Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-alumnus onderkaptein van SA Olimpiese manshokkiespan
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 26/07/2021

Die Universiteit Stellenbosch-alumnus Keenan Horne, 29, is die onderkaptein van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan wat tans aan die 2021 Somer Olimpiese Spele in Tokio, Japan deelneem. Tydens die Spele sal Horne as doelskieter speel en 'n belangrike leierskapsrol vervul in die bestuur van die span.

Horne het met 'n BCom Regte-graad gegradueer in 2014 en het ook 'n LLB en LLM aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal. Hy het uiteindelik begin werk as kandidaatprokureur by Mostert en Bosman. Vir die duur van sy studies aan die US was hy 'n uitblinker-lid van die veldhokkiespan van Maties.

“Ek was die eerste lid van my gesin wat aan die US studeer het. Omdat ek so bevoorreg was wou ek my familie trots maak deur akademies sowel as op die sportveld uit te blink. Omdat ek glo dat akademie en sport mekaar aanvul was daar geen tyd om te ontspan nie. Ek is van nature 'n gestruktureerde persoon en deur my tyd te beplan en effektief te bestuur kon ek die regte balans handhaaf," verduidelik Horne.

Hy put sy motivering uit sy familie en poog om hulle trots te maak in die lig van hul opofferings en toewyding tot sy opvoeding.

“Toe ek die geleentheid kry om BCom Regte te studeer was dit 'n geleentheid om die greep van geslagte van benadeling op my ouers te breek. Deur hul toewyding om aan my 'n kwaliteit-opvoeding te gee was ek in staat om op alle vlakke te presteer."

Onder Horne se prestasies tel dat hy vanjaar cum laude geslaag het aan die US. In 2018 het hy deelgeneem aan die Statebond Spele in Australië en het hy die Rektorstoekenning vir Sportprestasie ontvang.

“Terwyl ek op universiteit was het ons 6vm sessies in die gimnasium gehad en direk daarna sou ek klasse bywoon. In my eerste jaar het ek 11 vakke gehad, so ek was altyd besig. Om 'n gestruktureerde ingesteldheid te hê was noodsaaklik om daardie verantwoordelikhede te balanseer, maar aangesien ek hokkie sowel as die akademie geniet het, was dit nie oorweldigend nie," sê hy.

Hy erken dat hy deurlopend hard moes werk en die nodige opofferings moes maak om die nasionale span te haal. Hy het 'n buitengewone roete gevolg om die span te haal en daardeur die Olimpiese Spele. Met harde werk het hy die nasionale span gehaal ten spyte daarvan dat hy aanvanklik vir die Westelike Provinsie se B-span gespeel het.

“Ek het die nasionale o.21 mansspan gehaal en ons het meegeding by die Junior Wêreldbeker in Indië. In die volgende jaar het ek die WP B-span gehaal. Maar in 2014 het ek wel die nasionale span gehaal omdat ek uitgeblink het in die WP B-span. Ten spyte van my jong ouderdom het vasberadenheid en doelgerigtheid my 'n plek in die nasionale span verseker."

Jeug-bemagtiging is baie belangrik vir Horne en hy het dus 'n sport-inisiatief van stapel gestuur in die Kraaifontein gemeenskap om die volgende geslag te bemagtig. Hy moedig studente en student-atlete aan om hul unieke vermoëns te waardeer en sê dat talent nooit harde werk kan vervang nie.

“My raad aan my mede-Matie student-atlete en studente in die algemeen is om altyd dit wat jy het uit te bou. Moenie fokus op wat ander het en jouself teen daardie standaard meet nie, maar benut jou vaardighede. Die belangrikste ding is om 'n doel in die lewe te hê, want motivering en ambisie spruit uit wat jy glo jou doel is. Met 'n duidelike doelwit kan jy enigiets bereik." 

Foto's: Verskaf