Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herskikking van algoritme van haar lewe lei tot MA-graad vir kunstenaar
Outeur: Sue Segars
Gepubliseer: 13/12/2021

​Vir Rosemary Lapping-Sellars, wat pas haar meestersgraad in die beeldende kunste ontvang het, is die voltooiing van haar graad die hoogtepunt van haar lewenslange kunsloopbaan. 

Lapping-Sellars, wat haar kwalifikasie oor twee jaar voltooi het, het Maandag, 13 Desember haar graad by een van die Universiteit Stellenbosch (US) se hibridiese gradeplegtighede ontvang. 

Lapping-Sellars se MA, getiteld Vulnerability Laid Bare, A Dialogue without Utterance, fokus op die subjektiewe impak van COVID-19 op mense se alledaagse bestaan en op onbestendige gemeenskappe. Haar praktiese werk sal gedurende Januarie 2022 in 'n uitstalling, getiteld A Dialogue without Utterance, by die Rust-en-Vrede-kunsgalery en kleimuseum in Durbanville te sien wees. 

Op 'n vraag oor hoe sy daaroor voel dat sy haar meestersgraad in net twee jaar voltooi het, antwoord Lapping-Sellars die volgende: “Om tagtig te wees, is niks anders as om twintig tot veertig te wees nie – dit is net 'n getal! My lewe as 'n eerlike kunsmaker is in die wese van 'n vrou saamgevat wat die lande omploeg ondanks die droogte, en wat elke dag as 'n oomblik propvol potensiaal en moontlikhede beskou …" 

Lapping-Sellars sê sy het haar meestersgraad aangepak weens 'n seminale keerpunt in haar lewe – toe haar man Sean Sellars, emeritus-professor in oor-neus-en-keel-heelkunde aan die Universiteit van Kaapstad (UK) (Groote Schuur-hospitaal), skielik in 2019 oorlede is. 

“My vier kinders woon almal oorsee en ek was, om dit eenvoudig te stel, verplig om die algoritme in my kop te herskik. Later dieselfde jaar het 'n vriend kom kuier en baie reguit vir my gesê: 'Jy het geen ander keuse as om jou lewe te heroorweeg nie, gaan studeer weer – doen jou meestersgraad – dit sal fantasties wees vir jou'." 

Inspirasie

Die res is geskiedenis. Lapping-Sellars se MA is, in haar eie woorde, “sterk beïnvloed deur COVID-19. Dit was 'n skeppende poging om die sensasie van uiterste kwesbaarheid in 'n kunsmedium vas te vang en om sensasie in die vorm van gebare en uitdrukking weer te gee, en daardeur 'n stil stem aan so 'n sentiment te gee as 'n vorm van taal," skryf sy in haar inleiding van haar meesters. 

Die corpus van werk in haar MA bestaan uit drie kategorieë – 'n versameling keramiekfigure wat mense uitbeeld wat toevlug soek en is getiteld “Times of Despair; 'n reeks kunswerke wat deur daagliks nuusgebeure geïnspireer is, getiteld “Dispatch"; en 'n versameling keramiekhouers wat die drankofferhouers uitbeeld wat gedurende offerplegtighede gebruik is om hoër magte op te roep en is getiteld “Reflection". 

“Die term “liminaalheid" deurdring die werk. Dit is deur middel van implikasie gebruik om 'n gevoel tussen een en 'n ander te beskryf; 'n vlietende sensasie wat van maker tot kyker deur die kunswerk oorgedra word," sê Lapping-Sellars. 

Lewensreis

In 'n leeftyd wat aan kuns en keramiek toegewy is, het Lapping-Sellars 'n Baccalaureus-graad in Beeldende Kunste en Sielkunde van die destydse Universiteit van Natal verwerf. Hierna het sy 'n pos as hoof van die keramiekdepartement by die voormalige Port Elizabeth Technikon aanvaar. 'n Jaar later het sy na haar tuisstad, Pretoria, teruggekeer om 'n kinderkunsateljee te open. Sy het ook vir twee jaar in Frankryk gewoon en het vir 'n tyd lank kuns gegee by die NATO-basis in Fontainebleau. Sy woon nou in Kaapstad. 

Lapping-Sellars het in 1985 'n honneursgraad in Beeldende Kunste aan UNISA verwerf. Sy het as mederedakteur van die tydskrif van die Keramiekvereniging van Suid-Afrika gewerk, 'n pos wat haar in staat gestel het om “oor die medium van klei as 'n bona fide-kunsmedium" te skryf. Sy het die ateljees van die beste keramiekkunstenaars in Brittanje besoek, en het saam met haar “'n hele nuwe estetika gebring vir die ietwat tradisionele werk wat hier in Suid-Afrika gelewer is" en het lesings gegee wat sy glo tot 'n vars uitkyk op gevuurde klei in die land gelei het. 

Lapping-Sellars het in 1983 die keramiekdepartement by die Herschel-skool begin en het dit uitgebou tot 'n sentrum met 140 studente. Sy en haar man het vanaf 1999 vir ses jaar in Ierland gewoon waar sy 'n korrespondensiekursus by die Opus-tekstielskool voltooi het en tot haar uitstalling in Londen saam met die skool in 2004 gelei het. Ná haar terugkeer na Kaapstad in 2006 het sy 'n multimedia-onderrigateljee vir volwassenes geopen wat sy tot 2016 bedryf het. 

Lapping-Sellars het tydens die onderhoud ook haar studieleier, prof Elizabeth Gunter, geloof deur te sê sy het 'n “merkwaardige" invloed op haar werk gehad. “Sy het 'n nuwe respons by my ontlok. Sy was die wind in my seile. Die hele ervaring by die Universiteit Stellenbosch was inderdaad wonderlik." 

Oor haar kunstenaarslewe sê Lapping-Sellars nadenkend die volgende: “My kompulsie om kuns te skep is ingebed in my siel en my hele volwasse lewe lank het ek die vreugde gehad om kuns te skep, om 'n ateljee te besit – meer spesifiek 'n keramiekateljee – waar ek kon skep, my vaardighede vir ander kon leer en my werk kon ten toon stel." 

Oor wat volgende op haar wag, sê sy: “Ek gaan aanhou werk in my ateljee en mense leer en reis en miskien 'n boek skryf." 

Fotograaf: Stefan Els