Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vergroot globale voetspoor ondanks COVID-19
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/10/2021

​Die tema, “Aangevulde Internasionalisering" was aan die orde van die dag by die 18de vergadering van die Stellenbosse Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN) wat van 13 tot 15 Oktober 2021 gehou is.

SIAN is 'n jaarlikse byeenkoms van die Universiteit Stellenbosch (US) se internasionale vennootuniversiteite.

Prof Wim de Villiers, US se Rektor en Visekanselier, het by die opening van die virtuele geleentheid gesê die Universiteit is vasbeslote om uit te brei op die gebied van aangevulde internasionalisering wat aan hulle die geleentheid bied om hul globale voetspoor te vergroot en te verbeter.

“Aangevulde internasionalisering het die ontwikkeling van programme vir ons universiteitstudente en personeel en ons vennootuniversiteite beteken wat hulle in staat gestel het om die voordele van beide fisieke en virtuele mobiliteit te ervaar.

“Ons het by die US nood-afstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) ingestel. Maar namate ons sedertdien 'n greep op die COVID-19-pandemie en die uitwerking daarvan gekry het, het ons nou na aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) beweeg. Om ARTLA moontlik te maak, het die Universiteit die installering van gevorderde toerusting in sowat 200 lokale geprioritiseer om stroomuitsending en opnames van lesings deur dosente moontlik te maak en ook om interaksie tussen dosente en studente wat nie fisiek teenwoordig is nie, te bewerkstellig. Hierdie benadering beteken dat studente in ander lande steeds lesings kan bywoon, wat dus aangevulde internasionalisering bevorder."

De Villiers sê die US sien sedert 2018 jaar op jaar volgehoue groei in hul vennootskappe, ondanks die COVID-19-pandemie.

“Ons het vennootskappe en ooreenkomste met meer as 100 instellings wêreldwyd. Ons vennootskappe in Afrika, soos die Afrika Doktorale Akademie en die US Afrika-platform, is baie belangrik vir volhoubare ontwikkeling op ons vasteland.

“Ons het ook 'n Skool vir Klimaatstudies bekend gestel wat 'n belangrike invloed veral in Suid-Afrika en op die res van die vasteland kan hê om klimaatsverandering teen te werk. Ons is vasbeslote om ons pogings in internasionalisering uit te brei om in die rigting van aangevulde internasionalisering te beweeg wat aan ons die geleentheid bied om ons globale voetspoor te vergroot en te verbeter."

Wêreldonderriggeleenthede en vennootskappe

Ondanks die uitwerking van COVID-19 op die hoëronderwyssektor wêreldwyd, het die Universiteit voortgegaan om vennootskappe te bou en verskeie geleenthede vir samewerking op die vasteland van Afrika en in die res van die wêreld te verken.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het van die onlangse US-hoogtepunte in internasionalisering wat gedurende die pandemie plaasgevind het, gedeel.

Een hiervan was die eerste Umoja Afrika-studenteleierskapberaad, aangebied deur die US, wat 'n voorstander van etiese leierskap en goeie oorsigbestuur geword het.

Nog 'n hoogtepunt was die Tübingen-uitruilprogram tussen die Tübingen-universiteit in Duitsland en die US wat in 'n twee weke lange virtuele uitruilprogram omskep is en waaraan tien van ons Suid-Afrikaanse studente deelgeneem het. In Maart vanjaar het tien van die US se internasionale BCom-studente aan die Universiteit van Antwerpen se Fakulteit Bedryfswetenskappe en Ekonomie se aanlyn Internasionale Week van Volhoubaarheid deelgeneem.

“Die doel was om ons studente aan internasionale sienings en perspektiewe oor korporatiewe volhoubaarheid en maatskaplike en omgewingsvolhoubaarheid bloot te stel en om interkulturele vaardighede te kweek," het Klopper gesê.

Ander inisiatiewe het die Waterinstituut by die US ingesluit wat saam met waternavorsers by TU Dresden in Duitsland gewerk het om befondsingmoontlikhede vir 'n gesamentlik navorsingsprogram te ondersoek. Ander ooreenkomste vir vennootskappe met die Universiteit van Lausanne in Switserland en die Universiteit van Humboldt in Berlyn is daarop gemik om navorsingsuitruilings te verbreed en te versterk.

“Ons het ons vennootskappe oor die afgelope paar jaar baie strategies ontwikkel. Een van hierdie inisiatiewe was gesprekke tussen die US en die Leiden-universiteit in Nederland oor die verskillende uitdagings wat albei gedurende COVID-19 ervaar het en hoe studente-uitruilgeleenthede in die toekoms uitgebrei kan word," het sy gesê.

Klopper het gesê die Universiteit het ook vennootskappe regoor Afrika gevorm, soos die Periperi U-vennootskap van Afrika-universiteite wat ten doel het om ramprisiko's in Afrikalande te verminder deur verbeterde nasionale en plaaslike ramprisikobestuur.

Nog ʼn belangrike vennootskap is Die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid wat aan die Universiteit 'n geleentheid bied om bilaterale samewerking regoor die vasteland te ontsluit. “Ons sien daarna uit om te sien hoe dit vir Afrika 'n wetenskaplike en innovasie-ekostelsel van wêreldgehalte sal verskaf."

Interne en eksterne vennootskappe

Prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke wat in 2019 bekend gestel is, het van die aktiwiteite waarby die Skool gedurende die pandemie betrokke was, gedeel.

Die Skool, wat die meeste van sy bestaan sover in die grendeltyd deurgebring het, het aangevulde, samewerkende ruimtes suksesvol binne die Universiteit asook met eksterne vennote gebou.

Intern het die skool ook verskeie vennootskappe gesmee. Dit sluit die aanbied van 'n module in datawetenskap vir die Fakulteit AgriWetenskappe in; die insluiting van datawetenskapvaardighede by die geneeskunde-kurrikulum van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe; en samewerking met die Fakulteit Ingenieurswese deur meestersgraad-supervisie aan te bied.

Die Skool werk ook saam met die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool om 'n datawetenskapinstrument te ontwikkel om die invloed van beleid op maatskaplike geregtigheid te meet.

Rajaratnam het gesê hulle verken internasionale samewerking wat strek van datawetenskap en klimaatstudies tot bio-informatika en geonomika-waarnemings.

“Ons huidige samewerking stem ooreen met ons visie om 'n instelling van wêreldgehalte vir datawetenskap en rekenaardenke te wees. So, wanneer ons samewerking bewerkstellig, wil ons wêreldwyd saamwerk."

Foto: Pixabay