Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US brei konsultasieproses oor historiese Hardekraaltjie-begraafplaas uit
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 30/09/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy gemeenskapsdeelnameproses oor die terrein op sy Tygerberg-kampus wat voorheen as die Hardekraaltjie-begraafplaas bekend was, uitgebrei.

Die begraafplaas, wat van 1909 tot 1946 in gebruik was, het sentraal gestaan in die voormalige Tiervlei-gemeenskap. Die gemeenskap was aan gedwonge verskuiwings in gevolge die Groepsgebiedewet van die apartheidsregering onderworpe. Die Universiteit het in 1971 'n gedeelte van die grond bekom toe die voormalige Parow-munisipaliteit dit aan die US oorgedra het.

Die historiese begraafplaas strek oor verskeie stukke grond wat deur die US, Tygerberg-hospitaal (die Wes-Kaapse regering se Departement van Gesondheid deur die Departement van Openbare Werke) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) besit of beheer word.

“Die inisiatief is gemik op restitusie," sê dr Leslie van Rooi, die US se senior direkteur vir Transformasie en Sosiale Impak. “Die Universiteit is in konsultasie met onder andere lede van die betrokke gemeenskappe, verbind tot die oprigting van 'n gedenkinstallasie op die terrein van die begraafplaas om ons aan 'n verlede te herinner toe die waardigheid van mense in die gebied tragies aangetas is. Die proses sal deur die US se Visuele Regstellingsbeleid gerig word wat die klem op restitusie, inklusiwiteit en kohesie in die Universiteit se visuele, kulturele en simboliese aktiwiteite plaas."

Die voortgaande gemeenskapsdeelname sal verskeie belanghebbers betrek wat die Tygerberg-hospitaal, PRASA, lede van die plaaslike gemeenskappe en die Tiervlei-gemeenskap en Erfenis Wes-Kaap insluit. Die US en die Tygerberg-hospitaal is verbind tot 'n herstellende proses om te besluit hoe die begraafplaasterrein en diegene wat daar begrawe is, gedenk sal word. Dit in voortgaande konsultasie met ander genoemde belanghebbers gedoen word. 

Dit volg op aanvanklike konsultasies met die toepaslike belanghebbers en lede van die breër historiese Tiervlei-gemeenskap wie se voorgeslagte in die begraafplaas begrawe is wat 'n behoefte om mondelinge-, argiefstukke en ander historiese inligting te versamel, gedui het. Die proses staan onder leiding van prof Aslam Fataar van die US se Departement Opvoedingsbeleidstudie wat ook aan die Transformasie-portefeulje verbonde is, en dr Handri Walters van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, in noue konsultasie met mnr Chefferino Fortuin en gemeenskapslede.

“Die Universiteit het deur die jare versoeke van lede van die Tiervlei-gemeenskap ontvang om te verstaan wat in die gebied gebeur het en om die begraafplaas te besoek. Dit is iets wat ons graag wil moontlik maak," sê dr Therese Fish, Visedekaan van Kliniese Dienste en Sosiale Impak  in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. “Om tot hierdie proses by te dra, stem ook met ons fakulteit se missie ooreen om onder meer medeskeppers van waarde saam met en vir die gemeenskappe wat ons dien, te wees."

Herdenkingsgeleentheid

Om af te skop, het die Universiteit op Erfenisdag (Vrydag, 24 September 2021) 'n gedenk- en gemeenskapsdeelnamegeleentheid by die Tygerberg-kampus aangebied. Die doel was dat die relevante US-entiteite, Tygerberg-hospitaal en die gemeenskap van Tiervlei hul stories oor die Hardekraaltjie-begraafplaas kon deel

  • Klik hier ​vir 'n artikel oor die herdenkingsgeleentheid​.

Volgens Van Rooi is 'n gedeelte van die Universiteit se deel van die eiendom vir 'n paar jaar al afgesluit. Die Universiteit sal op grond van wat uit hierdie deelnamegeleenthede na vore kom, saam met ander toepaslike belanghebbers oor die pad vorentoe besluit.

Navorsingsprojek

“Aangesien daar nog so baie onbeantwoorde vrae is, sal die Universiteit hom deur hierdie konsultasieproses – wat ook deur navorsing gerig word – laat lei om alle toepaslike inligting te in te samel oor die begraafplaas se geskiedenis en die oorskot van diegene wat daar begrawe is, asook die oorskot van diegene wat verskuif en elders herbegrawe is," sê Fataar, wat ook 'n lid van die projek se beheerkomitee is.

“Van die navorsingsvrae wat beantwoord moet word, sluit in hoeveel mense se oorskot inderdaad opgegrawe is en hoeveel moontlik steeds in die gebied begrawe is. Dit is ook belangrik dat die skakel, indien enige, tussen die verskuiwing van die Tiervlei-gemeenskap en die bou van die hospitaal en die kampus ook nagevors word," voeg hy by.

“Op die lange duur is ons verbind tot 'n proses wat ten volle deelnemend en konsulterend is om die waardigheid van diegene wat in die begraafplaas begrawe is en die gemeenskap wat dit bedien het, te herstel. Ons wil uiteindelik 'n terrein van herstellende herinnering en genesing hê."

  • Kontak prof Aslam Fataar by afataar@sun.ac.za vir meer inligting.
  • Klik hier vir 'n artikel oor die herdenkingsgeleentheid​