Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe om voordeel te trek uit verhoogde belastingvoordele voor die einde van 2021
Outeur: Lauren Jimmy
Gepubliseer: 02/12/2021

Namate die jaar tot 'n einde kom, raak die kanse minder om belastingbesparings onder die Verenigde State se Wet op Koronavirusbystand, ‑verligting en ekonomiese sekuriteit (CARES‑wet) te maksimaliseer. Vir die afgelope twee jaar het die CARES-wet die belastingvoordele vir liefdadigheidskenkings aansienlik verhoog, maar dié voordele verval aan die einde van die jaar. Hier kyk ons wat die voordele behels en hoe jy dit die beste kan gebruik om studente van die Universiteit Stellenbosch te help.

Die CARES-wet, wat die COVID‑19‑verligtingspakket reguleer, het twee belangrike belastingbepalings wat liefdadigheidskenkings in 2020/2021 aanmoedig. Eerstens laat dit belastingbetalers toe om tot $300 van hul liefdadigheidskenkings af te trek sonder om dié aftrekkings te itemeer. Tweedens is die 60%-perk vir belastingbetalers wat wel hul aftrekkings itemeer, tot 100% van hul aangepaste bruto inkomste opgestoot. Kom ons kyk in detail wat dit beteken, en hoe dit jou skenkings raak.

Voor die CARES-wet in werking getree het, kon slegs belastingbetalers wat hul aftrekkings itemeer, liefdadigheidsbydraes van hul belasbare inkomste aftrek. Om aftrekkings te itemeer, is die proses waarvolgens jy sekere uitgawes aftrek om jou belasbare inkomste te verminder. Die regering bied hierdie geleentheid om uitgawes op bepaalde items aan te moedig, soos om 'n huis te koop. Diegene wat wel hul aftrekkings itemeer, kan steeds 'n aftrekking vir liefdadigheidsbydraes doen, maar ten einde liefdadigheidskenkings aan te moedig is die aftrekbare bedrag van 60% tot 100% verhoog.

Boonop laat die CARES-wet belastingbetalers nou toe om tot $300 af te trek van die kontantskenkings wat aan kwalifiserende liefdadigheidsorganisasies gemaak word, sonder om hul aftrekkings te itemeer. Dit beteken 'n groter deel van die bevolking kan hierdie belastingvoordeel benut. Dit word 'n “bo-die-lyn-aftrekking" genoem, en dit beteken sowel jou aangepaste bruto inkomste as jou belasbare inkomste is minder, wat uiteindelik die inkomstebedrag verminder wat jy aan die federale regering verskuldig is. Die $300‑aftrekking geld slegs vir kontantskenkings, wat geldeenhede, tjeks, krediet- of debietkaarte en EFT's insluit, en dit is slegs vir kwalifiserende (501(c)(3))‑organisasies. Die Vriende van die Universiteit Stigting is 'n geregistreerde stigting wat onder artikel 501(c)(3) van die kode vir inkomstebelasting ressorteer. Indien jy 'n skenking aan een van die projekte onder ons jaarlikse Bridge the Gap‑veldtog maak, is jy dus op 'n aftrekking ingevolge die CARES‑wet geregtig.

Die skenking van langtermyn- geappresieerde bates soos aandele is nog 'n slim skenkingstrategie. Indien jy ander eiendom as kontant skenk, kan jy volgens die VS‑inkomstediens (IRS) gewoonlik die billike markwaarde van daardie eiendom van jou inkomstebelasting aftrek. Dit kan dus nog 'n manier wees om 'n skenking aan die Vriende van die Universiteit Stellenbosch Stigting te maak.

Om voordeel te trek uit hierdie buitengewone belastingaansporings ingevolge die CARES‑wet moet jy jou liefdadigheidsbydraes teen die einde van die belastingjaar maak, aangesien dit teen 2022 verval. Die Bridge the Gap Jaarfonds ondersteun 'n verskeidenheid sake wat van groot belang vir die studente aan jou alma mater is, en alle bydraes kwalifiseer as belastingaftrekkings via die Vriende van die Universiteit Stellenbosch Stigting.

Bronne: