Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Linda Visser neem die voortou by die Afdeling Oftalmologie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 22/07/2021

Daardie warm gevoel wyk nooit nie: Dis nou wanneer jy die vreugde op 'n pasiënt se gesig sien die oomblik wat dit insink dat hul ná 'n katarak- of retinaloslating-operasie weer kan sien.

“En is dit nie merkwaardig dat twee mense weer ekonomies aktief kan raak ná 'n klein prosedure soos 'n katarakoperasie van twintig minute nie? Sowel die persoon met die katarak as die persoon wat hom moes oppas omdat hy blind was, kan dikwels weer teruggaan werk toe."

Aan die woord is prof Linda Visser (57), wat onlangs aangestel is as hoof van die Afdeling Oftalmologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

Dis die eerste keer wat sy haar voltyds in die Kaap bevind.

Visser, die middelkind van 'n siviele-ingenieur-pa en pianis-ma, het haar grootwordjare grotendeels in Pretoria deurgebring. Sy het voorgraads aan die Universiteit van Pretoria studeer, met haar nagraadse spesialisasie aan die Departement Oftalmologie van die Universiteit van KwaZulu-Natal. Daar het sy aangebly vir dertig jaar – die laaste vyftien jaar as hoof van die departement.

Sy vertel met 'n laggie hoe haar ortopeed-oom in haar vierde jaar van medies ietwat chauvinisties opgemerk het dat vroue nie ortopedie moet doen nie maar eerder oogheelkunde omdat dit maklik genoeg is vir hulle. “Dis net daar wat ek besluit het ek gaan hom verkeerd bewys."

Sy het egter net ses maande by ortopedie gehou. “Ek het gou besef dat ek fyner chirurgie verkies bo werk met hamers en beitels."

Sy was nog nooit spyt nie, al is daar heelwat uitdagings.

“Oftalmologie word beskou as 'n klein afdeling van geneeskunde omdat die oog klein is," sê Visser. “Daarom word dié spesialisgebied gereeld afgeskeep, onderskat en onderbefonds en teaterlyste ook meer as ander spesialisgebiede ingeperk in krisistye soos Covid-19. Min mense besef dat katarakchirurgie wêreldwyd meer as enige ander chirurgie gedoen word en ook die mees koste-effektief is."

Nog 'n uitdaging is die eksponensiële toename in diabetes. “Die grootste komplikasie van die onderbehandeling van diabetes is diabetiese retinopatie, wat tot blindheid by jongmense lei. En dan is daar natuurlik ook twee verdere groot probleme – trauma en MIV – wat albei tot blindheid kan lei. Die oog word as 'n sagte teiken in interpersoonlike geweld en veral gendergebaseerde geweld gesien," verduidelik sy.

Dit was juis om hierdie rede dat gendergebaseerde geweld uitgelig is in die Jerusalema-dansroetine waarmee sy en oudkollegas die KwaZulu-Natalse Gesondheidsdepartement se Jerusalema-uitdaging gewen het. “Om uit te staan het ek voorgestel dat ons ander kulture se danstipes inkorporeer – dus ook ballet en Indiese danse," sê Visser, 'n kranige balletdanser wat ook klavier en saksofoon speel. Buiten gendergebaseerde geweld is die agterstand in katarakchirurgie in die staatsektor ook hiermee uitgelig, terwyl die aandag terselfdertyd gevestig is op die McCord Provinsiale Ooghospitaal deur in verskillende dele daarvan – onder meer die teater – vir die video-opname te dans.

Visser doen hoofsaaklik vitreoretinale chirurgie en stel lank reeds belang in die hantering van retinale komplikasies van MIV, veral CMV-retinitis, asook progressiewe buitenste retinale nekrose (PORN), toksoplasmose en TB. 

Omstreeks 2008 het Suid-Afrika deel geraak van die derde golf van retinopatie van prematuriteit (ROP) en moes sy noodgedwonge daaroor begin navors. “Meer onlangs het diabetiese retinopatie so erg begin toeneem dat ek ook hieroor navorsing begin doen het."

Visser is raadslid van die World Sight Foundation. Sy is betrokke by die internasionale organisasie ICROP-3, wat onlangs die nuwe klassifikasie van ROP publiseer het, asook SIBA (Stop Infant Blindness in Africa), wat ROP in Afrika suid van die Sahara pak. Daarbenewens is sy lid van die Vision Academy, 'n groep internasionale vitreoretinale spesialiste wat jaarliks ses of sewe onderwerpe in die retinale omgewing navors en gesamentlik 'n artikel oor elk publiseer. 

“Ek het nog altyd in tale belanggestel," sê sy oor die feit dat sy buiten Afrikaans en Engels ook in Italiaans, Spaans en 'n bietjie Zoeloe oor die weg kan kom.

Haar ouer suster is 'n sielkundige in die Kaap, waarheen haar ma ook getrek het toe haar pa twee jaar gelede oorlede is. Hul narkotiseur-broer woon in Engeland.

Visser beplan nie enige groot veranderings in haar nuwe werkomgewing nie.

“Die kliniese onderrig kan dalk effe verbeter, en ek sou ook graag samewerking met ander departemente, soos aan die Universiteit van Kaapstad, wou aanmoedig. Verder wil ek net voortbou op die goeie grondslag wat reeds ten opsigte van voorgraadse leer en onderrig asook navorsing aan die US bestaan."