Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Mark Cotton: Pionier met ʼn hart vir kinders
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 23/12/2021

Die einde van ʼn betekenisvolle era sal aanbreek wanneer prof Mark Cotton einde vanjaar ná ʼn lang, voortreflike loopbaan as ʼn globale spesialis in aansteeklike pediatriese siektes aftree.

Cotton, uitgelese professor in pediatrie, asook Hoof van die Afdeling Aansteeklike Pediatriese Siektes in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is ʼn wetenskaplike met ʼn A-gradering en ʼn loopbaan wat hom as ʼn pionier op die gebied van MIV gevestig het. Hy was sedert die heel begin van die MIV-pandemie in Suid-Afrika verantwoordelik vir die bestuur van MIV-positiewe kinders, asook een van die eerste dokters wat kinders met antiretrovirale middels (ARM's) behandel het.

Hy het die Afdeling Aansteeklike Pediatriese Siektes in 1996 by die Tygerberg-kinderhospitaal gevestig en het in 2002 die Direkteur van Kidcru, die Kliniese Navorsingseenheid vir Aansteeklike Kindersiektes, by die FGGW en die Tygerberg-hospitaal geword. In 2013, toe volwasse MIV-proewe daarby ingesluit is, het die naam verander na Famcru (die Kliniese Navorsingseenheid vir Gesinne) en nog later na die Gesinsentrum vir Gesondheidsnavorsing met Ubuntu. Famcru het satelliettereine in Kraaifontein, Khayelitsha en Worcester en onderneem navorsing in pediatriese en volwasse aansteeklike siektes met ʼn fokus op MIV, TB, MIV/TB-ko-infeksie en algemene aansteeklike kindersiektes.

Cotton was by talle MIV-verwante kliniese proewe betrokke, insluitende die CHER-studie oor kinders met MIV wat vroeg antiretrovirale terapie ontvang het, wat die riglyne met betrekking tot antiretrovirale middels verander het.

Al het hy die aftree-ouderdom van 65 bereik, sal Cotton ʼn paar betekenisvolle navorsingsprojekte oor aansteeklike siektes voortsit. “Die meeste hiervan is proewe – party kleiner en ander groter," het hy in ʼn onderhoud gesê. Hy sal voorlopig die Direkteur van Famcru bly, maar oorweeg om later volgende jaar van dié pos afstand te doen.

“Ek voel wel ʼn bietjie hartseer, want dit is die einde van iets en ek beweeg nou ʼn nuwe fase binne. Wat wel eindig, is my kliniese diens," het hy gesê.

Hy is bly dat hy voortaan meer tyd sal hê om op sy familie te fokus. “Ons het ʼn seun in Engeland wat een van die dae ʼn seuntjie ryker word, asook ʼn dogter wat einde Desember saam met haar gesin na Australië emigreer. Dit is vir ons belangrik om daar te wees om ons kinders en kleinkinders te ondersteun."

Van die projekte in sy visier is om ʼn persoonlike relaas te skryf oor hoe dit was om in “'n moeilike era" te werk, asook om deur die skrywes van sy oorlede broer, Roy Joseph, te werk en dit moontlik te publiseer.

Cotton is in Goodwood in die noordelike voorstede van Kaapstad gebore en getoë. Sy pa, ʼn apteker wat ʼn dokter wou word maar dit nie kon bekostig nie, het hom geïnspireer om medies te studeer. Hy het aan die Settlers High School in Bellville gematrikuleer. Daarna het hy sy mediese graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal, asook ʼn PhD aan die Universiteit Stellenbosch.

Uitgevra oor sy reis met kinders wat met MIV leef, het Cotton hartverskeurende oomblikke beskryf toe hy gewerk het met “kindertjies en hul gesinne wat deur die virus verniel is".

“Party kinders was ware vegters en ons het hulle leer ken. Om op die een of ander manier ARM's vir hierdie kinders te bekom, was ʼn blywende passie.

“Een van die aaklige kwessies was wanneer ʼn kind regtig siek was en intensiewe sorg nodig gehad het, maar daar te min beddens in die intensiewesorg-eenheid was. Daar is baie gedebatteer of hulle in intensiewe sorg opgeneem moes word as daar geen hoop vir hulle was nie. Dit het ʼn vreeslike tol van almal van ons geëis … maar ons het regtig alles moontlik vir daardie kinders gedoen."

ʼn Groot hoogtepunt in sy loopbaan was volgens Cotton sy betrokkenheid by die CHER-proefneming. “Dit het getoon hoe belangrik dit is om siek kindertjies gou te identifiseer en vroeg met behandeling te begin.

“Ons het soveel oor vroeë behandeling geleer. Dit het die grondslag vir MIV-remissienavorsing gelê. In enige sodanige navorsing moet jy ARV's in ʼn stadium versigtig onttrek. Ons het in die CHER-proefneming ARV's by 200 kinders onttrek en hulle het tydens ses jaar van waarneming geen nadelige gevolge getoon nie.

“'n Belangrike les van hierdie proefneming was hoe ons daarin geslaag het om die kollektiewe goedheid van mense wat saam aan iets belangriks werk, na vore te bring. Dit is die sleutel in al ons strewes."

Oor die werk wat nog vir hom voorlê, het Cotton gesê Famcru is geaffilieer by die Impaact-groep (die International Maternal Pediatric Adolescent AIDS Clinical Trial), wat deur die National Institute of Allergy and Infectious Diseases (NIAID) in die VSA gefinansier word. “Ons het nog sewe jaar se befondsing om proefnemings vir hierdie netwerk voort te sit, waarvan talle op MIV betrekking het. Ons is ook besig met heelwat ander studies en ek is by twee TB-entstofstudies betrokke.

“Ons doen voorts ʼn terapeutiese MIV-entstofstudie. Dit behels dat ʼn terapeutiese entstof toegedien word aan iemand met MIV om die immuunstelsel 'op te voed', met die langtermyn-doelwit om ARV-behandeling te onttrek en dit met beter immuniteit te vervang. Hierdie studie is in ʼn vroeë stadium en dit is ʼn veld waarin ons baie belangstel," het Cotton gesê.

“Op ʼn persoonlike vlak: Nadat ek met MIV in daardie vroeë, aaklige stadium begin werk het toe daar geen behandeling was nie en dit gesinne en kinders verwoes het, en ek daarna toegang tot en die verfyning van behandeling beleef het, glo ek die volgende werklike belangrike navorsingsfase sal ʼn fokus op ʼn geneesmiddel of remissie wees.

​“Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit kan bereikbaar wees," het Cotton afgesluit.