Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gendergebaseerde geweld en menseregte
Outeur: Dr Jill Ryan and Werner van Kerwel
Gepubliseer: 14/12/2021

Geweld teen vroue het wêreldwyd beduidend toegeneem, maar in Suid-Afrika het dit pandemiese omvattings aangeneem. Hoewel daar ʼn daadwerklike poging in ons wetgewende omgewing aangewend word om geregtelike reaksie en toegang vir slagoffers te versterk, soos die onlangs gewysigde wetgewing oor gendergebaseerde geweld (GGG)[i] getuig, sien ons dat die geweldvlakke steeds styg. Geweld teen vroue en kinders word deurlopend uitgelig as ʼn kommerwekkende kwessie, wat te verstane is in ʼn land waar een uit elke vier vroue deur ʼn intieme lewensmaat vermoor word[ii]. Kindermishandeling en -verwaarlosing dra beduidend by tot die dood van kinders onder die ouderdom van vyf[iii].

Geweld is egter diepgaande verstrengel in die ruimtes waar alle kwesbare en gemarginaliseerde groepe hulle bevind. Hierdie groepe, waaronder mense met gestremdhede, bejaardes, vlugtelinge en asielsoekers, ongedokumenteerde migrante en talle LGBTQIA+-individue, word dikwels oorgesien en onderbedien weens dubbelsinnigheid in die interpretasie van wetgewing (soos skuiling bied aan ongedokumenteerde persone) en versuim om wetgewing toe te pas. Voorts het geweld en marginalisering ongetwyfeld beduidend toegeneem tydens die Covid-19-pandemie. Hierdie toename in gewelddadige optrede, swak implementering van voorkomingstrategieë en onvoldoende reaksie is immers ʼn deurlopende aantasting van ons grondliggende menseregte. Menseregte word in ons nasionale grondwet en in bekragtigde internasionale en streeksondernemings gehandhaaf.

Gedurende die 16 dae van aktivisme herdenk die laaste dag Internasionale Menseregtedag, wat tyd bied vir ernstige besinning as ʼn mens in ag neem wat menseregte veronderstel is om aan ons te bied, in teenstelling met die vlak van geweld waarmee ons tans gekonfronteer word.

Gendergebaseerde geweld word op internasionale vlak erken as ʼn oortreding wat die regte skend wat in die Universele Verklaring van Menseregte (UVMR) uiteengesit word. Geweld teen vroue is ʼn oortreding van artikel 3 van die UVMR, wat die reg op lewe, vryheid en persoonlike veiligheid bepaal. Artikel 5 van die UVMR bepaal vryheid van marteling of wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf. Dit blyk duidelik uit die UVMR dat die mees grondliggende menseregte die waardigheid van individue in die samelewing wil beskerm en menselewens teen vernedering en onbillike behandeling wil vrywaar – die teenoorgestelde van wat ons in GGG sien.

Suid-Afrika het talle internasionale en streeksondernemings bekragtig, wat ʼn beroep doen op die beskerming van kwesbare persone deur kapasiteitsbou in ontwikkeling, die uitskakel van ongelykheid, die voorsiening van maatskaplike beskerming, geteikende gesondheidsorg en uiteindelik die uitskakeling van geweld. Hierdie ondernemings sluit in die Konvensie vir die Uitwissing van alle Vorms van Diskriminasie teen Vroue (CEDAW), die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte (Afrika-handves), die Maatskaplike Beleidsraamwerk vir Afrika, die Protokol tot die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte oor die Regte van Vroue in Afrika (die Maputo-protokol) onder baie andere. Baie van wat in bogenoemde verdrae en verpligtinge beskryf word, is in die Handves van Regte van die Grondwet van Suid-Afrika opgeneem. Nasionale wetgewing wat op GGG gemik is, sluit in die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998, die wysigingswet op die strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) (2012),[VKWM[1]  die Wet op Onderhoud 99 van 1998, en die Wet op die Beskerming teen Teistering 17 van 2011. Dit dui dalk op ʼn duidelike politieke wil om geweld teen te werk, maar die regering se onderbelegging in hulpbronne en ondersteuning[iv], swak implementering deur beperkte gesondheidsdienste, onvoldoende opgeleide polisiebeamptes[v],vi, en ondergefinansierde regsdienste[vi] ondermyn beslis die vordering wat ons in die uitskakeling van GGG wil sien.

In 2021 vier die veldtog van 16 dae van aktivisme sy 30ste herdenking en, heel gepas, is die tema vir vanjaar 'van bewustheid tot aanspreeklikheid'[vii]. Heelwat aanvoorwerk is reeds met opvoeding en bewustheid gedoen. Dit is egter nou tyd om ernstig te begin besin oor die rol wat ons in die bevegting van GGG moet speel. Ons moet erken dat ons verantwoordelikheid moet begin deel en nie verantwoordelikheid verskuif nie, omdat geweld interseksioneel is en die weefsel van ons samelewing deurtrek, sodat dit nie tot een groep of sektor beperk is nie, maar ʼn kwessie is wat ons almal raak.


 Skrywers:

Dr Jill Ryan is Koördineerder vir Geweldlose Genderinteraksie by die Eenheid vir Gelykwaardigheid, onder Onderrig en Leer. In hierdie portefeulje koördineer, ondersteun en verrig Dr Ryan werksaamhede soos opleiding, intervensies en skakeling vir ʼn omvattende institusionele reaksie op gendergeweld aan die Universiteit Stellenbosch.

Werner van Kerwel is ʼn regspraktisyn wat as ʼn gevalle-ondersoek- steunbeampte by die Eenheid vir Gelykwaardigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) werk. By die US is Werner verantwoordelik vir die ondersoek van gevalle wat verband hou met onbillike diskriminasie, seksuele teistering, teistering en viktimisering. Werner dien ook op die ondersoekpaneel wat verdere ondersoek na klagtes doen.


[i]South Africa: Broken Promises to Aid Gender-Based Violence Survivors | Human Rights Watch (hrw.org)

[ii]#SayHerName: The faces of South Africa's femicide epidemic - The Mail & Guardian (mg.co.za)

[iii]Mathews, S., Martin, L. J., Coetzee, D., Scott, C., Naidoo, T., Brijmohun, Y. & Quarrie, K. (2016). The South African child death review pilot: A multiagency approach to strengthen healthcare and protection for children. South African Medical Journal106(9), 895-899.

[iv]CGE_Report_on_Shelters_2019.20.pdf (pmg.org.za)

[v]hbf_saps_research_paper_web_1.pdf (boell.org)

[vi]Treaty bodies Download (ohchr.org)

[vii]16 Days of Activism 2021 | South African Government (www.gov.za)


 [VKWM[1]WYSIGINGSWET OP DIE STRAFREG (SEKSUELE MISDRYWE EN VERWANTE

AANGELEENTHEDE)