Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gevierde vakkundige sluit by US aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 14/07/2021

Die internasionaal- en nasionaal-gevierde vakkundige, prof Kopano Ratele, het hom onlangs by die Departement Sielkunde in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit.

Hy is die voormalige direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Navorsingseenheid vir Mans, Verwonding en Geweld en professor aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy die hoof van die Kruisdissiplinêre Afrika-sielkundeprogram was.

“Prof Ratele is een van die mees vooraanstaande en gerespekteerde akademiese sielkundiges vandag in Suid-Afrika. Sy akademiese skryfwerk het nie net 'n invloed op die sielkunde in Suid-Afrika gehad nie, maar ook op die sosiale en geesteswetenskappe in die algemeen," sê prof Lou-Marié Kruger, voorsitter van die US se Departement Sielkunde. “Ons is inderdaad bevoorreg dat iemand van sy statuur by die departement aansluit, juis op 'n tyd waarin ons daarop fokus om nie net die departement nie, maar ook die vakgebied te transformeer. Ons sien uit na sy bydraes, veral na die vestiging van sy voorgestelde interdissiplinêre sentrum, die Sentrum vir Kritiese en Kulturele Sielkunde, en 'n voorgestelde nuwe akademiese program, 'n meestersgraad in Kritiese sielkunde.

Ratele fokus in sy navorsing, onderrig, sosiaal-politiese aktivisme en gemeenskapsmobilisasie op mans en manlikheid, Afrika-sielkunde, geweld, seksualiteit, vaderskap en ras. Hy het reusebydraes op hierdie gebiede gelewer deur beide empiriese navorsingsprojekte (dikwels samewerkend en kruisdissiplinêr) en teoretiese weerspieëling.

“Hierdie onderwerpe spreek sommige van die kernkwessies aan wat die Suid-Afrikaanse samelewing tans in die gesig staar, asook die rol en selfbegrip vir sielkunde binne hierdie samelewing: geslagsgebaseerde en ander vorme van geweld, ras en rassisme en die transformasie van die sielkunde op maniere wat dit in staat sal stel om meer betekenisvol met die psigososiale werklikhede en uitdagings van ons tyd en spesifieke konteks om te gaan," sê Kruger.

“Gegewe sy agtergrond en voortgesette werk, gaan Ratele vir seker 'n reusebydrae as navorser, dosent en openbare intellektuele in die departement maak. Hy is nie net 'n gevierde en baie produktiewe akademiese sielkundige wat tot die aansien en produktiwiteit van die departement sal bydra nie, maar hy beskik ook oor aansienlike kundigheid en 'n dinamiese akademiese netwerk. Hy sal help om ons navorsing en besprekings oor onderwerpe soos mans en manlikheid en ras en rassisme te verdiep en sal 'n rolmodel en inspirasie vir studente en kollegas wees."

“Ek het die sielkunde meer as 'n dekade gelede verlaat omdat dit, om dit eenvoudig te stel, my tot raserny gedryf het – 'n toestand wat by talle sielkundiges en sielkundestudente wat kritiese en skeppende geneigdhede het, aanklank vind," sê Ratele.

“Toe ek dit oorweeg het om na die vakgebied terug te keer, het drie dinge oor die Universiteit Stellenbosch uitgestaan. Eerstens was dit die voortdurende pogings van die Universiteit, en spesifiek pogings binne die Departement Sielkunde, om krities na te dink oor die Universiteit en waarvoor vakgebiede bedoel is. Tweedens bestaan daar 'n ryk laag van kritiese en selfs anargiese denke by die US – dit is baie interessante denkers en makers saam met wie ek hoop om ruimtes vir intellektuele vreugde en werk met sosiale impak te skep. Derdens sien ek uit daarna om deel te wees van wat ek dink 'n gemeenskap sal wees wat van die opwindendste, oorspronklikste en kreatiefste geslagte sielkundiges en sielkunde-gegradueerdes in hierdie dekade sal oplei. Van wat ek sover gesien het, is Stellenbosch die beste plek om hierdie visie te ondersteun. Dit is miskien die belangrikste van al die feite," sê hy.

Prof Anthony Leysens, Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, sê: “Professor Ratele gaan nie net 'n bate vir die Departement Sielkunde wees nie, maar vir die hele fakulteit. Hy het 'n bewese rekord van inter- en kruisdissiplinêre navorsing en samewerking, wat kollegas in ons fakulteit insluit. Hy het die vermoë om die verhouding tussen die Departement Sielkunde en ander departemente in ons fakulteit te versterk en om navorsing wat beide sielkundige en dimensies van die sosiale wetenskappe insluit, te bevorder.

Ratele het al verskeie akademiese artikels en hoofstukke in saamgestelde volumes geskryf wat plaaslik én internasionaal verskyn het. Boeke waarvan hy redakteur was of geskryf het, sluit in There Was This Goat: Investigating the Truth Commission Testimony of Notrose Nobomvu Konile (2009, medeskrywer saam met Antjie Krog en Nosisi Mpolweni), Liberating Masculinities (2016), Engaging Youth in Activism, Research and Pedagogical Praxis: Transnational and Intersectional Perspectives on Gender, Sex, and Race (2018, mederedakteur saam met Jeff Hearn, Tammy Shefer en Floretta Boonzaier) en sy mees onlangse werk, The World Looks Like This From Here: Thoughts on African Psychology (2019).

“Hy het spesifiek veral met hierdie boeke homself nie net aan die voorpunt van empiriese navorsing in sy vakgebiede geplaas nie, maar het hom ook as 'n belangrike teoretiese stem en een van die sleutelfigure in debatte oor die vorming van sielkunde in post-apartheid Suid-Afrika gevestig," sê Kruger. “Hy is ook baie sigbaar as 'n openbare intellektuele wat dikwels bydraes tot die gedrukte media, blogs en radiobesprekings lewer."

Prof Ratele was 'n lid van die Ministeriële Komitee oor Transformasie in Suid-Afrikaanse Universiteite en sameroeper van die Nasionale Navorsingstigting se Spesialiskomitee vir die Sielkundige Keuringspaneel. Hy is 'n eertydse president van die Sielkundige Vereniging van Suid-Afrika en 'n voormalige voorsitter van Sonke Gender Justice.