Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oorweeg dit om jou tyd en talent te skenk
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/06/2021

Julien Wormser, voormalige internasionale uitruilstudent en nuwe voorsitter van die Europese tak van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB-) Alumnivereniging, sê dat hy min ondervinding van vrywilligerwerk het, maar dat hy hierdie rol geniet en gereed is om die Universiteit Stellenbosch se voetspoor in Europa uit te brei.

Hierdie sake- en strategiese ontleder, wat tans in Lyon, Frankryk, woon, het in 2003 ses maande lank aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool gestudeer. Hy sê dat hy aangename herinneringe aan sy tyd as 'n uitruilstudent koester.

“Daardie ses maande in Matieland het my oë oopgemaak en my gehelp om die rigting wat my lewe moet inslaan, te kies. Moenie net op jouself fokus nie, maar waag die kans en gaan uit en ontmoet die onbekende. Jy kan dalk struikel en misluk, maar moet nooit die geleentheid om te besin oor waarheen jy wil gaan en wie jy wil wees, misloop nie."

Julien werk tans daaraan om die Europese gemeenskap van USB-alumni te konsolideer. “Ek is daarvan oortuig dat die Universiteit Stellenbosch sy grense baie verder as slegs Stellenbosch kan versit, en dat alle Maties regoor die wêreld daartoe kan bydra."

Hy glo dat meer Maties dit behoort te oorweeg om van hulle tyd en talent te skenk. “Natuurlik moet meer mense by vrywilligerwerk betrokke raak. Ons behoort almal ons tyd in Matieland as die inleiding tot 'n lewenslange leerervaring te beskou. Wat ons van die Universiteit Stellenbosch af ontvang het, behoort teruggegee te word aan ons medemens en ander alumni. Op 'n manier is ons dit aan ons alma mater verskuldig en behoort ons dit terug te betaal."