Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Koor op Woordfees TV te sien
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 29/09/2021

​Wat is die Woordfees sonder 'n inspirerende optrede deur die Universiteit Stellenbosch (US) Koor? Daarom sal hul spesiale optrede na verwagting een van die hoogtepunte van Woordfees TV wees, wat van 1 tot 7 Oktober 2021 op DStv-kanaal 150 uitgesaai word. Aanhangers kan uitsien na 'n volledige nuwe repertorium van 12 werke.

Al kon die koor nie so gereeld soos tevore as 'n groep saam oefen nie, is dirigent André van der Merwe die ene entoesiasme: “Dit is 'n geleentheid! En selfs al sing ons 'n paar skewe note, kon ons minstens aanhou werk." Hy sê die koor is opgewonde om deel van hierdie “grensverskuiwende uitsending" te kan wees. “Die koorlede het die afgelope 18 maande onverpoosd bly werk. Hulle gesindheid van omgee en werksetiek het my dikwels gedra."

André lig veral twee nuwe komposisies uit wat die krag van die natuur besing. “'Calling in the Wind' deur Rihards Zalupe (Letland) en 'The Destroyer' van Sean Doherty (Ierland) is kaleidoskopiese werke. Elemente soos wind en water word op kreatiewe maniere deur die stem nageboots."

Vir iets ligters is daar Hendrik Hofmeyr se “Spokewals". Twee van André se eie verwerkings vir die US Koor word ook uitgevoer. Dit is “Suiderkruis" deur Joshua na die Reën, en Loyiso Gijana se “Hemadoda Sabelani", wat vertaal kan word as “mense, luister". Dit is 'n kragtige pleidooi teen geslagsgebaseerde geweld.

André sê die protokol rondom COVID-19 het die koor genoop om meestal in aparte stemgroepe te repeteer. Dit het hom toegelaat om baie detailwerk met die groepe te kon doen. “Dit is senutergend om hulle nou saam te laat sing vir die produksie, maar ons het bly groei. Ons het nie moed opgegee nie."

Wat die TV-produksie betref, beloof hulle om die ware US Koor met die kykers te deel. “Ons het in 'n opelug-venue opgeneem, wat natuurlik spesiale vereistes aan die koorlede en tegnici stel, maar ek voel ons sal steeds ons harte en siele met kykers kan deel. En dit is al waarop ons gaan fokus."

  • Universiteitskoor Stellenbosch | 3 Okt 16:00 | 7 Okt 17:30 | DStv-kanaal 150.
    'n Versameling van US Koor-optredes tussen 2017 en 2020 sal ook op Woordfees TV uitgesaai word. Hou www.woordfees.co.za dop vir die finale program.
  • FOTO DEUR STEFAN ELS: André van der Merwe dirigeer die US Koor tydens hul spesiale opname op 18 September 2021 in die Oude Libertas Amfiteater vir Woordfees TV.