Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ubuntu: ’n Meer radikale interpretasie is nodig om verandering te bewerkstellig
Outeur: Biénne Huisman ( SU Museum)
Gepubliseer: 14/09/2021

​Het 'n “reënboognasie"-interpretasie van ubuntu Suid-Afrika se historiese ongeregtighede voortydig onder die mat gevee? Het dit 'n strewe na eenheid en versoening vooruitgeloop, voor kwessies soos armoede, werkloosheid en ongelykheid behoorlik aangepak kon word?

Dié vrae is geopper in 'n gesprek van die Universiteit Stellenbosch Museum se Ubuntu Dialoë‑projek. Die gesprek getiteld Ubuntu, dekolonisasie en die Suid‑Afrikaanse reg het die soeklig op die Grondwet van Suid-Afrika 1996 laat val, spesifiek op die model van voortstuwende transformatiewe konstitusionalisme, 'n konsep wat deur die Amerikaanse regsgeleerde Karl Klare geskep is.

Dr Allison Geduld, senior lektrise in regsgeleerdheid en etiek aan die Noordwes-Universiteit en 'n 2020 Ubuntu Dialoë-seminaaruitruilgenoot, het 'n wye gehoor via Zoom toegespreek en vir meer “ongemaklike" gesprekke oor die aanpak van Suid-Afrika se dubbele koloniale verlede gevra.

“In 1996 het Suid-Afrika 'n finale Grondwet aanvaar vir die daarstel van 'n samelewing wat op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en menseregte berus," sê Geduld.

“Baie belangrik, hoe sou ons hierdie samelewing tot stand bring? Wel, die regstelsel sou 'n groot rol speel. Dit is interessant dat ons regstelsel nie oornag verander het nie. Die openlik rassistiese wette is begryplikerwys herroep. In hierdie onderhandelingstyd is daar egter besluit dat wette mettertyd sou ontwikkel om in pas met grondwetlike regte en waardes te kom.

“So, die idee van transformerende konstitusionalisme was dat wetgewing ons gemeenskap mettertyd in 'n meer gelyke samelewing sou verander. Maar sien ons dit gebeur?"

Geduld sê transformerende konstitusionalisme het onvoldoende geblyk om die gewenste verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig, en voeg by dat 'n meer radikale interpretasie van ubuntu moontlik die proses kan aanhelp.

“Ek dink ubuntu verteenwoordig vir baie mense die idee dat hul monde gesnoer word," sê Geduld. “U weet, net ná ons oorgang is die idee omarm dat ons eensgesind en verenig sou wees, en dat ons half die verlede sou vergeet en saam sou groei. En ek dink vir baie mense vergestalt ubuntu die idee van vergeet die verlede. En ek dink nie dit hoort so nie. As ons 'n meer radikale begrip daaraan heg, het dit die potensiaal nie om monde te snoer nie, maar eerder om mense 'n stem te gee en lig te werp op die tipe ongelykhede wat steeds in die samelewing voorkom."

Sy het 'n spektrum interpretasies van ubuntu uitgewys, van aartsbiskop Desmond Tutu se versoenende “reënboognasie" tot 'n meer radikale standpunt soos dié wat professor in filosofie Mogobe Ramose aan die Universiteit van Suid-Afrika voorstaan.

“Suid-Afrika het 'n lang geskiedenis van geweld en disposisie wat reeds 300 jaar duur," sê Geduld. “Binne hierdie bestel van geweld en onteiening deur kolonialisme en apartheid was daar 'n baie spesifieke idee van wat dit beteken om mens te wees, en dit was aan Westerse opvattings gekoppel, en eintlik ook aan die idee om wit te wees. En ons sien steeds dat verskeie van daardie patrone in Suid-Afrika herhaal word.

“Vir [Mogobe] Ramose is ubuntu in die Afrika‑filosofie gesetel. Dit beteken dat ubuntu nie los te maak is van die bevrydingsoeke van Afrikane in die algemeen nie. En in hierdie sin moet dit as 'n deel van 'n stryd teen koloniale bewegings en kolonialiteit beskou word.

“So, 'n deel van ubuntu gaan daarom oor die heropbou van die gewaarwording van menswees, om bewus te wees dat Afrikaan‑wees nie minderwaardig is nie. Om as 'n mens van Afrika geregtig en waardig te voel."

Geduld sê sy vind dit moeilik om dié twee uiteenlopende sienings van ubuntu met mekaar te verenig in haar navorsing.

Toe prof Rosalind Dixon, kundige in vergelykende konstitusionele reg en grondwetlike ontwerp verbonde aan die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis in Sydney, by die gesprek aansluit, het sy gesê Australië staar soortgelyke uitdagings in die gesig.

“Dit herinner my nou aan die Australiese konteks," het Dixon gesê. “Daar is 'n groot debat oor hoe eerste nasies geregtigheid kan bewerkstellig. Ek dink wanneer mense voel dat daar nie aan hul fundamentele eise vir geregtigheid voldoen word nie, is dit moeilik om vorentoe te beweeg, nie waar nie?

“Baie mense in Suid-Afrika voel dat die voorvereistes vir ubuntu nie daar is nie. Dat om toegewyd tot ubuntu te kan voel, moet jy 'n gevoel van respek ervaar, 'n gevoel dat sowel jou eie ekonomiese situasie as die geskiedenis van rassisme aangepak en erken word."

Dixon het uitgebrei daarop en beklemtoon dat 'n waarde eers suksesvol tot dekolonialiteit in 'n land kan bydra wanneer dit 'n brug na en 'n katalisator vir verandering word. “Dit moet radikale verandering kan bewerk, maar ook 'n mate van kontinuïteit en behoud daarstel, wat ons van die koloniale oomblik na die postkoloniale oomblik in die ware dekoloniale betekenis kan voer," sê sy.

“Omdat ons besef dat ons nie van nuuts af aan begin nie; hetsy of ons informeel beïnvloed word, hetsy of die gemene reg oorgedra word, en of gewoontes, konvensies, norme, ingesteldheidspatrone, sosiale praktyke, oorgedra word; ons begin nooit met 'n skoon lei nie. En die omvang van daardie kontinuïteit moet erken word, selfs terwyl ons probeer om dit te omvorm."

Dixon het aan die hand gedoen dat Suid-Afrika se grondwetlike projek nie deur die lens van 'n enkele stel waardes beskou word nie, maar eerder as 'n dialoog tussen waardes.

“En ubuntu is duidelik een van die waardes," sê sy. “My eie siening is dat ubuntu soms 'n sterker diskoers kan wees, terwyl transformatiewe konstitusionalisme weer by tye sterker kan wees, afhangend van die konteks en die valensie.

“Ek dink ubuntu kan nie op sigself die las van sosiale insluiting en ekonomiese transformasie dra nie... En dalk kan dit in gesprek tree met ander idees oor gelykheid en transformasie om die taak ten opsigte van dekolonialiteit te volbring waartoe Alison [Geduld] ons so kragtig aanmoedig. So, om ubuntu as die enigste kandidaat vir radikale verandering te beskou kan dalk te swaar daarop leun, te veel daarvan verwag."

Geduld het afgesluit deur te sê sy hoop om meer debat en “gevaarlike gesprekke" oor hierdie onderwerpe aan te hits. “U weet, daar is werklik 'n behoefte aan gesprekke oor die kwessie of ons genoeg van 'n Afrika-perspektief in ons regstelsel opgeneem het," sê sy.

Die Ubuntu Dialoë-projek is 'n samewerkingsgeleentheid tussen die Universiteit Stellenbosch en die Michigan State University, waar dit deur die African Studies Center aangebied word.