Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Simon Schaaf: ʼn loopbaan van uitnemendheid, diens en ‘genade’
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 21/12/2021

Toe professor Simon Schaaf – een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde pioniers wat navorsing oor veelvoudige weerstandige tuberkulose (MDR-TB) aanbetref – sy afskeidstoespraak aan kollegas gelewer het, was die titel van sy praatjie 'ʼn Reis van Genade'.

Schaaf, ʼn uitgelese professor aan die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal, het sy praatjie met ʼn aanhaling van William Osler afgeskop: “Die geneeskunde praktyk is ʼn kuns, nie ʼn ambag nie; ʼn roeping, nie ʼn besigheid nie; ʼn roeping wat jou hart soveel as jou kop sal oefen."

Schaaf het in ʼn onderhoud gesê dit is presies hoe hy sy merkwaardige dekadeslange mediese loopbaan as professor, navorser en klinikus by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe beskou.

“Vir my was geneeskunde voorwaar ʼn roeping. Ek het regtig my loopbaan geniet en ek was mal daaroor om werk toe te kom," het hy gesê.

Schaaf se werk was daarvoor geprys dat dit die begrip en bestuur van tuberkulose, veral by kinders, verbreed het, en dit was op ʼn aantal geleenthede vereer. In 2012 het hy ʼn A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting gekry, en hy het die hoogste burgerlike eer in Suid-Afrika ontvang – die Orde van Mapungubwe (silwer) vir sy baanbrekerswerk in MDR-TB navorsing.

Schaaf, ʼn getroude pa van ʼn 33-jarige seun en oupa van twee kleinkinders wat in die Verenigde Koninkryk woon, is adamant dat alhoewel hy aftreeouderdom bereik het, hy inderdaad net “van een werk na ʼn ander gaan skuif".

“Ek werk tans vir beide die Wes-Kaapse Provinsie en die universiteit. Ek tree af by die Provinsie aangesien hulle jou nie toelaat om te werk na die ouderdom van 65 nie. Ek gaan steeds vir drie dae ʼn week by die universiteit werk aan belangrike take wat met navorsing verband hou. Dus staan ek terug, maar ek tree nie af nie!"

Schaaf is deel van ʼn navorsingspan by die Desmond Tutu TB-sentrum, en buiten ʼn paar ander kleiner projekte sal hy voortgaan met sy navorsing oor TB in kinders, met ʼn spesifieke fokus op middel-weerstandige TB.

“Ek verkies om die te sien as ʼn afskaling. Dit sal wel baie lekker wees om ʼn bietjie vrye tyd te hê om saam met my vrou en in die tuin deur te bring," het hy gesê.

Schaaf, wie se ouers van Nederland geïmmigreer het, is in 1956 in Kaapstad gebore. Hy was een van vyf kinders en het aan die Zwaanswyk Hoërskool in Retreat gematrikuleer, en het daarna geneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer. In 1980 het hy sy mediese graad verwerf met ʼn onderskeiding in pediatrie, en in 1988 het hy sy MMed in Pediatrie cum laude geslaag. In 2002 het hy ʼn MD in Pediatrie en Kindergesondheid ontvang, waarna hy sy FCPaed (SA) deur eweknie evaluering van die Kolleges van Geneeskunde in Suid-Afrika gekry het. In 1989 het hy ʼn diploma in Gemeenskapsgeneeskunde, ook cum laude verwerf.

As ʼn aktiewe klinikus en ʼn infeksiesiektes subspesialis het Schaaf vêrreikende navorsing gedoen oor, onder andere middel-weerstandige waarneming van TB in kinders, die farmakokinetika van TB-teenmiddels in kinders, MIV/TB koinfeksie, kinder-TB diagnose, TB-meningitis en nuwe behandelingstrategieë.

Hy was die outeur en mede-outeur van meer as 300 eweknie-geëvalueerde artikels, meer as 25 boekhoofstukke en het ook twee boeke oor tuberkulose geredigeer. Hy was mederedakteur van die boek Tuberculosis: a comprehensive clinical reference wat in 2009 gepubliseer is.

Uitgevra oor die hoogtepunte van sy loopbaan, het Schaaf gesê dat as iemand wat homself primêr as ʼn klinikus beskou, was die gunsteling deel van sy werk om met pasiënte te werk. “Ek het genot daaruit geput om te sien hoe hulle beter word. Elke keer as ek ʼn regte diagnose gemaak het en gesien het hoe die pasiënt verbeter – veral met komplekse gevalle – was dit ʼn hoogtepunt vir my."

Hy het dit ook geniet om by navorsing betrokke te wees. “Dit het natuurlik gevolg op die kliniese werk aangesien jy wil verbeter in wat jy vir die kinders doen, en die enigste manier om dit reg te kry is deur navorsing te doen en resultate te kry wat uitkomste vir kinders sal verbeter. In die proses kry jy erkenning wat somtyds welverdiend voel, en ander kere is dit net genade."

Nog ʼn hoogtepunt van sy loopbaan was om ʼn boek oor TB vir volwassenes en kinders saam te stel, wat volgens hom baie goed ontvang was – 12 jaar nadat dit gepubliseer is, is dit steeds ʼn handige hulpbron.

Vanselfsprekende hoogtepunte was toe hy sy A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang het, wat volgens hom “ʼn verrassing was"; asook oom die hoogste burgerlike eer in Suid-Afrika, die Nasionale Orde van Mapungubwe (silwer) te ontvang – hy gee toe dat hy gedink het dit was ʼn bedrogspul toe hy aanvanklik die brief ontvang het.

Hy het gesê dat die MIV-era en die ervaring om getuie te wees tot al die dood onder kinders was laagtepunte in sy loopbaan.

“In die vroeë negentigerjare het ek die MIV-kliniek bestuur toe daar geen antiretrovirus middels beskikbaar was nie. Jy kon nie veel vir die kinders doen nie. Ons het vir hulle die beste sorg gegee wat ons moontlik kon, maar baie van hulle het steeds gesterf aangesien daar niks was wat die siekte kon beheer nie. Dit was regtig moeilik. Dit het lank geneem voordat ons werklik goeie behandeling vir hulle gehad het. Ek vir amper 20 jaar lank ook by die seksuele aanrandingskliniek gewerk, wat baie moeilik was. Hierdie diens het sedertdien na die Karl Bremer-hospitaal geskuif. Ek glo steeds dat ons nie genoeg doen om kinders te beskerm teen mishandeling en seksuele aanranding nie. Dokters is huiwerig om betrokke te raak aangesien dit baie tyd opneem en beteken dat jy moontlik hof toe moet gaan. Dit was nogal moeilik, maar dit was baie belangrik dat jy jouself afsluit van die pasiënte sodra hulle by die deur uitgaan."

Nieteenstaande hy steeds medies aktief sal wees, sien Schaaf daarna uit om meer te stap, meer ure deur te bring in sy tuin en saam met sy vrou, Francoise, wat hy sy grootste ondersteuner noem.

Hy het hulde gebring aan ʼn lang lys van mentors deur die loop van sy loopbaan. “As jy in ʼn hospitaal werk of in navorsing, werk jy altyd in ʼn span. Niks wat ek bereik het, het ek op my eie gedoen nie."