Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19-entstowwe: Opdrag of keuse?
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 21/10/2021

Regs- en etiese aspekte van COVID-19-entstowwe en of dit verpligtend gemaak moet word, is tydens 'n aanlyn paneelbespreking wat op Dinsdag 19 Oktober deur die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aangebied is, ondersoek.

Dit, die tweede in 'n reeks Matie Crest-gesprekke, was getiteld COVID-19-entstowwe: Opdrag of keuse.  Die paneellede was oudregter Edwin Cameron, Kanselier van die Universiteit Stellenbosch en afgetrede Regter van die Grondwethof van Suid-Afrika, prof Keymanthri Moodley, Direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, Universiteit Stellenbosch, prof Thuli Madonsela, Professor in die Regte en Voorsitter van die Regsfakulteitstrust in Sosiale Geregtigheid en voormalige Openbare Beskermer van Suid-Afrika en Zackie Achmat, Mededirekteur van die NRO Ndifuna Ukwazi (Waag om te weet) en medestigter van die Treatment Action Campaign. Die gesprek is gelei deur prof Nicola Smit, Dekaan van die US se Regsfakulteit.

Prof Moodley is gevra of opdragte wel nodig is en indien wel, wat is die voorvereistes vir die bekendstelling van entstofopdragte.

​“Die kwessie rondom die bereiking van 'n uitkoms in 'n pandemie soos hierdie openbare gesondheidsnoodtoestand vereis optrede deur groot getalle mense," sê Moodley. "Ons sit tans op 27% van die volwasse bevolking wat ten volle ingeënt is. Maar die doel is om inentingsdekking van 70% teen Desember vanjaar te behaal. Ons kan reeds sien dat ons agter raak en dat ons 'n belangrike strategie nodig het om ons inentingsopname vir openbare gesondheidsvoordeel te verbeter. 

“So, wat is die voorvereistes vir 'n verpligte entstofbeleid? Ons benodig eerstens veilige en effektiewe entstowwe. Dit is ook belangrik dat daar 'n groot hoeveelheid entstowwe is wat gratis en toeganklik is. Wanneer ons entstofopdragte implementeer, is dit belangrik dat ons verseker dat daar respek is. Dit is nie 'n strafmaatreël nie, maar eerder om openbare gesondheid te beskerm. Die beleid moet toegepas word saam met die gereedskapskis van ander voorkomende maatreëls, soos wydverspreide berading en opvoeding oor die belangrikheid van entstowwe tydens hierdie pandemie." 

Sy het bygevoeg dat ten einde entstofopname met ongeveer 18 tot 20 persentasiepunte te verhoog, 'n entstofopdrag belangrik is.

“Navorsing het getoon dat opdragte in verskillende dele van die wêreld, beide vir inentings in kinders sowel as COVID-19-inentings, gelei het tot 'n verhoogde opname van ongeveer 18 tot 20%, wat presies is wat ons gaan nodig hê as ons 70% van die volwasse bevolking teen Desember volledig ingeënt wil kry."

​Regter Edwin Cameron is dié vraag gestel: Met persoonlike en individuele vryhede wat ingevolge ons Grondwet en wet goed gevestig is, is verpligte entstowwe in beleid toelaatbaar en wetlik geregverdig? 

“Daar word ooreengekom onder alle regskenners wat hieroor beraadslaag het dat entstofopdragte grondwetlik toelaatbaar is," sê Cameron. “'Daar is 'n min of meer gevestigde konsensus dat dit grondwetlik sou wees vir werkgewers, vir die regering, vir departemente om te vereis dat mense ingeënt word. Die wetenskap en mediese tegnologie is goed gevestig." 

Hy het bygevoeg dat dit belangrik is dat entstofopdragte met respek geïmplementeer moet word en dat dit nie ʼn strafmaatreël of drakonies van aard moet wees nie.

Prof Thuli Madonsela is gevra om te verduidelik wat die simboliese waarde van maatskaplike geregtigheid is waarvoor keuse en mandate onderskeidelik voorsiening maak, veral in 'n tyd van sosiale onstabiliteit waar vertroue in staatsinstellings op 'n laagtepunt is.

​“Ek dink regerings wêreldwyd asook ons regering, het hierdie saak glad nie goed hanteer. Ek dink wel dat sosiale geregtigheid nie net dikteer dat ons gelyk behandel word in terme van diensvoorsiening nie, maar dit dikteer ook dat ons 'n stem moet hê. Dit sluit in die belangrikheid van die erkenning van diversiteit en gedifferensieerde behandeling waar nodig. Ook restitusie in geval dinge verkeerd loop. Dié was nie baie goed hanteer nie. Dit maak dit dus baie moeilik vir mense om in te ent omdat hulle nie weet wat hul regte is wanneer iets verkeerd gaan nie. As daar geen deursigtigheid is nie, sterf vertroue." 

Moodley het toe op dié vraag gereageer: Waarom het jongmense 'n COVID-19-inenting nodig wanneer hulle 'n laer risiko het om 'n infeksie en ernstige siekte te ontwikkel?

​“Jongmense is steeds in staat om die siekte oor te dra aan ander mense wat meer kwesbaar is in die samelewing," het Moodley geantwoord. "In Suid-Afrika het ons 'n kultuur van multi-generasie huishoudings waar grootouers saam met ouers en jong kinders woon. So die risiko dat die siekte aan ons grootouers oorgedra kan word, is 'n belangrike een om te oorweeg en in so 'n geval sal die inenting van jongmense beslis 'n voordeel wees." 

Wat miokarditis betref, veral die Pfizer- en Moderna-entstowwe wat miokarditis, inflammasie van die hartspier, by jong mans en adolessente veroorsaak, het Moodley gesê:  “Studies word gepubliseer en het getoon dat die risiko baie klein is. In sommige studies in Israel is getoon dat ongeveer een uit elke 50 000 mense hierdie newe-effek ontwikkel. Maar as hulle dit wel ontwikkel, is dit onbeduidend, sommige voel dit skaars en die belangrike ding is dat dit binne 'n kort tydperk beter word."