Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Matie 80-gedenkuitgawe verskyn
Outeur: Jacolette Kloppers
Gepubliseer: 23/08/2021

Artikel deur Jacolette Kloppers, redakteur in 2001 en stigter van Die Matie Studentekoerant Trust

Die Matie, amptelike studentekoerant van die Universiteit Stellenbosch, vier vandeesmaand sy 80ste bestaansjaar en ter ere van dié groot en unieke mylpaal, verskyn 'n spesiale gedenkuitgawe vandag (Maandag 23 Augustus 2021).

Die eerste uitgawe van Die Matie het op 1 Augustus 1941 verskyn, en sover vasgestel kan word, is Die Matie die tweede oudste studentekoerant in Suid-Afrika.

'n Beperkte oplaag van die gedrukte gedenkuitgawe word vandag op die Stellenbosch-kampus versprei, onder meer by die US-biblioteek, die Neelsie, koshuise en akademiese geboue. Oudredaksielede van Die Matie het die drukkoste gefinansier.

Die elektroniese weergawe is hier  beskikbaar.

Herinneringe

Hoogtepunte in die gedenkuitgawe sluit in 'n onderhoud met die bekroonde skrywer Etienne van Heerden (redakteur in 1978), 'n onderhoud met die bekende sanger en skrywer Koos Kombuis oor die destydse Voëlvry-musiekbeweging en die reaksie wat hulle op die Stellenbosse kampus tot gevolg gehad het, die name van al die voormalige redakteurs en hoofredaksies, briewe en gelukwensings van oudredaksielede (onder andere prof Andreas van Wyk, oudrektor en redakteur in 1964, en prof Christo Viljoen, oudviserektor en redaksielid in die 1950's), 'n versameling pikante Kampus Quotes (een van die gewildste afdelings in Die Matie), en 'n kykie na merkwaardige oomblikke, laagtepunte en interessante staaltjies oor die jare wat betref modes, sport, studentelewe, koshuise, die Studenteraad en kultuursake.

Daar is ook artikels oor die Toyota US Woordfees, MFM 92.6 (voorheen Radio Matie) en 'n dansgeselskap wat gehelp het om geld in te samel sodat die Langenhoven-studentesentrum gebou kon word.

“Kampuslewe het die afgelope 80 jaar so baie verander en Die Matie was daar om al die studentegees vas te vang. Die voorblad wys iets van elke era, van die bop-dans wat as 'n 'euwel' en 'eendstertprobleem' bestempel is aan die einde van die 1950's tot die Voëlvry-beweging wat hulle in die laat 1980's teen die establishment verset het. Ons spotprentkunstenaar, Robynne Lewis, het ook iets van Stellenbosch vasgevang met die proteas in die voorgrond en die Stellenbosse berge in die agtergrond," het me Carla Visagie, uitgaande redakteur van Die Matie en redakteur van die gedenkuitgawe, gesê.

“In ware Die Matie-gees het ons vir hierdie koerant moontlikhede gesoek waar daar nie altyd moontlikhede was nie. Hoewel ons reg deur die eksamen moes werk en dit boonop in die middel van 'n pandemie was, het ons na maniere gesoek om hierdie uitgawe te laat gebeur, al was dit byna onmoontlik. Maar die opleeswerk wat ons vir hierdie uitgawe gedoen het, het ons opnuut daaraan herinner dat dié koerant se redaksies al 80 jaar lank dinge reggekry het wat aanvanklik byna onmoontlik blyk te wees.

“Hierdie spesiale uitgawe was vir ons 'n kanarie in die steenkoolmyn, 'n luidkeelse herinnering dat dít waarmee ons besig is, iets beteken. Vir sommige mense is dit dalk maar net 'n studentekoerant, maar dit het lewens, plekke en groot oomblikke gedokumenteer, en sonder Die Matie sou dit vir altyd vergete wees."

Aanlyn argief

Die Matie is ook baie trots daarop dat al die uitgawes van 1941 tot 2011 nou aanlyn in PDF-formaat beskikbaar is as deel van SUNDigital Collections op die US-biblioteek se webblad, en die redaksie bedank die biblioteekpersoneel vir die grootse taak om hierdie argiefmateriaal te ontgin. Al die ou uitgawes is hier beskikbaar: http://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/15475

  1. Besoek ook https://diematie.com/category/80th-anniversary/ vir nog gelukwensings en briewe van oudredaksielede.