Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verskerp pogings om las van studenteskuld te verlig
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 18/08/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) verskerp die pogings om te verseker dat geen student vanweë dié se finansiële probleme toegang tot hoër onderwys geweier word nie. Die US werk daarom saam met die aanlyn skarebefondsingsplatform Feenix om fondse in te samel vir die Universiteit se #Action4Inclusion-inisiatief wat Maties se studenteskuld help afbetaal.

Nie alle studente wat finansiële hulp benodig, ontvang voldoende befondsing vir hul studie nie en hulle ervaar dikwels 'n tekort, wat tot die ophoping van skuld lei. Skuld word toenemend die grootste struikelblok vir heelwat studente in die hoër onderwys, en sommige word gedwing om hul studie te laat vaar omdat hulle nie die studentegeld kan bekostig nie.

Die #Action4Inclusion-inisiatief, in 2020 bekend gestel, is deur die Studenteraad, prof Thuli Madonsela, bekleër van die US Regstrust Leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid, prof Sonia Human, voormalige dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, en Maatskaplike Geregtigheid Ambassadeurs in die lewe geroep. Die fondse wat via #Action4Inclusion ingesamel word, word gebruik om studente te steun wat weens die uitstaande studiegeld nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie, asook vir gegradueerdes wat na afloop van hul studie nie toegang tot hul akademiese rekords kan kry nie, wat hul vermoë belemmer om tot 'n talentvolle werksmag by te dra.

“Die Universiteit Stellenbosch glo vas dat geen verdienstelike student op grond van dié se finansiële posisie toegang tot hoër onderwys geweier behoort te word nie," sê prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier.

Hy gaan voort: “Die US wys jaarliks 'n aansienlike gedeelte van die instansie se inkomste – afkomstig uit staatsubsidies en studentegelde – aan studentebeurse toe. Die Universiteit ervaar egter toenemende finansiële druk omdat staatsubsidies aan universiteite geleidelik afneem. Beduidende bedrae uitstaande studenteskuld vererger ons kommer, aangesien ons nie die geld kan afskryf wat aan die Universiteit verskuldig is nie, juis omdat dit van kritiese belang vir die voortsetting van ons bedrywighede is.

“Daarom help bydraes tot #Action4Inclusion eerstens om talentvolle studente se finansiële laste te oorkom, wat hulle die geleentheid bied om 'n professionele loopbaan te volg sonder die las van studenteskuld, en tweedens om die US se volhoubaarheid as 'n instelling te verseker," verduidelik prof De Villiers.

Prof Thuli Madonsela sê, “Die nood van universiteitstudente wat oorlaai word deur studieskuld is werklik kommerwekkend. Verskeie studente uit agtergronde met onvoldoende hulpbronne sukkel om hul universiteitsgelde te betaal en loop dikwels die risiko om uit te val. Deur die #Action4Inclusion-veldtog wil ons die akademiese insluiting van al ons studente verseker deur hul skuld uit te wis.

“Ek is oortuig daarvan dat 'n gebrek aan finansiering nie sukses moet belemmer nie en dat toegang tot opvoeding nie van welvaart moet afhang nie. Saam kan ons studente help om hul graad sonder die skuldlas te behaal. Daarom daag ek alle US-alumni, lede van die publiek, maatskappye, en groot nyweraars uit om 'n 'demokrasie-dividend' te skenk aan jongmense wat daarna streef om 'n universiteitskwalifikasie te behaal."

Feenix is in Junie 2017 bekendgestel in antwoord op die #FeesMustFall-beweging wat in 2015 en 2016 oor kampusse in Suid-Afrika versprei het. Sedert die bekendstelling daarvan in 2017 is meer as R80 miljoen op die platform ingesamel vir die studieskuld van meer as 2 131 studente. Feenix verbind studente wat universiteitsgelde verskuldig is, met potensiële befondsers om hulle te help om geld in te samel via 'n aanlyn skarebefondsingsplatform.

Diegene wat wil bydra en die las van studenteskuld wil vergemaklik, kan https://feenix.org/campaign/78 besoek. Daar kan jy kies om 'n individuele student te ondersteun of 'n donasie te gee aan die oorhoofse #Action4Inclusion-veldtog. Al die fondse wat ingesamel word, word direk aan die Universiteit oorbetaal.