Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties stel hul kuns ten toon by nuwe Alumni-klubhuis
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 11/11/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge het onlangs sommer dubbel feesgevier by die bekendstelling van sy 2021 US Alumni-kunsuitstalling asook die amptelike opening van die Alumni-klubhuis by Die Stal.

Die kunsuitstalling, wat deur onder andere Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers en Toyota US-Woordfees se programdirekteur, Saartjie Botha, bygewoon is, het uit 'n mengsel van verskillende kunstenaars en genres bestaan. Die uitstalling bestaan uit werke van 25 kunstenaars, waaronder Paul Emsley, Tamlin Blake, Gregory Kerr, Louise Gelderblom, Mariambibi Khan, Theresa Jo Wessels en Carine Terreblanche.

Alumnus en ereprofessor in Ekonomie Rudolf Gouws het die openingsrede gelewer en ook 'n aantal van sy beeldhouwerke by die geleentheid uitgestal. Dit het werke van sy kleinseun met die titel "Nicholas" en die bronsbeeld "Sonskyn" ingesluit.

Hy het gesê dié uitstalling is net een van die redes waarom kunsliefhebbers wat in en om Stellenbosch woon so bevoorreg is.

“Ander redes sluit in die US se Departement Visuele Kunste; die meer as 20 kunsgalerye in en om die dorp en in nabygeleë dorpe Franschhoek en Wellington; die Universiteitsmuseum; die Rupert Museum, die Woordfees se visuele kunsafdeling wat kunstenaars die geleentheid bied om hul werk uit te stal en te verkoop; en die natuurlike skoonheid rondom die dorp wat nie net landskapskilders inspireer nie, maar almal wat kuns wil skep."

Gouws het ontnugterende, maar terselfdertyd ook konstruktiewe raad gehad vir kunstenaars wat 'n bestaan uit hul werk wil maak.

“Iets sal net verkoop as daar iemand is wat bereid is om die prys daarvoor te betaal. 'n Kunstenaar se geleentheidskoste (die inkomste wat die kunstenaar verbeur deur sy of haar tyd te gebruik om te skilder of te beeldhou eerder as om 'n ander vorm van betalende werk terselfdertyd te doen) en siening van sy waarde is grootliks irrelevant. Plato het gesê, 'Beauty lies in the eyes of the beholder'. In hierdie geval is die beholder die potensiële koper. 'n Mens kan filosofies wees oor wat waarde uitmaak, maar in praktiese terme is die waarde van 'n kunswerk, soos met die meeste ander dinge, die prys wat iemand bereid is om daarvoor te betaal.

“Dit is waar dat slegs 'n klein aantal kunstenaars regtig ryk word. Heelwat kunstenaars sal finansieel goed doen, maar die meerderheid sal net genoeg verdien om 'n bestaan te voer. Maar hulle is gelukkig met hulle lot. Hulle doen wat hulle nog altyd wou doen. Hulle word nie gedryf deur die behoefte om geld te maak nie."

"Kreatiwiteit by die US vier hoogty op baie vlakke. Die eerste alumni uitstalling by Die Stal is bewys daarvan. Dit was inderdaad 'n eer om die uitstalling saam met Ilse Schermers en Anne-Ghrett Coetzee die lig te laat sien. Die standaard is hoog, maar ons sien uit na nog meer uitstallings van talentvolle alumni," sê Pieter Swart, Direkteur: Groot skenkings en Transformerende skenkings aan die US en die dryfveer agter hierdie uitstalling.

Die verwagting is dat die US Alumni-kunsuitstalling jaarlikse aangebied sal word.

Die Alumni-klubhuis by Die Stal, geïnspireer deur Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge, sal die eerste aansluitingspunt wees vir alle alumni wanneer hulle na die kampus toe terugkeer. Hulle kan 'n verwelkomende omgewing verwag wat as 'n beginpunt na die alumninetwerk dien. Inligting sal daar beskikbaar wees, asook handelsware en memorabilia wat in die winkel verkoop sal word. Kampustoere sal ook daar begin en eindig.

“Ons beplan om 'n verskeidenheid sosiale en netwerkgeleenthede aan te bied. Dit kan boekbekendstellings, gaslesings, klein reünies, groot geleenthede soos Tuiskoms, koshuissport, die Varsitybeker, gradeplegtighede en die jaarlikse Verwelkomingsdag vir eerstejaars insluit," het Bruns gesê.

  • Die Alumni-kunsuitstalling is oop vir die publiek vanaf 9 November tot 31 Januarie 2022, Maandag tot Vrydag tussen 09:00 en 15:00.