Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-onderwysers baat by opleiding deur Skool vir Rekeningkunde
Outeur: Waldette Engelbrecht & Juan Ontong
Gepubliseer: 15/09/2021

Die onlangse verrykingsprogram vir onderwysers deur US se Skool vir Rekeningkunde in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het vanjaar meer as 330 Wes-Kaapse onderwysers getrek.

Dié jaarlikse verrykingsprogram is 'n aanlyn opleidingskursus vir Graad 9-onderwysers in ekonomiese en bestuurswetenskappe in die Wes-Kaap. Die doel daarvan is om EBW-onderwysers met kennis en vaardighede toe te rus wat hul onderrigvermoëns 'n hupstoot kan gee en hulle kan help om moeilike begrippe aan leerders te verduidelik.

Die vier weke lange program is deur me Waldette Engelbrecht, dosent by die Skool vir Rekeningkunde, gekoördineer. Dit is in Julie 2021 met weeklikse sessies in beide Engels en Afrikaans afgeskop. Elke sessie het op komponente van basiese finansiële geletterdheid gefokus, soos verslaggewing van debiteur- en krediteurtransaksies, van die gebruik van die korrekte brondokumente tot die aanteken van transaksies in finansiële state.

Die program is afgesluit met 'n insiggewende aanbieding deur prof Stephen Coetzee van die Universiteit van Pretoria oor die toekoms van onderwys in die lig van die ontwrigting deur die COVID-19-pandemie.

Dr Antoinette Venter, direkteur belas met die kurrikulum van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by WKOD, het haar tevredenheid aan die einde van die program uitgespreek. Sy het opgemerk dat die samewerking tussen WKOD en die Skool vir Rekeningkunde nie net 'n positiewe ontwikkeling was nie, maar dat die opleiding van die hoogste professionele standaard is. “Die WKOD sien uit na die voortgesette uitbreiding van die program, ook na onderwysers in ander grade," het sy gesê.

  • Illustrasie (verskaf): Een van die skyfies wat in die verrykingsprogram gebruik is. Die volgende dosente by die Skool vir Rekeningkunde het aanbiedings gelewer: Petro Gerber, Juan Ontong, Sher-Lee Arendse, Chrystal Schonken, Danielle van Wyk, Andrea van der Merwe, Nicolette Klopper, Lee-Ann Kelly en Armand Bruwer. Waldette Engelbrecht was die koördineerder van die program.