Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Fakulteit Regsgeleerdheid maak ’n verskil deur sy maatskaplike-impakinisiatiewe
Outeur: Chevaan Peters
Gepubliseer: 21/09/2021

Ten spyte daarvan dat die Universiteit Stellenbosch se Regskliniek as gevolg van die verpligte landswye staat van inperking sy deure vanaf 26 Maart tot 21 Junie 2020 moes sluit, het hulle dit steeds reggekry om aan bykans 1 000 persone toegang tot regsdienste te verskaf. Die regspraktisyns in die kliniek se diens het met die hulp van studente van die Fakulteit Regsgeleerdheid kliënte met uitsettings, familieverwante sake en algemene burgerlike geskille bygestaan, ten spyte van verskeie beperkings. 

In 2020 het die Regskliniek die grootste getal kliënte in die Wes-Kaap met uitsettingskwessies bygestaan. Vyf-en-negentig kliëntlêers met betrekking tot uitsettings is geopen, met 'n totaal van 120 sake wat afgehandel is en 200 hangende lêers waaraan terselfdertyd gewerk is. Die kliniek het 26 uitsettingsaansoeke suksesvol afgehandel, hetsy deur wedersyds aanvaarbare ooreenkomste wat 'n bevel van die hof gemaak is, of deur met sukses uitsettingsaansoeke teen te staan. Sedert die begin van 2020 is 'n totaal van 36 gesinne vanaf plase in Stellenbosch, die Paarl, Simondium en Wellington suksesvol met hulle hervestiging bygestaan.

Die Finansiële Geletterdheidsprojek (FLP), 'n samewerkingspoging tussen die Fakulteit Regsgeleerdheid en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is daarop gemik om lede van die gemeenskap toe te rus met die finansiële vaardighede om ingeligte besluite te neem wat hulle ekonomiese welstand sal bevorder. Studentevrywilligers van die Finansiële Beplanning 378- en die Landroshofprosesreg 371-module is betrokke by die skep van grondliggende finansiële konsepte wat aan die groter gemeenskap oorgedra word. In 2019 en 2020 het studente in groepe van drie tot vier persone opleidingsessies aan plaaswerkers en hoërskoolleerders verskaf. In 2019 is 29 aanbiedings in persoon aan 879 hoërskoolleerders en ongeveer 650 plaaswerkers op agt verskillende plase gemaak. In 2020 is die inpersoonbenadering tydens die harde inperking in 'n digitale een omskep om te verseker dat die projek ten spyte van uitdagings sy doel sou bereik. In plaas daarvan om skole en plase te besoek, het elke student dus twee onderwerpe ontvang waarvoor hulle 'n video- of PowerPoint-aanbieding vir skoolleerders en plaaswerkers voorberei het. Hierdie pogings het gelei tot 'n finansiëlegeletterdheidspakket bestaande uit verskeie onderwerpe, insluitend die Wet op Verbruikersbeskerming, en die tref van 'n onderskeid tussen begeertes en behoeftes. Die finansiëlegeletterdheidspakket is by 11 skole en 18 plase en organisasies afgelewer. 

Ná die groot sukses van die finansiëlegeletterdheidspakket in 2020 het die Regskliniek besluit om selfs nog meer groepe of persone deur die digitale benadering te bereik. Elke studentegroep moet tans 'n konsep produseer wat met 'n spesifieke finansiëlegeletterdheidsonderwerp verband hou. 'n Lys onderwerpe, teikengehore en mediaplatforms is aan elke groep verskaf. Een groep het byvoorbeeld gekies om deur middel van Instagram met jong volwassenes oor die belangrikheid van krediet te gesels, terwyl 'n ander groep met behulp van plakkate persone wat 'n minimum loon verdien (met en sonder afhanklikes) oor die belangrikheid van 'n begroting sal opvoed. 

Die FLP se doel is om as gevolg van die covid-19-pandemie en die feit dat die studente se toegang tot persoonlike ontmoetings beperk is, 'n groter segment van die gemeenskap deur middel van verskillende mediaplatforms te bereik. Deur hierdie benadering te volg, hoop ons om hulpbronne bymekaar te maak en groter dele van ons gemeenskappe in die toekoms op te voed. 

'n A3-kalender word onder die vaandel van die FLP ontwerp, gepubliseer en op groot skaal aan gemeenskappe in die Kaapse Wynlande-gebied versprei. Die kalender bevat verskeie wenke vir finansiële bestuur. 'n A3-inligtingsblad met meer gedetailleerde wenke vir finansiële bestuur is ook geskep en regdeur die omliggende gemeenskappe versprei. 

Die Regskliniek het die afgelope jaar verskeie opleidings- en bemagtigingsinisiatiewe bedryf, insluitend die bemagtigingswerkwinkel vir vroue (Women's Empowerment Toolbox) en opleiding ten opsigte van grondwetlike regte. Aan die begin van Desember 2020 het die kliniek 'n wetgewingsopleidingswerkswinkel vir lede van die Witzenberg Water for Justice Coalition in Bella Vista aangebied. Die materiaal wat tydens die werkswinkel gebruik is, is in Engels, Afrikaans en Xhosa ontwikkel en sal in die toekoms weer gebruik word. 

Die Regskliniek werk tans aan 'n opwindende nuwe samewerkingsprojek om maatskaplike impak deur middel van opleiding en bemagtiging te bewerkstellig. In die tweede helfte van 2020 het Black Sash, een van Suid-Afrika se voorste menseregte-organisasies, die kliniek genader vir samewerking oor 'n saak met 'n potensiële hoë impak. Black Sash se doel is om sosio-ekonomiese regte soos dit in die Suid-Afrikaanse Grondwet uiteengesit word, te laat realiseer, met die klem op maatskaplike sekuriteit en maatskaplike beskerming aan die kwesbaarste burgers om uiteindelik armoede en ongelykheid te verminder. In September 2020 het Black Sash 'n navorsingsverslag getiteld Social Grants: Challenging Reckless Lending in South Africa vrygestel. Hierdie verslag demonstreer hoe Suid-Afrika se omvattende maatskapliketoelaestelsel, wat veronderstel was om hulpbronne aan armes te voorsien, misbruik is om as aanvullende sekuriteit te dien vir skuld wat op uitbuitende bepalings en voorwaardes toegestaan word. Die verslag vra uiteindelik vir dringende regstellende stappe, insluitend wetgewende regstelling, strenger afdwinging van bestaande beperkings op plunderende uitlenery en die verbetering van finansiële opvoeding. In Black Sash se pogings om uitvoering te gee aan die bevindings en aanbevelings van die verslag, het hulle die Regskliniek geïdentifiseer as die organisasie met die nodige regskundigheid in skuldgeregtigheid om met hierdie uiters belangrike deurlopende projek te help. 

Terwyl die Regskliniek se deure gesluit was, het die kliniek besluit om 'n sosialemediaveldtog te loods om bewustheid oor tersaaklike regte en verpligtinge onder die huidige omstandighede te skep. Verskeie Facebook- en webwerfplasings is met die kliniek se kundigheid geskep en selfs na ander sake uitgebrei, byvoorbeeld arbeidverwante regsadvies en inligting. 

Dr. Mary Nel, die hoof van die Ubuntu Learning-gemeenskapsprojek, 'n opvoedkundige vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch en die Departement Korrektiewe Dienste, het 'n interdissiplinêre kortkursus van 17 sessies beplan om in 2020 by die Brandvlei Korrektiewe Sentrum aan te bied. Die kursus het insigte uit die geskiedenis, ekonomie, kuns en musiek, Engels as taal en die reg geïnkorporeer. Die deelnemers het 20 studente van die Universiteit Stellenbosch en 20 persone in gevangenskap ingesluit. Ongelukkig moes die aangesig-tot-aangesigsessie as gevolg van covid-19 na 'n maand gestaak word. In September 2020 het dr. Nel uiteindelik daarin geslaag om weer tot die Brandvlei Korrektiewe Sentrum toegelaat te word om die deelnemers in gevangenskap te ontmoet. Sy het verder toestemming verkry om 'n reeks aanlyn ontmoetings in die vorm van seminare, werkswinkels en ontmoetings vir die deelnemers in gevangenskap aan die 2019 en 2020 Ubuntu Learning-kortkursusgroepe te beplan. Hulle het ook in Oktober 2020 'n baie geslaagde inpersoon-skryfkunswerkswinkel agter tralies gehou.

​Daar is besluit dat dit as gevolg van die voortgesette covid-19-verwante bekommernisse nie raadsaam sou wees om in 2021 met die kortkursus te begin nie.'n Reeks aanlyn seminare is eerder in oorleg met die deelnemers beplan. Die beplanning van aanlyn interaksie met deelnemers in gevangenskap het langer geneem as wat verwag is, maar teen Maart 2021 was die infrastruktuur en toestemming om te begin in plek. Die eerste sessie het gelei tot 'n uiters vrugbare en inspirerende ontmoeting tussen die deelnemers in gevangenskap en 'n Unisa-dosent voorheen in gevangenskap was. Dit het onlangs plaasgevind, met 'n reeks sessies wat vir die volgende paar maande beplan word. Die sessies sal aangebied word deur kundiges soos regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof, nou tronkinspekteur, en Ubuntu Learning-deelnemers uit vorige jare wat met buitedeelnemers en dié agter tralies saamwerk. Hoewel hierdie sessies net beoog word as 'n alternatief totdat die aangesig-tot-aangesigkortkursus weer kan begin, is die aanlyn interaksies wat deur die covid-19-regulasies genoodsaak is nog 'n voorbeeld van die innovering van die Ubuntu Learning-inisiatief en die Fakulteit Regsgeleerdheid as geheel. Die aanlyn ontmoetings tussen die Universiteit Stellenbosch, buitedeelnemers en diegene agter tralies is 'n nuwe gebeurtenis vir Suid-Afrika. 

Die maatskaplike-impakinisiatiewe van die Fakulteit Regsgeleerdheid is bemoedigend, aangesien dit 'n toonbeeld is van die fakulteit se verbintenis om 'n verskil in die samelewing te maak en sy mense op te hef.