Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en ander internasionale hoëronderwysleiers bespreek universiteite se rol om COVID-19-herstel aan te help
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 14/10/2021

​Hoëronderwysinstellings wêreldwyd moet nou meer as ooit vantevore goeie burgerskap en maatskaplike verantwoordelikheid aan die dag lê en burgerlike betrokkenheid en vennootskap aanmoedig om die uitwerking van COVID-19 op gemeenskappe en instellings teen te werk. Dít was die gevolgtrekking van die Talloires-netwerk se aanlyn leierskonferensie van 2021 (“TNLC 2021"), wat gesamentlik deur Tufts Universiteit se Tisch-burgerskapskollege en die Harvard Kennedy-skool se Instituut vir Politiek aangebied is.

Die Universiteit Stellenbosch (US) was 'n trotse satellietgasheerkampus vir die geleentheid en het saam met 418 ander hoëronderwysinstellings van 78 lande aan die vier dae lange konferensie oor die mag en verantwoordelikheid van betrokke universiteite deelgeneem. Deelnemers het veral ondersoek ingestel na die hoër onderwys se verantwoordelikheid om COVID-19-herstel aan te help en na oplossings te soek vir die samelewingsprobleme wat deur die pandemie vererger is.

Alle mense op hierdie planeet behoort aktiewe burgers te wees en saam te werk om almal se welstand te verbeter, het dr Lawrence (Larry) Bacow, hoof van Harvard-universiteit, gedurende die openingsplegtigheid gesê. Noudat COVID-19 sosio-ekonomiese ongelykhede oopgevlek en vererger het, en in 2020 alleen 'n verdere ongeveer 120 miljoen mense in uiterste armoede gedompel het, moet hoëronderwysinstellings optree om 'n tasbare verskil te maak, en nie wag dat ander verandering moet teweegbring nie, het Bacow bygevoeg.

Die US se prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel; dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, en Marc Nathanson, 'n mediese derdejaarstudent, het elk gedurende die geleentheid 'n interaktiewe sessie met akademici en studente gemodereer.

Prof Koopman was die moderator van die gesprek oor hoe instellings en hulle studente sosiale skakeling kan bevorder. Die werkgroep het gesels oor die toekoms van leer, onderrig en navorsing, en oor hoe universiteite te werk kan gaan om akademiese belangstellings met werklike, praktiese kwessies in gemeenskappe ná die pandemie te verbind. In die sessie met dr Van Rooi as voorsitter het deelnemers beraadslaag oor maniere om universiteite se sosiale skakeling te beoordeel en te meet sodat instellings hulle werk voortdurend kan evalueer en verbeter. Die groep onder leiding van Nathanson het op hulle beurt die uitwerking van COVID-19 op studente en gemeenskappe bespreek, en hoe hulle op die krisis gereageer en daarby aangepas het.

'n Kerntema wat uit ál die gesprekke na vore gekom het, was dat die wêreldwye pandemie heelwat ander, onderliggende uitdagings blootgelê en verskerp het, waaronder ongelyke toegang tot gesondheidsorg en onderwys, ekonomiese ongelykheid, genderonderdrukking, strukturele rassisme en klimaatsverandering.

Die konferensie het uitgeloop op die bekendstelling van die Talloires-verklaring (Boston) 2021 deur twee studenteleiers, Rowyn Naidoo van die Universiteit van Kaapstad en Susan Azizi van die Amerikaanse Universiteit van Sentraal-Asië, Kirgistan. Van die vernaamste beloftes in die verklaring is om:

  • menseregte te bevorder en die vrye uitruiling van kennis, idees en praktyke aan te moedig;
  • die potensiaal van universiteit-gemeenskap-skakeling te benut om navorsing en onderrig te verbeter en samelewingsuitdagings die hoof te bied deur middel van samewerking wat aanpasbaar is, flink op ontluikende maatskaplike kwessies reageer, en die gesamentlike skepping van kennis aanmoedig;
  • verskille as 'n noodsaaklike bestanddeel van produktiewe samewerking te verwelkom;
  • die volgende geslag aktiewe burgers toe te rus om wêrelduitdagings te hanteer;
  • sosiaal inklusiewe instellings te skep en onderwys van gehalte vir almal te bevorder;
  • die stemme en werklike ervarings van alle gemarginaliseerde groepe, waaronder vroue, vlugtelinge, inheemse groepe, kinders, persone met gestremdhede sowel as bejaardes, uit te lig; en
  • klimaatsgeregtigheid tot 'n dringende prioriteit te verklaar en skadelike koolstofvrystellings te beperk.

* Die Talloires-netwerk van betrokke universiteite is 'n internasionale genootskap van maatskaplik verantwoordelike hoëronderwysinstellings. Die netwerk bied konferensies aan, gee publikasies oor skakeling tussen universiteite en die burgerlike samelewing uit, bied finansiële en tegniese bystand aan streeksuniversiteitsnetwerke, en ken die jaarlikse MacJannet-prys aan verdienstelike studenteprojekte vir gemeenskapskakeling toe.