Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Nadia Sanger: Oor die skep van nuwe woorde, beelde en simbole wat ou feministiese tale bevraagteken
Outeur: Biénne Huisman
Gepubliseer: 08/10/2021

​Dit was haar pa, Bruce, die eienaar van ʼn suksesvolle sierverfwerkonderneming in Soutrivier in die dae van apartheid, wat vir Nadia Sanger geleer het om vrae te vra. Hy het haar geleer om gemarginaliseerde mense sagkens te behandel, en om rondloperhonde en -katte kos te gee.

Alles terwyl hy denke aangemoedig het wat teen die norm skop.

Bruce se leer-deur-die-voorbeeld-te-stel sou haar loopbaan as ʼn feministiese vakkundige vorm. As ʼn senior dosent in Engels aan die Universiteit Stellenbosch, onderrig en skryf Sanger vandag oor ras, gender en klas.

Hierdie feminis is egter nie ten gunste van veralgemenings en ongenuanseerde 'mans is gemors'-veldtogte nie. Volgens haar moet die dieper redes agter gewelddadige gedrag deur mans verken en aangespreek word. Sy voer aan dat ʼn hoofoorsaak van sodanige geweld die ongelykheid is wat deur ʼn geskiedenis van rassisme en wit kapitalisme aangedryf word. Dus, ʼn gebrek aan opsies om beter lewens te verbeel en te skep – vir sommige.

Sanger het grootgeword in ʼn ateïstiese huis in ʼn werkersklasvoorstad, in sterk teenstelling met die gesin se konserwatiewe Moslem- en Christenbure.

“Hy [Bruce Sanger] het die anti-individualistiese posisionering wat deur werkersklasaktivisme aangemoedig word, gerespekteer, en die gees van mededeelsaamheid wat in die gemeenskap bestaan het, waardeer," sê Sanger. “Maar soos ons ouer geraak het, soos ons as meisies vroue geword het, het ons gesukkel om in te pas. My ma het my pa probeer oorhaal om ʼn huis in ʼn meer sentrale, middelklasgebied te koop. Maar nee. Hy het volgehou dat ons sou baat uit hierdie gewone werkersklaslewe; dat ons kon leer deur elke dag met pragmatiese mense saam te leef."

In ʼn aangrypende outobiografiese artikel oor die dood van haar pa in 2016 – een jaar ná die geboorte van haar seun – besin Sanger oor haar pa se rol as haar primêre intellektuele versorger, en hoe hy stereotipiese persepsies van swart manlikheid en geweld in Suid-Afrika ondermyn het. Sy onthou hoe sy besig was om haar seun te borsvoed toe Bruce, kromgetrek deur artritis en later alkohol, die laaste keer gehospitaliseer is.

“Ek werk hard daaraan om my vierjarige (nou sesjarige) seun te beskerm teen die aanname dat hy ʼn man sal word wat skade aanrig. Omdat sy vel donkerder en hy manlik is, is hy veral kwesbaar vir die stereotipiese aannames. Die verwagting is dat hy sal faal – met intelligent of bedagsaam wees; met niegewelddadig wees," skryf sy in haar 2020-artikel 'Bending Bodies, Signing Words: Reshaping a Father and a Feminist Practice', wat in die Routledge-joernaal, a/b: Auto/Biography Studies, gepubliseer is.

“Hierdie aannames knaag aan my, maak my kwaad, maak my hartseer, want dit voel verkeerd. Maar hierdie emosies dryf my ook doelgerig voort tot die skep van nuwe woorde, beelde en simbole, wat die ou feministiese tale bevraagteken, om te help om die skadelike, kwetsende narratiewe wat vir swart mans geskryf is (veral in ʼn steeds-rassige Suid-Afrika), te hervorm en uit te stryk."

Sanger is een van vyf seminaargenote van die ubuntu gesprekke wat deel vorm van die Ubuntu Dialoog Projek, wat gesamentlik deur die Stellenbosch Universiteitsmuseum en Michigan Staatsuniversiteit se Afrikastudiesentrum bestuur word.

In ʼn webinar aangebied deur die Projek met die titel, Saam-Met-Ander: Wit Individualisme en Manlike Geweld as Praktyke wat teen Ubuntu Indruis, sê Sanger aan die gehoor dat, hoewel sy geen duidelike antwoorde het nie, dit belangrik is om hierdie kwessies te ontrafel.

In ʼn later onderhoud van haar huis in Muizenberg, verduidelik sy uit hoe ongelykheid ʼn primêre aandrywer van gewelddadige gedrag in minderbevoorregte gemeenskappe regoor die wêreld is.

“Ek dink dat navorsing wys dat, waar daar groot ongelykheid in lande soos Suid-Afrika, Brasilië, Venezuela en so meer bestaan, daar mense sal wees wat gefrustreerd is omdat hulle nie genoeg het om van te lewe nie," sê sy. “Of omdat hulle hulle, natuurlik, vergelyk met diegene wat meer het. Ek bedoel, in Kaapstad is die ongelykhede so opvallend. Arm gebiede langs uiters welvarende gebiede, reg oorkant die straat."

Sy voeg by: “Ek is nie ʼn kenner op die gebied van geweld nie, maar ek probeer geweld in ons land verstaan. Wanneer mense kwaad raak en iemand anders seermaak, waarom doen hulle dit? Baie van die navorsing kom keer op keer terug na diepgaande ongelykhede, ʼn gebrek aan geleenthede - hoe dit moeiliker en moeiliker vir mense word om ʼn beter lewe voor te stel.

“Ek sê nie almal wat in apartheid se stortingsgebiede woon, is gewelddadige mense nie. Ek sê dat ons hoë vlakke van geweld ervaar, en dat mans meestal aandadig is in die geweld. Ek sê ons moet probeer om dit beter te verstaan. Ek is nie ten gunste van hierdie 'mans is gemors'-veldtogte nie. Ek stel wel belang in hoe ons dit kan verstaan en dan tot ʼn einde bring. Hoe kan ons beter lewens leef? Hoe beweeg ons weg van geweld af?"

Sy sê verder dat wit individualisme “wit Suid-Afrikaners deur onverdiende bevoorregting –  wat verkeerdelik as individuele meriete verstaan word – in staat stel om ras- en ekonomiese ongelykhede in stand te hou."

Sanger se jongste navorsing laat haar glo dat ubuntu ʼn raamwerk kan bied waaruit ongelykheid teengewerk kan word: “My gebruik van ubuntu as ʼn konsep in hierdie artikel lê in die moontlikhede wat dit bied as ʼn filosofiese en konseptuele riglyn – ʼn struktuur vir ras-, klas- en gendertransformasie in post-apartheid Suid-Afrika." 

Sanger verwys na die simposium, Men Engage Ubuntu, wat vroeër vanjaar deur die organisasie, Sonke Gender Justice, aangebied is. Die paneel het gefokus op die herdefiniëring van manlikheid om sorgsaamheid in te sluit, wat natuurlik sentraal staan in ubuntu-denke.

“Om versorg te word, vereis dat ʼn mens jouself moet toelaat om kwesbaar te wees, ʼn eienskap wat seuns en mans in talle samelewings regoor die wêreld geleer word om te vermy, omdat dit kwansuis swakheid wys. Aggressie en geweld teenoor ander word gesien as biologiese, en inherente manlikheid. Dit is ʼn baie gevaarlike mite."

Sanger sê mans moet takseer word in hulle spesifieke kontekste – persoonlik, maatskaplik, geografies en regoor hulle leeftyd – en daar moet in hierdie kontekste moontlikhede bestaan wat 'n beroep op mans doen om die belangrikheid van sorgsaamheid teenoor ander uit te leef. “ʼn Meer holistiese en bruikbare benadering tot manlike geweld is om te probeer om mans en seuns te begryp binne die verskillende ruimtes waar hulle leef en waar daar erkenning is vir 'n verskeidenheid individuele verskille," sê sy.

Sanger het 'n PhD in Vroue- en Genderstudies van die Universiteit van die Wes-Kaap. Sy het in 2011 met ʼn Fulbright-studiebeurs aan die Universiteit van Maryland in die Verenigde State gestudeer en tien jaar lank vir die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), gewerk.