Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ons moet mense opgewonde maak'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 29/06/2021

Adriaan Louw het dit nog altyd geniet om by die aktiwiteite van die Universiteit Stellenbosch (US), veral die Fakulteit Regsgeleerdheid, betrokke te wees. Hierdie Matie is gereeld by die virtuele wynproe- en netwerkgeleenthede in Europa te sien en lewer waardevolle insette as 'n vrywilliger.

“Ek het in my eerste jaar aktief betrokke begin raak en is nog steeds betrokke. Buiten vir my betrokkenheid by wat ookal vir die alumni in Duitsland gereël word, neem ek ook deel aan verskeie kleiner inisiatiewe wat deur my regsfirma en vriende aangebied word," sê hy.

Adriaan, 'n alumnus van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, verdeel sy tyd tussen sy huis in Frankfurt en sy kantoor in München. Wanneer hy nie werk of met die Duitse burokrasie stoei nie, reis hy, toets nuwe wyne saam met vriende, speel klavier en probeer Grieks onder die knie kry.

“Ek beskou my nie noodwendig as 'n vrywilliger in die volle altruïstiese sin van die woord nie, maar ek het dit nog altyd geniet om betrokke te wees."

Volgens Adriaan is mense oor die algemeen bereid om hulle tyd en talent aan 'n saak te skenk waarin hulle nie net glo nie, maar waaroor hulle geesdriftig voel. “Die meeste van ons glo, byvoorbeeld, dat armoede of wêreldwye hongersnood verlig moet word, maar dit neem meer as hierdie siening om ons tot optrede aan te spoor. Die konsep van 'n universiteit waar mense leer, groei en lewenslange herinneringe skep, maak my baie opgewonde. Dit is waarom ek by die alumni-aktiwiteite in Duitsland betrokke is. Ons moet mense opgewonde maak om hulle betrokke te kry."

Hy sê dat sommige van sy mooiste herinneringe binne die grense van Stellenbosch en die mure van die Ou Hoofgebou gevorm is. "Bo en behalwe die mense wat ek ontmoet het, die avonture wat ek aangepak het, die somerskool en my uitruilsemester in Duitsland (wat waarskynlik my huidige loopbaan moontlik gemaak het), het daar ook gekker goed gebeur. Ek onthou een aand het ek verby die Stellenbosch stadsaal gestap, waar die universiteit besig was om 'n geleentheid vir die internasionale studente aan te bied. Ek was nie genooi nie en heeltemal verkeerd aangetrek, maar 'n groot nood oortuig my toe om in te gaan. Die spesiale aanbod van 'R20 vir twee dubbele jenewers met kinawater' het my onvermydelik by die kroeg laat beland. Enkele ure later was ek op die verhoog, besig om 'n verwelkomingstoespraak te lewer en die dansbaan te open!"