Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bedreig die postwaarheidwêreld die toekoms van die wetenskap?
Outeur: Faadiel Essop
Gepubliseer: 06/05/2021

“Inentings" teen fopnuus kan help om die toekoms van die wetenskap in ʼn postwaarheidwêreld te verseker, skryf Prof Faadiel Essop (Departement Fisiologiese Wetenskappe / Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika) in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (5 Mei).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Faadiel Essop*

Feite hou nie op bestaan net omdat dit geïgnoreer word nie. – Aldous Huxley

Die aangestuurde WhatsApp-boodskap op my foon het dit uitbasuin dat 'n nadoodse ondersoek in Rusland aan die lig gebring het dat 'n bestraalde bakterie (en nie die SARS-CoV-2-virus nie) vir die COVID-19-pandemie verantwoordelik is en “mense se dood veroorsaak deur hulle bloed te laat stol". Die boodskap het skielik my moed in my skoene laat sak, want ek het besef die magdom soortgelyke vals plasings op sosiale media, tesame met die wyd verkondigde (dog uiters seldsame) bloedklont-newe-effek van Johnson & Johnson se COVID-19-entstof, sal die groeiende anti-entstofbeweging net verder aanstook.

Dit is kommerwekkend dat daar, aldus die Sentrum vir die Bestryding van Digitale Haat, tans nagenoeg 58 miljoen mense is wat anti-entstofgroepe op verskillende sosialemediaplatforms volg, welke syfer oor die volgende paar jaar na verwagting verder sal styg. Boonop het 'n onlangse Ipsos-opname in verskeie lande 'n bra louwarm houding jeens inenting teëgekom. Die bevindinge het byvoorbeeld getoon dat onderskeidelik slegs 40% en 53% van die Franse en Suid-Afrikaanse bevolking van plan is om ingeënt te word. Sulke onrusbarende pseudowetenskap en fopnuustendense, en die skadelike gevolge daarvan, opper 'n belangrike vraag: Sal die wetenskaplike proses hierdie aanslag oorleef, of sal die anti-entbrigade en ander samesweringsteoretici in 'n postwaarheidwêreld uiteindelik die septer oor die openbare domein swaai? 

Post-truth" was in 2016 die Oxford English Dictionary se woord van die jaar nadat dit 2 000% meer keer as die vorige jaar gebruik is. In internasionale verband beskryf postwaarheid 'n wêreld waar openbare menings en optrede deur emosies, gevoelens en persoonlike oortuigings in plaas van objektiewe feite bepaal word. Om dit nou maar prontuit te sê, hou die toenemende verontagsaming en verwerping van feite ernstige gevolge in vir die wetenskaplike proses, bewysgegronde geneeskunde, en die wyer impak daarvan. Daarom is dit in die postwaarheidwêreld noodsaaklik om na te dink oor die omskrywing van die woord “feit", wat die Oxford English Dictionary aandui as “iets wat as waar aanvaar word, veral as dit bewys kan word".

​Die hedendaagse wetenskap is sterk gegrond op die idees van die filosoof Karl Popper, wat aangevoer het dat wetenskaplikes alles moontlik moet doen om 'n bepaalde teorie te weerlê. Popper het gesê dat indien 'n bepaalde teorie ná herhaalde pogings nie weerlê kan word nie, dit waar moet wees. As ons byvoorbeeld die teorie sou wou bewys dat Kersvader werklik bestaan, moet ons volgens die Popperiaanse benadering alles moontlik probeer doen om sy bestaan te weerlê of as vals te bewys. 'n Mens sou dus met verskeie waarnemings vorendag kon kom om die teorie “Kersvader bestaan werklik" te weerlê, soos om die hele Oukersnag deur die skoorsteen dop te hou om te bevestig dat hy werklik die hoop geskenke onder die Kersboom met sy takbokke kom aflewer het, en dies meer. Indien die sender van die WhatsApp-boodskap oor die Russiese nadoodse ondersoek hierdie beginsel toegepas het, sou dit daarom heel maklik as fopnuus weerlê kon word, en sou dit waarskynlik nié soos 'n veldbrand op sosialemediaplatforms versprei het nie.

Dít is dan die grondslag van die wetenskaplike proses. In die wetenskap gebruik die skerpste intellekte die mees robuuste waarnemingsgereedskap en -toerusting wat in daardie stadium beskikbaar is om betroubare en afdoende bewyse noukeurig te versamel, wat uiteindelik 'n “wetenskaplike feit" of “waarheid" bevestig, soos dat die aarde rond is of dat 'n appel ooreenkomstig die swaartekragwet op die grond val. Die wetenskaplike proses van feite-insameling deur noukeurige waarneming en proefneming word deur 'n menigte navorsers onderneem, wat dikwels onafhanklik van mekaar in verskillende laboratoriums wêreldwyd werk. Hulle bevindinge word dan aan 'n streng portuurbeoordeelde proses van diepgaande kritiek deur verskeie kenners op die gebied onderwerp om die geloofwaardigheid daarvan te bepaal.

Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.