Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch behou plek op ranglys vir ontluikende ekonomieë
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/10/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) is steeds een van die voorste universiteite in die ontluikende ekonomieë van die wêreld.

Dit is pas deur die jongste Times Higher Education (THE) Emerging Economies University Rankings 2022-ranglys wat Dinsdag, 19 Oktober 2021 uitgereik is, bevestig. Die US is in die algehele 24ste plek en derde in Suid-Afrika. Dit is 'n merkwaardige prestasie, gegewe dat 'n rekordaantal universiteite (698) uit 50 lande en streke vir die 2022-ranglys gekwalifiseer het. Dit is 15% meer as in 2021 (606).

Volgens die THE gebruik sy universiteitsranglys vir ontluikende ekonomieë dieselfde 13 prestasie-aanwysers as wat vir die THE wêreldranglys vir universiteite gebruik word om die volledigste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf wat deur studente, akademici, universiteitsleiers, die bedryf en regerings vertrou word. Die gewigte word egter spesiaal geherkalibreer om die eienskappe van die ontluikende ekonomie-universiteite weer te gee. Dit sluit slegs instellings in lande of streke in wat deur die Financial Times-handelsbeurs as “gevorderd ontluikend", “sekondêr ontluikend", of “nuutontginde" geklassifiseer word.

Die prestasie-aanwysers word in vyf gebiede gegroepeer: Onderrig (die leeromgewing); Navorsing (hoeveelheid, inkomste en reputasie); Aanhalings (navorsingsinvloed); Internasionale Uitkyk (personeel, studente en navorsing); en Bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Die US se visie is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word.

  • In September vanjaar het die US uit meer as 1 600 universiteite in 93 lande in die kategorie 251–300 op die 2022 Times Higher Education-wêreldranglys vir universiteite verskyn.