Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WOW bemagtig steeds leerders
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 07/10/2021

​Met sy kreatiewe programme in skole en gemeenskappe skep Woorde Open Wêrelde (WOW), 'n inisiatief van die Toyota US Woordfees, reeds sedert 2003 'wow'-oomblikke vir leerders deur die hele land. WOW-programme ontwikkel taalvaardighede, geletterdheid en die kunste, en verruim terselfdertyd deelnemers se horisonne.

WOW-50-Skole-werwingsveldtog

Een van WOW se langertermynprojekte, die WOW-50-Skole-werwingsveldtog, help eerstegenerasieleerders hulle drome van tersiêre onderwys bewaarheid. Die inisiatief het tot dusver 317 Afrikaanssprekende leerders van benadeelde gemeenskappe op en om Stellenbosch gewerf om volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer, sê WOW-bestuurder Fiona van Kerwel.

Van Kerwel sê WOW-50-Skole, wat deur die US se Komitee vir Sosiale Impakfinansiering geborg word, werf meestal eerstegenerasieleerders wat nie deur enige ander werwingsprogramme van tersiêre instellings geïdentifiseer is nie. “Die projek vul 'n leemte en bereik leerders wat nie andersins die geleentheid sal hê om aan die US te studeer nie. Hulle geniet nie altyd ander se praktiese ondersteuning of begrip nie, en beleef uiteenlopende uitdagings, van persoonlik en sosiaal tot akademies," sê sy.

Aaisha Arnolds, 'n US-eerstegenerasiestudent in die program BA Taal en Kultuur wat self aan opvoedkundige WOW-programme deelgeneem het, sê die projek is noodsaaklik om te sorg dat leerders ná matriek verder studeer. “WOW skep ongelooflike geleenthede vir leerders uit benadeelde omstandighede, en wat nie altyd kans kry om hulle talente ten toon te stel nie," sê sy.

Hoewel Arnolds se gesin haar altyd aangemoedig het om universiteit toe te gaan, is baie ander leerders nié so gelukkig nie. “Party skole het 'n kultuur wat tersiêre studie beklemtoon," bevestig Van Kerwel, “en hulle akademies sterk leerders sal outomaties daarop ingestel wees om ná matriek universiteit toe te wil gaan. Maar baie ander skole het nié so 'n kultuur nie, en daarom probeer WOW dít onder die leerders by ons teikenskole vestig en die waarde van tersiêre studie onderstreep."

Van Kerwel voeg by: “Dit het 'n positiewe impak op leerders én hulle gemeenskappe. Dit stel leerders in staat om hulle doelwitte te bereik en positiewe maatskaplike verandering in hulle gemeenskappe teweeg te bring. Nes die ander WOW-projekte, help transformeer die werwingsveldtog lewens deur die onderwys."

'n Kerndeel van die WOW-50-Skole-projek is om leerders se denke te verruim en hulle potensiaal te help ontdek en ontwikkel. Vir dié doel fasiliteer WOW aktiwiteite om lees- en taalvaardighede te verbeter en leerders aan kuns en kultuur bloot te stel.

WOW-werwers werk saam met die US se Sentrum vir Voornemende Studente en begin jaarliks in April met hulle taak om belowende graad 12's met Afrikaans as vak, hetsy op Huistaal- of Addisionele Taal-vlak, te identifiseer. Die kandidaat wat tipies in aanmerking kom, is 'n leerder by 'n skool wat goeie punte behaal en van tersiêre studie droom, veral op die gebied van die lettere en sosiale wetenskappe. Die WOW-werwers gaan tot en met Junie voort met skoolbesoeke om kwalifiserende leerders op te spoor, verduidelik Van Kerwel

Sodra belowende leerders geïdentifiseer is, begin die steunproses. WOW-personeellede help leerders aansoek doen om toelating en huisvesting, gee raad met akademiese programkeuses, bied loopbaanvoorligting, en help met beurs- en/of leningsaansoeke. Straks die belangrikste steunelement word egter gedurende hulle studiejare self voorsien, sê Van Kerwel. “Met akademiese en sosiale bystand help ons hulle 'n transformerende studente-ervaring hê deur aan studente-aktiwiteite deel te neem, uitdagings te bowe te kom, en uiteindelik suksesvol te studeer. En ons woon hulle gradeplegtighede trots by."

Sanlam WOW Spelfees

Nóg 'n besonder gewilde WOW-program is die jaarlikse Sanlam WOW Spelfees. Die fees, wat vanjaar van 12 tot 29 Oktober aanlyn plaasvind, is Suid-Afrika se grootste spelwedstryd. Dit vind in ál nege provinsies plaas en bied jong leerders vroeë blootstelling aan die US en die geleenthede wat tersiêre studie bied.

Die fees stel leerders in staat om op 'n prettige manier met taal om te gaan, en lê sodoende die grondslag om hulle in kranige lewenslange lesers te omskep. Terselfdertyd verhoog dit die geletterdheidsvlak by hulle skole, veral in die lig van die verlies aan kontakonderrigtyd weens die COVID-19-inperking.

Ander WOW-programme

Die volgende bykomende WOW-projekte word ook beplan, of is reeds aan die gang:

  • WOW-programme wat deel uitmaak van die Toyota US Woordfees word van 1 tot 10 Oktober op DStv-kanaal 150 en, vir Namibiese kykers, op GOtv uitgesaai. Om na die Woordfees-programrooster te kyk, klik hier.
  • WOW-leserskringe: Aanlyn leesaktiwiteite met deelnemende skole en leerders word beplan. 'n Webblad word tans geskep, wat die leesfeeste en skoolbesoeke deur beroepskrywers van voor die pandemie sal vervang.
  • WOW-debatte en -redenaars: Die debatte sal binnekort op die WOW-webtuiste verskyn. Dít maak deel uit van die jaarlikse sport- en kultuur-interskolewedstryde en vind gewoonlik in die derde kwartaal plaas. 
  • Poësie: Graad 12-leerders se gedigte sal op die WOW-webtuiste geplaas word. Voor die pandemie het gevestigde digters en skrywers meer as 100 skole in drie provinsies besoek.
  • WOW-webinaar: Die WOW-onderwysersdag, waarvoor 200 onderwysers van sowat 80 skole in die tyd voor COVID jaarliks die Woordfees bygewoon het, is met 'n televisieprogram, Welwees-Wyser, vervang.
  • WOW-opedag: 'n Aanlyn WOW-opedag vir leerders sal in Oktober aangebied word.
  • WOW-skoolmedia: Die skoolkoerantontwikkelingsprogram het ook na die kuberruim verskuif, en opleidingsvideos oor die hele WOW skoolmedialeerplan sal in Oktober beskikbaar wees.