Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe SR aangekondig
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 10/09/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Stembuskomitee het bevestig dat die volgende studente in die Studenteraad (SR) vir 2021/22 sal dien nadat hulle in 'n onafhanklike, vrye en regverdige algemene verkiesing verkies is:

  • Precious Nhamo              
  • Alysa-Abby Kekana        
  • Unathi Ngumbela           
  • Viwe Kobokana
  • Almé Engelbrecht           
  • Ilan Meintjes     
  • Philip Visage     
  • Takadiwa Chipfumbu    
  • Chris Briel           

Die ex officio-lede van die SR is soos volg:

  • Toni Solomon – voorsitter van die Primkomitee
  • Christo van der Bank – ondervoorsitter van die Primkomitee
  • George van Dyk – voorsitter van die Akademiese Belangeraad
  • Neo Mokone – voorsitter van die Verenigingsraad
  • Pule Lebaka – studentekaptein van die Militêre Akademie
  • Eugene Nel – voorsitter van die Senior Primkomitee

Die proses sal op Maandag 13 September ten einde loop met die verkiesing van die nuwe SR-voorsitter en -ondervoorsitter, waarna die spesifieke SR-portefeuljes intern toegeken sal word, sê stembuskonvenor Francesca Visagé.

Die nuwe SR se termyn strek van die eerste dag van die vierde kwartaal tot die dag voor die vierde kwartaal in die daaropvolgende jaar.

Dr Choice Makhetha, senior direkteur van Studentesake, het Donderdag (9 September) die verkiesing as onafhanklik, vry en regverdig bevestig, en dit verwelkom dat die verkose SR-lede verteenwoordigend is van die hele, diverse US-studentekorps. “Die verkose lede van die SR 2021/22 weerspieël die diversiteit van die Universiteit Stellenbosch," het dr Makhetha gesê. “Dit is baie belangrik om te erken dat studenteleiers veel meer verteenwoordig as wat hulle name te kenne gee, want diversiteit is omvangryk en kompleks. Studente self het hierdie lede gekies om hulle te verteenwoordig, en ek glo hulle sal dit baie goed kan doen."

Maties kon tussen 30 Augustus en middernag op 3 September aanlyn stem. Dít was die US se tweede aanlyn SR-verkiesing om aan COVID-19-veiligheidsprotokolle te voldoen. Altesaam 2 574 kiesers het deelgeneem om vir 11 kandidate te stem.

Volgens dr Makhetha het die stembuskonvenor en haar medelede van die Stembuskomitee die Studentegrondwet, die Gedragskode vir Studente sowel as die Verkiesingsreëls streng nagevolg. “Die proses was deeglik, en op besonderhede ingestel. Elke fase van die verkiesingsproses is met die nodige sensitiwiteit en vertroulikheid hanteer, en die hele proses het goed afgeloop."

Dr Makhetha het die nuwe SR-lede gelukgewens met hulle verkiesing, en hulle daarvan verseker dat die Universiteit hulle deur hulle ampstermyn sal ondersteun en lei. “Om US-studente op hierdie vlak te dien, sal die SR bereid moet wees om na die studente te luister, hulle stemme te laat opklink, en hulle behoorlik te verteenwoordig," het sy gesê. “Hulle moet die hoogste vlak van integriteit aan die dag lê en bereid wees om te leer. Hulle behoort reg van die begin af 'n sterk span te bou en mekaar te ondersteun. Geluk, en dankie vir julle gewilligheid om in hierdie rol te dien."

Die SR is die hoogste verteenwoordigende studentestruktuur by die Universiteit. Dit is onderworpe aan die gesag van die Universiteitsraad.

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het studente voor die SR-verkiesing aangemoedig om te stem, in die lig van die belangrike rol wat hierdie studenteleiers by die US vervul. SR-lede verteenwoordig alle studente in die US se statutêre liggame soos die Institusionele Forum, fakulteitsrade, die Senaat en die Raad.              

Vir verdere inligting oor die SR-verkiesing van 2021/22, gaan na die Matie-verkiesingsblaaie op Facebook of Instagram.