Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste M-graad in aandagtigheid by US behaal
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Anina Visser
Gepubliseer: 15/12/2021

Een van vanjaar se talle unieke gradeplegtighede van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan dié van Nikki Boyd wees – die eerste student wat met ʼn MPhil-graad in aandagtigheidsnavorsing (“mindfulness research") van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) sal gradueer.

Boyd, ʼn geregistreerde berader wat in gedagtigheidsintervensies opgelei is, is die eerste student wat hierdie graadprogram aan die US voltooi het. Nog twee studente berei tans hul navorsingsprotokolle voor.

Die MPhil in gedagtigheidsnavorsing is die eerste van sy soort op die kontinent en is in talle opsigte ʼn baanbrekersprogram in Suid-Afrika en Afrika. Onderrig en navorsing oor gedagtigheidsgebaseerde intervensies (GGI's) word grootliks in Amerika en Europa onderneem, teenoor die beperkte navorsing op dié gebied in ontwikkelende lande – en dít is waar die FGGW-program nuwe terrein wil ontgin.

Ontwikkeling van ʼn navorsingsbasis

“Ondanks die toenemende volume van gedagtigheidsnavorsing internasionaal, is daar 'n skaarste aan GGI-navorsing in die Afrika-konteks," sê dr Debbie Alexander (PhD), sameroeper van die MPhil-graadprogram.

“Die doelwit met die program is om ʼn konteks-sensitiewe navorsingsbasis vir Suid-Afrika (en Afrika) vir die toepassing en inwerkingstelling van gedagtigheidsbenaderings in diverse aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing te ontwikkel."

Die MPhil in gedagtigheidsnavorsing, wat deur die Departement Psigiatrie in samewerking met die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg aangebied word, strek oor een jaar heeltyds of twee jaar deeltyds. Die doelwit is om leiding te verskaf aan navorsers wat op ʼn gevorderde vlak tot die ontwikkeling van kennis op die gebied van GGI's kan bydra.

“Die MPhil vul die US se sertifikaatprogram aan, wat oor twee jaar strek en opleiding aan gesondheidspraktisyns bied om GGI's op ʼn konteks-sensitiewe wyse aan te bied," verduidelik dr Simon Whitesman (MBChB), Direkteur van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Gedagtigheid en van die sertifikaatprogram in gedagtigheidsgebaseerde intervensies.

Volgens Alexander het die MPhil-program op ʼn breër gemeenskapsvlak ten doel om navorsingsuitnemendheid op die gebied van GGI's te ontwikkel tot voordeel van pasiënte, die gemeenskap en die land – en as sodanig ʼn impak op die samelewing te hê.

Behoud van integriteit

“Gedagtigheid is ʼn inherente menslike vermoë wat doelbewus gekweek kan word deur aandag aan persoonlike verskynsels te skenk en met ʼn houding van welwillendheid, nuuskierigheid en ʼn afwesigheid van oordeel deur die huidige oomblik te beweeg," verduidelik Alexander.

Danksy die bewysgebaseerde doeltreffendheid van gedagtigheid het dit oor die afgelope dekade toenemende aandag as ʼn kliniese benadering geniet. Maar Alexander waarsku dat die toenemende popularisering van GGI's en die feit dat dit al hoe meer hoofstroom-aandag geniet, mettertyd die integriteit van dié benadering kan verswak. “In hierdie konteks is die doeltreffende en etiese opleiding van dosente om GGI's in diverse kontekste te bied ʼn belangrike ontwikkeling in die pedagogie van gedagtigheid."

Oor die toekoms van die program sê Alexander sy hoop studentegetalle sal toeneem sodat die oorspronklike doelwit bereik kan word: om ʼn konteks-sensitiewe navorsingsbasis vir Suid-Afrika en Afrika te ontwikkel sodat gesondheidspraktisyns gedagtigheidsbenaderings met groter wysheid in ʼn diverse Suid-Afrikaanse samelewing en in die kontinent kan toepas en in werking stel.

Besoek die FGGW se webwerf vir meer inligting oor die MPhil in gedagtigheidsnavorsing.

Klik hier vir meer inligting oor vanjaar se US-gradeplegtighede.