Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innovus wen DSI-SARIMA-toekenning vir organisatoriese uitnemendheid in innovasiebestuur
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 11/11/2021

​Die Universiteit Stellenbosch se Tegnologieoordragkantoor Innovus het die DSI-SARIMA-toekenning vir organisatoriese uitnemendheid in innovasiebestuur ontvang. Hierdie toekennings is in 2014 begin om uitnemendheid in navorsing en innovasiebestuur in Suider-Afrika te vier, en om groei en prestasie in die veld aan te moedig. Die 2021-toekenning oorweeg uitnemendheid en prestasies in die vorige jaar, 2020.

Anita Nel, Hoofdirekteur Innovasie en Besigheidsontwikkeling, sê sy is ongelooflik trots op die span vir hierdie uitsonderlike prestasie. "Om in hierdie kreatiewe ruimte saam met die beste span in die wêreld te werk is 'n droom wat waar geword het. Ek kan nie vir 'n beter span vra nie."

Die Innovus tegnologie-oordragkantoor word bestuur deur dr Madelein Kleyn, Direkteur Tegnologie-oordrag. Die span bestuur die intellektuele eiendom (IP)-portefeulje van die US en is verantwoordelik vir die kommersialisering van innovasie wat uit navorsingspogings spruit deur lisensiëring en/of die skep van afwentelmaatskappye. Innovus ondersteun ook die Universiteit se Navorsingsontwikkelingskantoor met navorsingsooreenkomste wat kommersialiseringsklousules bevat.

Nel het gesê ondanks die feit dat hulle in 2020 meer as nege maande lank nie 'n enkele persoon op kantoor gehad het nie, het Innovus se tegnologie-oordragkantoor nie minder nie as vyf nuwe tegnologie-maatskappye gestig en befondsing vir sewe maatskappye in hul groep ingesamel. Die tegnologie-oordragkantoor was die inisieerder en drywer agter die Universiteitstegnologiefonds (groter as R200 miljoen), wat op 31 Januarie 2020 gestig is. Dit is die eerste plaaslike fonds wat net op beleggings in enige Suid-Afrikaanse universiteit se tegnologie fokus. Die tegnologie-oordragkantoor het 14 lisensies gedurende 2020 beklink, en soos gewoonlik het vyf spanlede (Anita Nel, Madelein Kleyn, Nolene Singh, Camile de Villiers en Thandi Maretlane) referate of plakkate by SARIMA aangebied en só hul kundigheid oor tegnologie-oordrag en innovasie-kommersialisering met die breër gemeenskap gedeel.

"Die US het oor die afgelope dekade meer Patent Cooperation Treaty (PCT)-patentaansoeke gelewer as enige ander openbare of private plaaslike entiteit. Innovus se tegnologie-oordragkantoor het ook die US LaunchLab-besigheidsinkubator op die been gebring om verdere ondersteuning aan die US Groep van Maatskappye (29 maatskappye) te bied," sê Nel .

Die Innovus tegnologie-oordragspan is die enigste kantoor op die Afrika-kontinent met vyf internasionaal erkende geregistreerde kenners op die gebied van tegnologie-oordrag: Anita Nel, Madelein Kleyn, Nolene Singh, Joubert de Wet en Doris Peters.

Nel dien op die RTTP-oordragpaneel, 'n subkomitee van die globale Alliance of Technology Transfer Professionals (ATTP) - 'n alliansie van die belangrikste internasionale kennis- en tegnologie-oordragverenigings, insluitend SARIMA. Nel lewer gereeld referate oor Universiteit-afwentelmaatskappy by konferensies en webinars.

In 2020 en 2021 het dr Kleyn 'n dienserkenning en leierskapstoekenning van die Licensing Executives Society International (LESI) ontvang vir haar waardevolle bydrae tot die lisensiëringsprofessie. Sy is ook die voorsitter van die LESI patent- en tegnologielisensiekomitee en ondervoorsitter van hul toekenningskomitee. Verder is sy herkies as IAM Strategie 300 (die wêreld se voorste IP-strateeg), nadat sy sedert 2016 vir hierdie erkenning verkies is en is aangestel as Vise-President vir LESI vir 2022/3.​