Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekordgetal kwalifikasies in 2020 ondanks COVID-19 uitdagings
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 04/06/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy eie rekord verbeter vir die meeste kwalifikasies wat tot nog toe in 'n akademiese jaar by die instelling toegeken is. Volgens die jongste syfers het die Universiteit in 2020 altesaam 9 234 grade, sertifikate en diplomas verleen – en daarmee die vorige jaar se rekord van 9 133 kwalifikasies gebreek.

“Dít is 'n merkwaardige prestasie as 'n mens in ag neem hoeveel uitdagings die COVID-19-pandemie ingehou het," sê die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.

Toe kontakonderrig op universiteitskampusse landwyd in Maart 2020 opgeskort is om die verspreiding van COVID-19 te keer, het die US gereageer deur na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) oor te slaan.

“Die krisis het die vorentoeknoppie gedruk vir ons planne om stadig maar seker meer aanlyn en hibridiese elemente by ons leer-en-onderrigaanbod in te sluit. Wat ons van plan was om oor vyf jaar te doen, moes skielik binne vyf weke klaarkom," verduidelik prof De Villiers.

“Dit was 'n spanpoging duisend. Almal het hulle deel gedoen – van dosente wat hulle kursusse moes herontwerp, en studente wat aan uitsluitlike aanlyn klasbywoning en -assesserings moes gewoond raak, tot oorlaaide IKT-stelsels wat in rekordtyd opgegradeer moes word.

“Die US het meer as 1 700 skootrekenaars aangekoop, wat daarna op 'n bruikleengrondslag beskikbaar gestel is aan studente wat dit nodig gehad het. Omdat ons in 'n streng inperking was, het ons spesiale toestemming bekom dat koerierdienste die skootrekenaars by adresse oor die hele land kon aflewer. Die Universiteit het studente van mobiele data voorsien om te sorg dat hulle die internet kon gebruik. En ons het 'n toegewyde bystandswebtuiste geskep om studente met verskeie aspekte van die nuwe, aanlyn leer-en-onderrigbenadering te ondersteun.

“Assesserings het vir die eerste keer in die US se geskiedenis hoofsaaklik aanlyn geskied. Fakulteite en departemente, dosente en steunafdelings het binne 'n uiters beperkte tyd 'n uitsonderlike poging aangewend om te sorg dat eksamens kon voortgaan."

Dít alles het vrugte afgewerp by die Universiteit se eerste stel gradeplegtighede vir die akademiese jaar in Desember 2020, en 'n tweede stel in Maart/April 2021. Hoewel die getal kwalifikasies wat toegeken is aanvanklik effens minder was as in 2019, was dit duidelik dat sekere magister- en doktorale studente wat moes gradueer, weens die impak van COVID-19 gewoon nie hulle navorsing betyds kon voltooi nie. Hulle kon byvoorbeeld nie gedurende die strenger inperkingsvlakke veldnavorsing doen nie.

Om hierdie kandidate tegemoet te kom, is die sperdatum vir die indiening van hulle tesisse en proefskrifte tot 1 Maart 2021 uitgestel. Hulle fakulteite het hulle navorsing laat eksamineer, en het die uitslae teen 14 Mei ingedien. Verskeie eenhede van die Universiteit het daarna saamgewerk om toe te sien dat behoorlike oorsigbestuursprosesse gevolg word om die kandidate se uitslae te laat goedkeur – eers deur fakulteitsrade, en toe, op 25 Mei 2021, deur die uitvoerende komitee van die Senaat.

Danksy hierdie vergunning kon die US 'n bykomende 105 magister- en 31 doktorsgrade insluit by sy finale Hoëronderwysbestuursinligtingstelsel- (HEMIS-)verslag vir 2020 aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO). Die graduati sal geleentheid hê om die gradeplegtighede in Desember 2021 by te woon (indien COVID-19 dit toelaat).

Die bykomende kwalifikasies bring die US se totale getal magister- en doktorsgrade vir die akademiese jaar 2020 op onderskeidelik 1 316 en 302 te staan, en algehele kwalifikasies op 9 234. Altesaam 4 769 daarvan is op voorgraadse en 4 465 op nagraadse vlak verleen.

“Dít is van die hoogste syfers van alle universiteite in Suid-Afrika. Ons is trots daarop om met hierdie kwalifikasies 'n waardevolle bydrae tot die ontwikkeling van ons land, ons vasteland en die res van die wêreld te lewer," sê prof De Villiers.

'n Belangrike deel van die hoë studentesuksessyfers aan die US in 2020 was die uitgebreide steunprogram wat agter die skerms bedryf is. Dit het nie net die aanvanklike snelle oorskakeling na aanlyn leer en onderrig moontlik gemaak nie, maar ook die nuwe benadering vir die res van die akademiese jaar ondersteun.

Met finansiële bystand van die Michael & Susan Dell-stigting, die Oppenheimer-gedenktrust en die Harry Crossley-stigting kon die US sy vermoë uitbrei om bykomende opvoedkundige multimediamateriaal te ontwikkel en sy studente meer virtuele akademiese tutorbystand, mentorleiding, psigososiale steun en tegniese hulp te bied.

'n Toegewyde bystandswebtuiste is geskep om dosente met die oorskakeling na ERTLA te help, en daaglikse webinare is goed bygewoon.

Bykomende tutorbystand is aan 22 534 studente voorsien, en 'n spesiale kortkursus is ontwikkel om tutors se vaardighede te verbeter. Tutors het verslag gedoen dat die ekstra tyd saam met studente die druk op dosente verlig én beter onderrig en leer in die hand gewerk het, terwyl studente eweneens van die voordele van die bykomende steun getuig het.

Die US Taalsentrum het meer as 1 250 vertaalde podsendings vervaardig om Engelse leermateriaal in Afrikaans om te skakel om meertaligheid te ondersteun. Die Sentrum het ook webinare oor akademiese vaardighede aangebied, aanlyn lees- en skryfsteun voorsien, en intydse tolking vir dowe studente gebied.

“Geluk aan alle betrokkenes. Hierdie prestasies spreek boekdele vir die US se vermoë om aanpasbaar te wees in teenspoed én vir ons personeellede en studente se skrik-vir-niks-ingesteldheid," sê prof De Villiers.