Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die SLT: Leiding en ondersteuning met die integrasie van leertegnologieë
Outeur: Elzette le Roux
Gepubliseer: 08/09/2021

Suid-Afrikaanse hoër onderwys onderrig, leer en assessering in die digitale era skep beide geleenthede en uitdagings. Die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT) streef om die betekenisvolle, innoverende en sosiaal gepaste gebruik van tegnologie vir studenteleer by die Universiteit Stellenbosch (US) te inspireer. Lees meer van die leiding en ondersteuning wat die SLT met die integrasie van tegnologie vir leer by die US, bied.

Die SLT: Leiding en ondersteuning met die integrasie van leertegnologieë

 Onderrig, leer en assessering in die digitale era binne die Suid-Afrikaanse hoër onderwyskonteks bied beide geleenthede en uitdagings. Een voorbeeld van so ʼn geleentheid, is die moontlikheid om die akademiese projek by die Universiteit Stellenbosch (US), te midde van die nood en/of uitgebreide onderrig en leeromstandighede, voort te sit. Gedurende ERTLA (emergency remote teaching and learning) moes ons op die pedagogie wat met aanlyn modus van aanbieding verbandhou, terugval – ʼn ietwat onbekende spasie vir die US-konteks. Gedurende hierdie tye, en veral nou tydens ARTLA, kon verskeie dosente op die voorkennis opgedoen tydens ʼn gemengde leerbenadering as modus van aanbieding by US (d.w.s., die pedagogies-ondersteunde gebruik van digitale leertegnologieë, gekombineer met die integrasie van ʼn verskeidenheid leer- en onderrigmetodologieë en die beste eienskappe van aangesig-tot-aangesig interaksie), berus om die onbekende terrein van die aanlyn leeromgewing te verken. Nog ʼn voorbeeld van ʼn geleentheid wat tydens die digitale era in die Suid-Afrikaanse hoër onderwyskonteks na vore getree het, is hibridiese leer as aanbiedingsmetode by US. Hierdie metode van aanbieding maak hoër onderwys meer toeganklik vir studente wat andersins dalk nie voltydse studie aan ʼn residensiële universiteit sou kon bekostig nie.

Ondanks die skielike blootstelling aan aanlyn leer tydens die pandemie, kan die aanlyn leerruimte ʼn onbekende en soms vreesaanjaende spasie vir studente en dosente wees. Studente in hoër onderwysinstellings is dikwels nie aktiewe kennisskeppers nie, maar eerder passiewe ontvangers van inligting (Nilsen, 2018). Sommige dosente kan, wanneer hulle studente aanmoedig tot groter deelname en samewerking, die studente as terughoudend ervaar as gevolg van studente se gebrek aan deelname. Die oorsaak van sodanige studente se terughoudendheid kan dikwels toegeskryf word aan gevoelens van angstigheid of spanning wat hulle te veel oorweldig om deel te neem (Nilsen, 2018). Die gebruik van digitale leertegnologieë kan potensieel tot ontkoppeling tussen mense, vrees en angs onder studente en dosente aanleiding gee. Hierdie gevoelens kan dikwels tot gebrekkige deelname of versuim om vir hulp te vra deur studente, aanleiding gee. Dit kan lei tot gevoelens van alleenheid of eensaamheid, vrees vir mislukking, vrees om dom te lyk of uit te mis (Nilsen, 2019). Gevolglik kan dosente hul eie angs ervaar of hul eie onderrigvaardighede in twyfel trek wanneer studente nie binne die digitale leerspasies deelneem nie, opskop of bloot “verdwyn" van die leerruimtes. Hierdie belewenisse benadruk die belangrikheid van digitale welstand (Koch, Sinclair & Strydom, 2021) en samewerkende deelname met die oogmerk om veilige ruimtes te skep wat akademiese en sosiale integrasie van studente in hul multidimensionele kontekste (Do Carmo Nicoletti, 2019) aanmoedig, sodat studente (en dosente) optimaal kan leer, ontwikkel en transformeer.

Die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT) streef om die betekenisvolle, innoverende en sosiaal gepaste gebruik van tegnologie vir studenteleer by die Universiteit Stellenbosch (US) te inspireer. Dit impliseer, onder andere, strategiese leierskap, leiding en ondersteuning rondom die integrasie van leertegnologieë by die US, sodat dosente ondersteun word om krities met leertegnologieë in hul curricula om te gaan. Die SLT maak voorsiening vir akademiese ontwikkelingsgeleenthede, hulpbronne (voorsien deur die Akademiese Ontwikkeling & Navorsing aanbod [AON] van die SLT) en leertegnologie ondersteuning (aangebied deur die Leertegnologie Ondersteuning aanbod [LTO] van die SLT) wat dosente in die integrasie van leertegnologieë in hul onderrig-, leer- en assesseringspraktyke kan begelei en ondersteun. Dosente kan aanvullend hiertoe ook van die operasionele dienste, soos stroming van interaktiewe klasse / tutoriale, videoproduksies of multimediadienste, wat deur die Bedryfsaanbod (BTP) van die SLT aangebied word.​

Besoek gerus die SLT webtuiste vir meer inligting, leiding en ondersteuning in die integrasie van leertegnologieë, kontak gerus die Gemengde Leer Koördineerder in u fakulteit of kontak ʼn SLT adviseur vir ʼn konsultasie.

Verwysings

Do Carmo Nicoletti, M. (2019). Revisiting the Tinto's Theoretical Dropout Model. Higher Education Studies, 9(3), pp. 52-64. Verkry September, 02, 2021 van https://doi.org/10.5539/hes.v9n3p52   

Koch, C., Sinclair, E. & Strydom, S. Entering the world of Digital Wellbeing. Verkry August, 25, 2021 van http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=8487

Nilsen, G. (2018). Masterplan to Differ and making all students feel safe. Verkry June, 12, 2021, van https://medium.com/differchat/masterplan-to-making-all-students-feel-safe-1babe68a3941

​Nilsen, G. (2019). Digital Learning Arena. BI Norwegian Business School in collaboration with EdTech Foundry 2015-2019. Verkry June, 12, 2021, van https://drive.google.com/file/d/1zWqNz2n3AaKOdhHFxJHnFQdxdeUnr754/view  ​