Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent se fotoverhaal help in die stryd teen diabetes
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 09/09/2021

'n Fotoverhaal wat deur 'n dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) in samewerking met die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid ontwikkel is om mense bewus te maak van diabetes, sal binnekort aan gesondheidswerkers en pasiënte in die Kaapse Wynlanddistrik versprei word. Die lewens van baie mense in dié streek word deur die siekte beïnvloed.

Fotoverhale beeld 'n dramatiese storie met geposeerde foto's en teksborrels of onderskrifte uit, en speel gewoonlik in die alledaagse lewe af.

Dr Burt Davis, 'n senior dosent aan US se Afrika-sentrum vir MIV-/Vigsbestuur, sê die doel van sy fotoverhaal, Gertie se Groot Geheim, is om mense te help om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul diabetesdiagnose, hulle in te lig oor hoe die gesondheidstelsel diabete kan ondersteun en hul algemene kennis oor diabetes te verbeter. Die boekie sal ook as 'n hulpmiddel vir die voorkoming van diabetes dien.

Die storie handel oor Gertie, wie se lewe omver gewerp word wanneer sy uitvind dat sy diabetes het. Die diagnose hou nie net gevolge vir haar gesondheid in nie, maar het ook 'n uitwerking op haar lekkergoedonderneming, haar vriendskappe en haar gekwelde broer.

Davis sê die rede waarom die fotoverhaal in die Kaapse Wynlanddistrik versprei sal word, is omdat die terugvoer van gesondheidsinstellings in die gebied dui op 'n hoë voorkoms van diabetes onder inwoners.

“Pasiënte wat onlangs gediagnoseer is, sukkel veral om hul diagnose te aanvaar. Dit is gedeeltelik te wyte aan mites oor diabetes, byvoorbeeld dat lyers nie 'n vol en produktiewe lewe kan lei nie. 'n Ander hardnekkige mite is dat diabetes net ou mense affekteer. Mense word ook oorweldig deur die voorgestelde lewenstylveranderinge wat dikwels met 'n positiewe diagnose gepaard gaan. Dit lei daartoe dat baie pasiënte versuim om hul medikasie te gebruik of 'n gesonde leefstyl te volg."

Twee weergawes van Gertie se Groot Geheim sal beskikbaar gestel word: een met 'n ouer hoofkarakter en die ander met 'n jonger hoofkarakter. Onlangse navorsing dui daarop dat lesers hul ouderdomme met dié van die hoofkarakter vergelyk en dat dit 'n belangrike rol kan speel in hoe 'n boodskap ontvang word.

Gertie se Groot Geheim is geskep nadat 'n vorige fotoverhaal deur Davis oor die tikprobleem in die Wes-Kaap, Spyt kom te laat, dr Lizette Phillips, direkteur van gesondheid in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, se aandag getrek het. Sy het van die konsep gehou en Davis oorreed om 'n soortgelyke publikasie oor diabetes te ontwikkel.

Sandra Maritz, kommunikasiebeampte: Kaapse Wynlanddistrik van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, sê die fotoboekie sal deur gesondheidswerkers gebruik word om berading aan pasiënte in klinieke en hospitale in die area te gee.

“Die fotoverhaal is 'n indirekte manier om oor kwessies te gesels wat mense nie maklik met familie en vriende kan bespreek nie. Ondersteuning is baie belangrik vir die bestuur van die toestand en vir diabete se reis met die siekte.

“Dr Davis het daarin geslaag om karakters te skep met wie mense hulself maklik kan identifiseer en om die verhaal in ligte luim te vertel terwyl hy belangrike gesondheidsinligting insluit. Ons glo die fotoverhaal sal aanleiding gee tot gesprekke oor diabetes."

Dr Colette Gunst en haar mediese span van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het 'n groot rol gespeel om te bepaal watter gesondheidsinligting by die boekie ingesluit moet word, asook met die ontwikkeling van realistiese en geloofwaardige karakters en 'n storielyn. Ander belangrike rolspelers sluit die volgende in: die personeel en pasiënte by Cloetesville se gemeenskap-dagsentrum, prof Carel Jansen van Groningen Universiteit in Nederland en die produksiespan (filmspan, kunsregisseur, akteurs, storiebordkunstenaar, grafiese ontwerper en taalredakteurs).

Maritz sê Gertie se Groot Geheim sal versprei word sodra die “finale aanpassings aan die ontwerp en vertalings" afgehandel is.

Die boekie word in Afrikaans, Engels en isiXhosa uitgegee.

Davis beplan ook om 'n interaktiewe, digitale weergawe van Gertie se Groot Geheim in samewerking met US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te ontwikkel. Daarvoor sal bestaande boodskaptoepassings soos WhatsApp gebruik word. Hy is boonop besig om idees te ontwikkel vir fotoverhale wat verband hou met ander siektes, soos epilepsie.

  • ​Foto's verskaf: Die voorblad van die fotoverhaal oor diabetes in Afrikaans, Engels en ​isiXhosa. Regs: Dr Burt Davis, ontwikkelaar en skrywer van die fotoboekie.
Dr_Burt_Davis_web_small.jpg