vir die kinders van Afrika verander nie. Dit sal trouens na verwagting vererger noudat die hoogs aansteeklike Omicron-variant wêreldwyd kop uitgesteek het," het die hoofskrywer, Jean B. Nachega (MD, PhD, MPhil), mede-professor in aansteeklike siektes, mikrobiologie en epidemiologie aan Pitt's Graduate School of Public Health en buitengewone professor aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê. “Entstowwe is nog nie allerweë beskikbaar nie en intensiewe pediatriese sorg is nie geredelik toeganklik nie."

Die studie het die uitkomste bestudeer van 469 kinders van 3 maande tot 19 jaar wat in een van ses lande gehospitaliseer is: die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Kenia, Nigerië, Suid-Afrika en Uganda. ʼn Kwart van dié kinders het onderliggende toestande gehad. Altesame 18 van hulle het bevestigde of vermeende inflammatoriese multistelsel-sindroom gehad. Dit is ʼn ernstige komplikasie van Covid-19 wat veroorsaak dat verskillende dele van die liggaam ontsteek raak.

Die studie, wat navorsers ingesluit het van al ses die Afrika-lande wat data verskaf het, het bevind dat 34.6% van gehospitaliseerde kinders in intensiewe sorg opgeneem is of bykomende suurstof nodig gehad het. Voorts het 21.2% van dié in intensiewe sorg indringende meganiese ventilasie nodig gehad. Gedurende die tydperk van die studie het 39 van die kinders – meer as 8% – gesterf. Dít vergeleke met die sterftekoers van tussen 1% en 5% wat in hoë-inkomstelande aangeteken is.

“Die hoë morbiditeit en mortaliteit van gehospitaliseerde kinders met Covid-19 in ons studie ontlok vrae oor die heersende siening dat Covid-19 ʼn matige siekte in hierdie populasie is," het Nachega gesê. “As ʼn kind ʼn onderliggende siekte het, baie jonk is en in ʼn plek is met min of geen spesialiste, fasiliteite of toerusting vir intensiewe pediatriese sorg nie, staar die baie werklike moontlikheid van die dood daardie kind in die gesig."

Prof Mariana Kruger, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, het gesê dit is kommerwekkend dat kinders met onderliggende siektes langer in die hospitaal moet bly en swakker uitkomste het. “Omdat ons so baie kinders met komorbiditeite in Suid-Afrika het, veral met chroniese longsiekte, is dit belangrik om hierdie kinders te prioritiseer vir vroeë Covid-19-waarneming en -voorkoming met behulp van entstowwe, as dit vir die betrokke ouderdomsgroep beskikbaar is." Kruger is ook die hoof van die kliniese eenheid van Pediatriese Onkologie by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, Suid-Afrika, en ʼn medeskrywer van die studie.

Volgens Nachega toon hul bevindings die noodsaak vir die dringende verskerping van Covid-19-inentings en terapeutiese ingrypings by geskikte kinders en adolessente in Afrika wat in gevaar is. “Dit benadruk voorts die akute noodsaak vir die bou van kapasiteit en steun vir intensiewe pediatriese sorg in hierdie omgewings."

Nachega het gewys op onlangse vordering om die verskaffing van Covid-19-entstowwe in Afrika te verhoog, maar het benadruk dat daardie entstowwe nog nie allerweë beskikbaar is nie en dat net sowat 5% van die kontinent se bevolking ten volle ingeënt is.

“Covid-19-entstofhuiwering is ʼn globale probleem en Afrika is geen uitsondering nie," het hy gesê. “Dit is van deurslaggewende belang dat bewysgebaseerde openbare gesondheidsveldtogte bekommernisse op toeganklike, betroubare wyses aanpak sodat daar ʼn hoë inentingskoers is sodra entstowwe beskikbaar is."


Foto-onderskrif: Prof Jean B. Nachega