Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TAU Genootskapsprogram 2022-2023
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 19/10/2021


TAU Genootskapsprogram 2022-2023

Die TAU (Teaching Advancement at University) Genootskapsprogram is 'n landswye intervensie wat in 2015 begin is. Dit is gerig op die bevordering van die onderriggehalte en die professionalisering van onderrig en leer in die openbare hoëronderwyssfeer.

Die TAU‑program behels die professionele ontwikkeling van 'n kohort akademiese personeel van middel tot senior vlak uit verskillende vakgebiede aan alle Suid-Afrikaanse openbare universiteite deur middel van 'n gekombineerde residensiële en afstandsonderrig‑benadering. Deelnemers wat vakspesialiste is, word met onderrig‑ en leerverwante ontwikkelings in die hoër onderwys vertroud gemaak, aan navorsing oor die Akademieskap van Onderrig en Leer bekendgestel, en as veranderingsagente aan hul instellings geposisioneer.

Die volgende TAU-program – TAU 4 – word oor 18 maande (Julie 2022 tot Desember 2023) aangebied. Deelnemers gaan aan 'n opvoedkundige projek in hul eie omgewing asook 'n groepprojek werk, terwyl hulle terselfdertyd vennootskappe ontwikkel met kollegas van ander instellings. Na afloop van die program sal hulle toegerus wees om die leiding met onderrig en leer by hul tuisinstellings te neem.

Gedurende die eerste TAU-program (2015-2016) het prof. Elmarie Costandius en prof. Geo Quinot die Universiteit Stellenbosch (US) verteenwoordig. Die US-akademici tydens TAU 2 (2018-2019) was prof. Ian Nell en dr. Berna Gerber. Vir TAU 3 (2021-2022) is die US bevoorreg om drie akademici in die program te hê, naamlik prof. Faadiel Essop, prof. Ashraf Kagee en dr. Marianne McKay.

Nominasies vir die vierde kohort van die TAU Genootskapsprogram word tans ingewag. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 November 2021.

Meer inligting is beskikbaar by dr. Karin Cattell-Holden, kcattell@sun.ac.za.