Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ultramoderne simulasie-eenheid bevorder gesondheidswetenskappe-onderrig by die US
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 03/05/2021
 

ʼn Splinternuwe Simulasie- en Kliniese Vaardighede-eenheid (SKVE) met voorpunt-tegnologie is onlangs amptelik by die Universiteit Stellenbosch (US) se Tygerberg-kampus in Kaapstad geopen.

Hierdie ruim nuwe fasiliteit by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) spog met simulasiekamers met hoëtegnologie- mediese modelle en poppe; ʼn gesimuleerde hospitaalsaal en konsultasiekamers; asook moderne onderriglokale toegerus met hoёtegnologie-videotegnologie om studente te help om die kliniese vaardighede te ontwikkel wat van deurslaggewende belang vir gesondheidsberoepe is.

“In ons missieverklaring verbind die FGGW homself daartoe om ʼn transformerende leerervaring aan studente te bied. Hierdie ultramoderne fasiliteit help om hierdie doelwit te bereik deur die ondersteuning van die opleiding van wêreldklas-gesondheidsorgpraktisyns wat toegerus is om ons gemeenskappe te dien," sê prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW. 

Gesondheidspraktisyns het talle praktiese vaardighede nodig, bekend as kliniese vaardighede. Dit wissel van die ondersoek van pasiënte en die trek van bloed, tot doeltreffende kommunikasie met pasiënte en hul geliefdes. Die SKVE bied ʼn veilige ruimte waar hierdie kliniese vaardighede onderrig, geoefen en geassesseer kan word voor studente hospitale of klinieke betree waar hulle met regte pasiënte moet werk. ʼn Unieke eienskap van die SKVE is sy interprofessionele ontwerp, wat opleiding aan studente van al ses die FGGW se voorgraadse programme bied.

“Simulasie-gebaseerde onderwys is ʼn sleutel-eienskap van al ons voorgraadse en die meeste van ons nagraadse programme," verduidelik prof Susan van Schalkwyk, Direkteur van die Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys (SGBO). “Simulasie het ʼn lang geskiedenis in gesondheidsberoepe-onderwys, maar het veral in die afgelope jare na vore getree om die opleiding van gesondheidsorgpraktisyns in ʼn beheerde leeromgewing te bevorder."

Die nuwe fasiliteit is ʼn uitbreiding van die FGGW se bestaande Kliniese Vaardighede-laboratorium, wat in 2000 tot stand gebring is en steeds gebruik word. “Die toename in studentegetalle in ons programme en groter bewustheid van pasiёntveiligheid het die behoefte aan meer ruimte en toerusting vir kliniese simulasie meegebring," verduidelik dr Elize Archer, Hoof van die SKVE.

“Hierdie nuwe ruimte is gebou om aan die behoeftes van die 21ste eeu te voldoen," sê Archer. Realistiese simulasies van mediese scenario's kan herskep word deur gebruik te maak van hoogs lewensgetroue mediese poppe wat simptome kan toon, waarvan die lewenstekens kan fluktueer en wat selfs op behandeling kan reageer. Hierdie simulators word gebruik om tegniese én nie-tegniese vaardighede, soos spanwerk en kommunikasie, te ontwikkel. Kamerkameras wat video's kan stroom maak dit moontlik om die scenario's virtueel te volg en te assesseer, wat interaksie met, nabetragting deur en ondervraging van studente en kundiges enige plek ter wêreld fasiliteer.

“Een van my gunsteling-aspekte van die SKVE is die geleentheid om lewensreddende noodprosedures te oefen in ʼn omgewing waar ons nie onsself of die pasiënte sal kompromitteer nie," sê Azhar Nadkar, ʼn finalejaar- mediese student aan die FGGW.

“Oor die algemeen strek die nuwe tegnologiese moontlikhede van hierdie area aansienlik verder as die grense van hoe kliniese vaardighede onderrig word," sê Archer.

Alle onderwys- en leeraktiwiteite by die SKVE word onderskraag deur gevestigde onderwyspraktyke om gesondheidswetenskappe-studente ten beste toe te rus met ʼn geïntegreerde stel tegniese en nie-tegniese vaardighede om hulle vir die kliniese omgewing voor te berei.

“Noudat ek met kliniese praktyk begin het, besef ek die volle waarde wat die SKVE aan my gebied het. Die simulasie-ervarings het my ongelooflike selfvertroue in regte kliniese situasies gegee," sê Philwe Msweli, ʼn derdejaar- verpleegkundestudent.

Klik hier vir foto's, klankgrepe en rou videomateriaal


Onderskrif: Studente neem deel aan ʼn kliniese les. 

Foto-erkenning: Damien Schumann