Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'SciMathUs het hierdie meisie groot laat droom!'
Outeur: Bardine Botha
Gepubliseer: 19/08/2021

Bardine Jeanne-Mari Botha

Klas van 2014

BEd (Intermediêre Fase-onderrig)

​Ek is Bardine Botha, gebore en getoë in Vanrhynsdorp, Namakwaland. Ek het in 2013 aan die Hoërskool Vanrhynsdorp gematrikuleer.

Vandat ek kan onthou wou ek nog altyd 'n Matie wees, so ek het net by Stellenbosch aansoek gedoen om verder te studeer. Toe my matriekuitslae kom, was my punte egter nie goed genoeg om in die BRek-stroom toegelaat te word nie. Om na 'n ander universiteit te gaan was vir my nie eers 'n opsie nie. Ek hoor toe van SciMathUs by 'n vriend en besluit net daar om aansoek te doen. Ek was so gelukkig om een van die 100 studente te wees wat aanvaar is.

Ek het my SciMathUS-jaar letterlik met 'n knal begin ... Op my eerste klasdag slaan ek voor almal neer terwyl ek Humarga binnestap. Wat 'n goeie manier om mense jou naam te laat onthou! Maar grappies op 'n stokkie, my SciMathUS-jaar was 'n uitdaging want ek was vir die eerste keer weg was van die huis. Ek kon nie na ma of pa gaan as die werk te veel raak of as ek iets nie verstaan nie. Ek moes leer om onafhanklik te wees, maar ek het die beste mentors en onderwysers gehad wat my deur al die moeilike tye ondersteun het.

Wiskunde was vir my 'n kopseer op skool, maar tydens my SciMathUS-jaar het dit handomkeer verander en ek het baie van die vak begin hou. Ek het nooit dom gevoel nie; my vrae is altyd as geldig beskou en aan my verduidelik totdat ek die werk verstaan het.

Gedurende my SciMathUS-jaar het ek ook meer oor die kampuslewe geleer. Daardie ervaring het baie gehelp toe ek in 2015 as eerstejaarstudent my voorgraadse studies begin. Ek het reeds 'n vriendskapskring gehad met wie ek die studentelewe kon geniet. Ek het ook geweet dat universiteit beslis nie skool is nie, en ek het  geleer om nie te hard op myself te wees nie.

Ek het toe nooit BRek studeer nie, maar het eerder besluit om my BEd-graad aan te pak. Ek het in 2018 aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en kan jy dit glo ... Vandag is hierdie einste meisie wat so bang was vir Wiskunde, so waarlik ʼn Wiskunde-onderwyseres — by die einste Hoërskool Vanrhynsdorp. Ek geniet elke sekonde van my werk. Ek kan terugploeg in die kinders van ons gemeenskap. Ek doen my bes om Wiskunde pret te maak vir my leerders!

My raad aan almal wat voel dat daar geen manier is om vorentoe te kom nie: Lig op jou kop. Jou kroon gly af. Niks is onmoontlik nie. Daar is mense wat bereid is om jou te help, al wat jy hoef te doen is om te vra.

Aan elkeen by SciMathUS wat my op my reis ondersteun het ... Woorde kan nooit werklik uitdruk hoe ek julle waardeer nie. Baie, baie dankie — vir alles.

SciMathUs het hierdie meisie groot laat droom!