Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ex-Cell-werksessie help rus jeuggevangenes toe vir die sakewêreld
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 06/08/2021

​Die suksesvolle implementering van die Ex-Cell-werksessie, 'n proefprogram van die Skool vir Rekeningkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) in vennootskap met die korrektiewe sentrum Drakenstein naby die Paarl, bewys dat gevangenes ondersteun kan word om ná hulle vrylating 'n bestaan in die sakewêreld te maak.

Die vyf dae lange werksessie is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en is in Mei aangebied vir 20 jeugdeelnemers van die Drakensteinsentrum wat binnekort vir parool in aanmerking kom. Dié eerste Ex-Cell-kohort beskik nou oor die vaardighede om 'n onderneming te begin of werk te kry.

Die Ex-Cell-program is 'n sosiale-impakprojek deur Juan Ontong, Sher-Lee Arendse en Ilse Frans, personeellede van die Skool vir Rekeningkunde in die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Hulle werk in vennootskap met die Departement van Korrektiewe Dienste sowel as personeellede van die Fakulteit Regsgeleerdheid en die Ubuntu-leergemeenskap.

Volgens Ontong is die projek geskep in antwoord op die probleme wat diegene op parool ondervind om werk te kry omdat hulle misdaadgeskiedenis, 'n sukkelende ekonomie en 'n hoë werkloosheidsyfer dikwels teen hulle tel. Ontong, Arendse en Frans is oortuig dat hierdie dilemma opgelos kan word indien gevangenes, veral die jeug, vaardigheidsopleiding ontvang voordat hulle vrygelaat word en na die buitewêreld terugkeer. Die drie het die korrektiewe sentrum Drakenstein as hulle proefterrein gekies vanweë die groot groep jeug wat daar gevange gehou word.

Die projekontwerp draai daarom om jongmense deur betrokke akademieskap 'n transformerende leerervaring te bied ten einde die samelewing op 'n volhoubare wyse te verbeter. Die projek berus voorts op die waardes en strategiese temas van die US se Visie 2040 en die Nasionale Ontwikkelingsplan deur opvoedkundige en ekonomiese geleenthede vir die jeug te bevorder. Alle belanghebbendes leer boonop by mekaar en ruil idees, ervarings en kennis uit.

Die eerste Ex-Cell-werksessie is deur die drie personeellede van die Skool vir Rekeningkunde en hulle kollegas, dosente Cecileen Greef, Lee Ann Kelly en Orlando van Schalkwyk, aangebied. Hulle het 'n wye verskeidenheid sake-onderwerpe behandel, waaronder die ontleding van 'n sake-idee, marknavorsing, SWOT-ontleding, begroting en finansieringsgeleenthede, etiese oorwegings, bemarking, krisisbestuur en konflikbeslegting. 'n Deel van die program het ook oor die werksoekproses, die skryf van 'n CV en voorbereiding vir 'n werksonderhoud gehandel. Studente het op die laaste dag van die program hulle eie sakeplanne voorgelê en daarna 'n Ex-Cell-voltooiingsertifikaat ontvang.

Die aanbieders glo die waarde van die werksessie is daarin geleë dat dit studente se vermoë verbeter om hulle 'tweede kans' so goed moontlik te benut wanneer hulle weer by die samelewing inskakel. Die werksessie vul ook Drakenstein se rehabilitasieproses aan, stel persone op parool in staat om in die sakewêreld te oorleef, en verhoed dat hulle na hulle ou weë terugkeer.

“Party studente is ware entrepreneurs met goeie sake-idees, maar het nie noodwendig die vaardighede en kennis om dit uit te voer nie," sê Greeff. “Ons het hulle gewys hoe om hulle idees te verwesenlik en in 'n suksesvolle onderneming te omskep." Arendse is op haar beurt beïndruk met hoe interaktief en betrokke die deelnemers was: “Hulle was gretig om te leer, en opgewonde om sakevaardighede te ontwikkel."

Ontong reken diegene wat die werksessie voltooi het, kan gemeenskapsleiers word én ambassadeurs vir die onderwys as 'n manier om lewens te transformeer en die samelewing ten goede te verander. “Die projek bied ook heelwat geleenthede vir toekomstige samewerking met belanghebbendes in die sakewêreld, en uitbreiding na ander korrektiewe fasiliteite," sê Ontong. Die volgende werksessie word vir Januarie 2022 beplan. Verdere inligting sal binnekort bekend gemaak word.

Fotobanier: Sowat 20 jong mans wat by die korrektiewe sentrum Drakenstein naby die Paarl gevange gehou word, het in Mei die Ex-Cell-werksessie, 'n baanbrekersprojek van die Universiteit Stellenbosch, bygewoon.

Let wel: Die Departement Korrektiewe Dienste het die foto's vir publikasie goedgekeur.