Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Noodsaaklike ratte in die Museummasjien
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 01/10/2021

Suid-Afrika het in September Erfenisdag gevier. Ter viering van hierdie dag, laat ons die kollig op van die Universiteit Stellenbosch Museum se personeellede val wat 'n belangrike rol speel om te verseker dat dinge glad verloop by die museum.

​Die Universiteit Stellenbosch (US) Museum het oor die jare ontwikkel in 'n inklusiewe bymekaarkomplek vir alle mense, ongeag kultuur, ouderdom of geslag. Dít is egter nie net te danke aan sy kosbare kuns-, kulturele en antropologiese versamelings en opvoedkundige programaanbod nie. 'n Groep toegewyde personeellede sorg dat die Museum aan die gang bly, kom wat wil. 

Sylvia Jojo, Johannes Adams, Edwin September, Natasha Coltman en Lloyd Africa is die trotse span wat na alle administratiewe, sekuriteits- en huishoudelike take omsien sodat die Museum gereed is om besoekers te verwelkom en doeltreffend funksioneer. Vir dié doel is hulle soggens lank voordat die Museum oopmaak reeds op hulle pos.

Besoekers wat die Museum binnekom, word deur 'n vriendelike Adams ontvang. As senior opsigter die afgelope 16 jaar, is dit sy werk om toegang tot die Museum te bestuur, besoekers se inligting aan te teken en die sekuriteitskameras te moniteer. Sodoende hou hy tred met wie wanneer op die perseel is, en hou hy 'n oog oor die veiligheid en sekuriteit van die fasiliteite, versamelings en die mense wat in die gebou besoek aflê of werk. Hy geniet dit om besoekers te verwelkom, en veral om soveel uiteenlopende mense te ontmoet. “Ek is altyd in my skik om te sien dat mense van verskillende kulture die Museum besoek. Ons fasiliteit maak werklik voorsiening vir almal, en dit voel goed wanneer hulle hier meer oor hulle eie én mekaar se kulture kom leer," sê hy.

Saam met Adams werk assistentopsigter Africa. Hy verleen bystand met besoekerbeheer by die ingang, en met sekuriteitskameramonitering, en hanteer ook besoekers se navrae en help reël geleenthede by die Museum. “Noudat ons deur al die verskillende COVID-19-inperkingsvlakke gegaan het, is dit goed dat die Museum weer oop is, en om besoekers te kan verwelkom om na die uitstallings te kom kyk en geleenthede by te woon," sê hy. “COVID het my geleer om voluit te leef, want jy weet nooit wanneer jou laaste dag aanbreek nie."

Soos alle ander US-omgewings, het die pandemie weliswaar ook die Museum ingrypend geraak. Baie geleenthede moes na die kuberruim verskuif, besoekergetalle het gedaal, en die personeel se werksroetines het verander. Skoonmaker Jojo, wat reeds 14 jaar lank by die Museum werk, sê haar werk is sedert die uitbreking van die koronavirus belangriker as ooit vantevore. “Ek maak die Museum aan die begin en die einde van elke werksdag skoon," verduidelik sy, “en ontsmet ook die hele dag deur elke ruimte waar besoekers of personeellede kom."

In die gang af kry jy die kantoor van administratiewe beampte Coltman, wat met geleenthede help, algemene sekretariële bystand voorsien, finansiële transaksies hanteer en projekadministrasie behartig. “Ek is agter die skerms by alle geleenthede betrokke, sorg dat die Museum in die geheel vlot funksioneer, en voorsien sekretariële steun by vergaderings wanneer dit ook al nodig is," sê sy. 

Laastens is dit senior tegniese beampte September se werk om die Museum oop en toe te sluit en die alarmstelsel te bestuur. Hy sien om na gereelde alarmtoetse, algemene instandhoudingstake, en help bou ook die vereiste raamwerke en installasies vir die Museum se versamelings.

Die hegte span beskou die Universiteit as hulle voorkeurwerkgewer. Vir hulle voel hulle werkplek soos 'n tweede tuiste, en hulle kollegas soos familie. “Ek en my kollegas behandel mekaar soos familie," benadruk Jojo. “Dit is altyd spesiaal as ons mekaar se verjaardae vier." En hoewel die pandemie hulle almal geraak het, het dit hulle ook 'n paar waardevolle lesse oor uithou en aanhou geleer. “Verandering is deel van die lewe, so ons moet mettertyd ook veranderinge in ons werksomgewing aanvaar," sê September. Coltman voeg by: “Elke stryd in 'n mens se lewe vorm jou. Wees dankbaar vir die moeilike tye; dit kan jou net sterker maak."​